ONkruidjie-roer-my-nie: Verdigterplante kan ook reddingsplante wees

315
reddingsplante
Sekelbos

Estimated reading time: 4 minutes

  • Verskeie inheemse boom- en struiksoorte is uiters waardevol vir mens en dier, hoewel hulle in die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteitswet, 2004 (Wet 10 van 2004) op die lys van aanwysers van bosverdigting verskyn.
  • Die lys bevat 60 inheemse boomsoorte, waaronder 26 doringboomsoorte en ander welbekendes soos soetdoring, sekelbos, ghwarriebos, rosyntjiebos, blinkblaar-wag-’n-bietjie, mopanie en rooibos.
  • Sekelbos (Dichrostachys spp.) se peule is voedsaam en gesog onder vee en wild.
  • Vee vreet beide lewende en dooie mopanieblare, en in droë dele en droogtetye is dit ’n belangrike voedselbron.
  • Ten slotte word omsigtige optrede om bosverdigting te bekamp, bepleit. Die probleemsituasie het dekades geneem om te ontstaan en dit is wensdenkery om bosverdigting in een, twee of selfs drie jaar ongedaan te probeer maak.

In ’n vorige artikel is verduidelik dat ‘bosverdigters’ verwys na inheemse boom- en struiksoorte wat plek-plek oormatig verdig. Die beskrywing ‘reddingsplant’ kry ek van my oorlede vriend en unieke botanis/ekoloog, Hans Vahrmeijer.

Verskeie inheemse boom- en struiksoorte is uiters waardevol vir mens en dier, hoewel hulle in die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteitswet, 2004 (Wet 10 van 2004) op die lys van aanwysers van bosverdigting verskyn. Hierdie lys bevat 60 inheemse boomsoorte, waaronder 26 doringboomsoorte en ander welbekendes soos soetdoring, sekelbos, ghwarriebos, rosyntjiebos, blinkblaar-wag-’n-bietjie, mopanie en rooibos.

Hierdie boomsoorte het almal belangrike voedings- en medisinale waarde vir mens en dier, en kan as ‘reddingsplante’ beskou word, ten spyte van hul status as bosverdigtingaanwysers.

Sekelbos

Sekelbos (Dichrostachys spp.) se peule is voedsaam en gesog onder vee en wild. Selfs grasvreters benut die blare en takkies. In die Krugerwildtuin word sekelbosverdigting met beheerde veldbrande bestuur. Op plase is dit egter so ’n algemene probleem, dat verskeie onkruiddoders daarvoor geregistreer is.

Lees meer oor onkruidverspreiding deur saad.

Mopanie

Mopanie (Colophospermum mopane) is beperk tot die noordelike Laeveld en noord van die Soutpansbergreeks. Nes sekelbos is die hout egter landswyd gewild as braaihout. Vee vreet beide lewende en dooie mopanieblare, en in droë dele en droogtetye is dit ’n belangrike voedselbron. Die mopaniewurm is natuurlik ook ’n voedselbron vir mens en dier.

Swarthaak

Swarthaak (Senegalia [Acacia] mellifera) is dikwels die hoofteiken van beheer met onkruiddoders waar dit in Namibië, die Noord-Kaap en Noordwes, tot in die westelike dele van Limpopo voorkom. In toestande van oorbeweiding vermeerder en verdig swarthaak maklik tot moeilik deurdringbare ruigtes.

Swartrenosters verkies swarthaakruigtes vir skuiling en kos, maar toegang vir sagvellige mense en diere is beperk. Blomme, peule, blare en jong takkies is baie voedsaam en word deur vee én wild benut. Dit is een van die min somerplantsoorte wat reeds in Julie/Augustus begin blom en blare vorm – dus wanneer min veldkos beskikbaar is.

Swarthaak word meestal beheer met onkruiddoders wat met ’n vliegtuig toegedien word. ‘n Onderskeid tussen teiken- en nie-teiken bome, struike en kruidagtiges is dus nie moontlik nie en lei dikwels tot moeilik-herstelbare skade aan die veld.

Lees meer oor die voor- en nadele van bosverdigtingbeheer.

Soetdoring

Charles Rubidge, ’n afstammeling van die Britse setlaars, het in 1840 in die Graaff-Reinet-distrik met Merinoskape begin boer. Joan Southey, ’n boorling van die Groot Karoo, beskryf in haar boek, Footprints in the Karoo (1990), dat soetdoringbome (Vachellia [Acacia] karoo) skaars was in Rubidge se tyd, maar omdat dit sy passie was om bome vanaf saad te vestig, het hy in 1853 soetdoringsade gesaai. Southey noem dat soetdoring in die bestek van ongeveer 175 jaar tot so ’n mate op die plaas toegeneem het, dat dit op plekke ondeurdringbare ruigtes vorm en takke onderlangs verwyder moet word om skadu vir vee te voorsien.

Soetdoring het egter verskeie uitstaande eienskappe. Dit is inheems tot die warm dele van die Karoo, droogtebestand, nuttig vir brandhout en veevoer, produseer massas soetreuk-, stuifmeelbelaaide blomme in die lente asook voedsame peule, die bas skei ’n eetbare gom af wat ’n lekkerny vir gompoue en mense is, en dit verskaf skadu teen die versengende Karoo-hitte.

Verantwoordelike bosbeheer

Ten slotte word omsigtige optrede om bosverdigting te bekamp, bepleit. Die probleemsituasie het dekades geneem om te ontstaan en dit is wensdenkery om bosverdigting in een, twee of selfs drie jaar ongedaan te probeer maak.

Lees meer oor gifplante.

Onrealistiese verwagtinge en haastige optrede maak onkruiddoders die logiese keuse, maar dit kan groot en blywende skade aan die veld aanrig indien onkruiddoders onwettig, onverantwoordelik of verkeerd aangewend word. – Prof Charlie Reinhardt, Universiteit van Pretoria