Sunday, August 14, 2022

Mooi in die veld, dodelik vir jou vee

Estimated reading time: 4 minutes

Tulpe is dodelik vir herkouers en kom in feitlik alle veeproduksiegebiede in Suid-Afrika voor. Tulpvergiftiging is na raming vir sowat 33% van alle vrektes onder beeste en 10% van vrektes onder kleinvee verantwoordelik.

Sowat 70 verskillende inheemse tulpsoorte kom in Suid-Afrika voor en daar word aanvaar dat die meeste giftig is vir herkouers. Die plante bevat hartglikosied wat die hart, asemhalings- en senuweespierstelsels asook dermkanaal aantas.

Bekende veearts dr Faffa Malan, wat lank in Vrede in die Vrystaat gewerk het, waar tulpe voorkom, sê omdat tulpe bolplante is, loop die plante gewoonlik uit en vorm groen blare terwyl die weiveld nog droog is, wat dit aanloklik maak vir diere om te vreet. Dit is gelukkig ook die gifplant wat die sterkste vermydingsfaktor bevat en diere wat in tulpveld grootgeword het, sal nie maklik aan die plante vreet nie.

Dit is gewoonlik nuwe en jong diere, wat die plante nie ken nie of wat uitgehonger is, wat dit vreet. Tulpblare wat saam met hooi gebaal is, kan diere egter ook vergiftig. Sover bekend, vreet perde nie maklik tulpe nie, maar erge vergifting van perde het al voorgekom nadat hulle hooi wat tulpblare in gehad het, gevreet het. Gevalle van honde wat gevrek het nadat hulle tulpblare gevreet het, is ook al aangeteken.

Die sondebokke

Geeltulpe (Moraea pallida) word meestal verbind met die vergiftiging van veral beeste. Die knol lê sowat 20cm onder die grond en stoot gewoonlik ’n enkele stam bokant die grond uit. Die blaar, wat tot 60cm lank word, het ’n spiesvormige punt en vorm ’n skede om die stam. Dit is smal, sterk en duidelik geriffel. Die stam vertak soms en dra van ses tot tien blomme wat in die lente oopgaan. Die stervormige blomme is gewoonlik geel, maar kan ook appelkooskleurig of rooi-oranje wees.

Die sade word gedra in knuppelvormige kapsules wat uit drie selle bestaan met talle klein saadjies daarin. Dié tulp dring maklik in versteurde grond in en kom in die meeste dele van Suid-Afrika voor.

Rooitulpe (Moraea miniata) se stingelkolle lyk baie soos dié van geeltulpe, en verskeie klein stingelknolle word ook gevorm. Die plant het een tot vier blare wat effens breër is as dié van die geeltulp. Dit dra trossies blomme wat gewoonlik pienk is, maar soms ook geel, oranje of rooi kan wees. In die keel van die blom is ’n geel, stervormige merk, en dit is die kenmerk waaraan dié tulp uitgeken kan word. Rooitulpe kom hoofsaaklik in die Wes- en Noord-Kaap voor.

Bloutulpe (Moraea polystachya) se knolle is toegevou in ’n netwerk van donker vesel. Die knol is sowat 30cm onder die grond en die plant dra normaalweg vier lang, geriffelde blare. Blomme verskyn in die herfs en winter, is helder bloupers en lyk baie soos irisse. Elkeen van die blom se kroonblare het ’n geel kol aan die basis. Die sade is swart en word in ’n kapsule met drie segmente gedra.

Dié tulpe kom hoofsaaklik in Botswana, Namibië en van die Kalahari af suidwaarts tot teen die suidoostelike kus van Suid-Afrika voor. Die Moraea bipartita-spesie van bloutulpe kom meestal in die kusgebiede van die Wes- en Oos-Kaap voor.

Lees meer oor hierdie gevaarlike plant vir die graanbedryf hier.

Simptome en behandeling

Diere wat tulpvergiftiging opgedoen het, is lusteloos, hou hul koppe laag en kreun. Hipersensitiwiteit, hartkloppings en senuweeagtigheid kom ook dikwels voor. Die diere loop moeilik, raak uiteindelik verlam en maagwerkings word ook soms waargeneem. Die simptome is gewoonlik akuut en diere vrek binne ses tot agt uur aan hartversaking. Teen lae innames kan die diere langer leef en selfs oorleef, met slegs ligte maagwerkings.

Medisinale, geaktiveerde houtskool word algemeen gebruik om vergiftiging in mens en dier te behandel. Die algemene aanbeveling is om 2g houtskool per 1kg liggaamsmassa toe te dien. ’n Koei van 500kg moet dus 1kg houtskool ingegee word. Die beste manier om dit te doen, is om die houtskool in water op te skud en dan stadig met ’n bottel deur die bek te doseer. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Faffa Malan by 082 908 8666 of dokfaffa@nashuaisp.gemail.com.

Versorging van ooie en lammers tydens lamtyd

Estimated reading time: 4 minutes Sorgsame bestuur van pasgebore lammers en hul moeders is...

Caring for ewes and lambs during lambing

Estimated reading time: 4 minutes A strong lamb crop is highly dependent on meticulous...

Streng seleksie sorg vir klipharde Bonsmaras

Estimated reading time: 6 minutes Sowat 100km vanaf Johannesburg, aan die voet van die...

RSG Landbou: 4 Augustus 2022 – geborg deur Hygrotech

Talle plaaseienaars maak dikwels van ‘n maatskappy gebruik om tydelike of seisoenale werkers in...