Die Palmer amarant-onkruid (Amaranthus palmeri) word as ’n ernstige bedreiging vir die graanbedryf gesien. Die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het vroeër die maand in die Staatskoerant Palmer amarant as ’n kategorie-1-onkruid verklaar. Plante in hierdie afdeling word gesien as indringer uitheemse plante wat onder geen omstandighede verbou of mee handel gedryf mag word nie.

Lees die wetgewing hier.

CropLife SA het ook vroeër vanjaar reeds ’n dringende waarskuwing uitgestuur oor dié onkruid wat in die somerreëvalgebiede versprei. Volgens die persverklaring is Palmer amarant een van die mees aggressiewe onkruidplante wat Suid-Afrika (SA) nóg ingedring het. CropLife SA het ook bevestig dat die onkruid op ’n mielieplaas in die Potchefstroom-distrik in die Noordwes gewaar is. Vir meer inligting, lees die volledige persverklaring hier.

Wat hierdie spesie van amarant werklik ’n bedreiging maak, is dat dit weerstandig is teen ten minste nege meganismes van werking in onkruiddoders. Dit is volgens prof Charlie Reinhardt van die Noordwes Universiteit, wat die jongste bevindings uit die Suid-Afrikaanse Inisiatief vir Onkruiddoderweerstand (SAHRI) se navorsing in hierdie verband, in die Maart 2022-uitgawe van Oilseeds Focus deel.

Prof Charlie Reinhardt by ‘n Palmer amarant-onkruid.

Hulpbronne om Palmer amarant te beveg

’n Afrikaanse gids vir die identifikasie van Palmer amarant is ook deur SAHRI by die Universiteit van Pretoria, onder leiding van prof Reinhardt, bekendgestel. Dit is reeds hier op AgriOrbit beskikbaar.

Volgens die gids word die identifikasie van Palmer amarant bemoeilik deurdat sekere kenmerke daarvan soortgelyk aan dié van ander amarant-soorte is, waarvan daar altesaam 17 in SA alleen aangetref word. Daarom is word sommige van die ander amarant-soorte uit die staanspoor ook in die gids uitgebeeld.

Dr Gerhard Verdoorn van CropLife SA en prof Reinhardt het onlangs op video oor dié onkruid gesels. Kyk dit hier. Hulle gesels ook op RSG Landbou hieroor.

Die Landbounavorsingsraad bied ook inligting oor die wetgewing rondom onkruid en hoe die verskeie kategorieë reguleer word verskaf, wat hier gekry kan word. – Ursula Human, AgriOrbit