Monday, December 5, 2022
HomeMagazinesONkruidjie-roer-my-nie: Voor- en nadele van bosverdigtingbeheer

ONkruidjie-roer-my-nie: Voor- en nadele van bosverdigtingbeheer

Estimated reading time: 3 minutes

Bosverdigting is ’n term wat die toestand van veld beskryf wanneer inheemse bosse en bome sodanig toegeneem het, dat byna alle ander plantegroei deur enkele inheemse soorte verplaas is. Die grootste oorsaak van bosverdigting is oorbeweiding deur grasvreters, wat ’n menslike faktor gekoppel aan veral veeproduksie is.

Droogtes sal verswarend wees vir plase wat oorbewei is, want heinings verhoed dat vee en verskeie wildsoorte kan migreer, terwyl ‘n drastiese vermindering van veegetalle ekonomiese nadele vir die produsent inhou.

Waarom bosverdigtingsbeheer?

Grasse ly eerste onder oorbeweiding en/of droogte, en weens die verswakte toestand van die graskomponent, word ruimte geskep vir meer inheemse bosse en bome as normaal.

Nog ’n nadeel van min gras (lae biomassa) is dat dit beheerde brande as ’n metode om bosverdigting te bestuur, uitskakel. Daarby neem gronderosie deur water en wind ook toe, omdat die gras se digte, vlak wortelstelsel, wat vir die stabilisering en behoud van bogrond nodig is, uitgedun raak.

Dit maak dus sin om bosverdigting te probeer beperk ten einde die graskomponent behoue te laat bly, te herwin of te verhoog en daardeur die volhoubaarheid van veeproduksiestelsels te bevorder. Vanuit die oogpunt van omgewings- en natuurbewaring, behoort die meegaande, belangrike vraag te wees: Wat is die ideale verhouding tussen grasse en struike/bosse/bome?

Ons kennis van die historiese toestand van natuurlike veld strek net so ver terug as wat vroeë ontdekkingsreisigers se skrapse beskrywings en foto’s toelaat. Sulke kennis het ongetwyfeld waarde, maar die strewe na die sogenaamde ‘natuurlike veldtoestand’ word grootliks deur hedendaagse menslike strewes soos vee- en wildboerdery ongedaan gemaak.

Chemiese beheer van bosverdigting

Die moeilike besluit oor veevermindering en die afwesigheid van brand as metode om probleemplante in toom te hou, maak die gebruik van onkruiddoders (bos- en boomdoders) nie net aantreklik nie, maar dikwels die enigste opsie.

Die hoë koste verbonde aan meganiese beheer (afkap, verwydering, verwerking, ens.) van probleemplante is dikwels nie ekonomies regverdigbaar nie, wat die gebruik van chemiese beheer (onkruiddoder) verder motiveer. Ongeag die beheermetode, moet die fundamentele oorweging wees hoeveel bosse en bome behoue moet bly vir ’n gesonde, gebalanseerde ekostelsel.

Die mees ekonomiese manier om onkruiddoders op groot skaal toe te dien, is met vliegtuigbespuiting. Met die regte keuse van onkruiddoders kan ’n mate van selektiewe plantbeheer met vliegtuigbespuiting bereik word, soos die doodmaak van bosse en bome, terwyl grasse ongeskonde bly. Die kruid- en struik-komponente gaan egter ook in die slag bly, omdat die gemiddelde bos- en boomdoder slegs tussen grasse en breëblaarplante as ’n kollektief kan onderskei. Daar bestaan nie onkruiddoders wat só fyn kan onderskei nie.

Plante wat as kruide geklassifiseer word, is dikwels belangrike medisinale plante vir mens en dier, en het’n betekenisvolle plek in enige veldomgewing. Die handstrooi van onkruiddoderkorrels en spuite wat deur mense op grondvlak hanteer word, is meer selektief as lugbespuiting, maar duurder en arbeidsintensief.

Aanwysers van swak grondbestuur

Regulasie 16A van die Nasionale Biodiversiteitswet, 2014 (Wet 3 van 2014) handel oor plante wat as ‘aanwysers van bosverdigting’ geklassifiseer word. Let wel, dié plante is as sulks nie die probleem nie, maar word beskou as simptome en aanwysers van swak grondbestuur. Hierdie lys verskyn in die boek Probleemplante en indringeronkruide van Suider-Afrika deur Clive Bromilow, uitgegee deur Briza Publikasies. – Prof Charlie Reinhardt, Universiteit van Pretoria

Must Read

Moth damage to potatoes is on the rise

Estimated reading time: 3 minutes The incidence of moth damage to potatoes has increased in the main production areas. This damage can be attributed...