Sunday, August 14, 2022

NPN-bronne as veevoer vir herkouers

Estimated reading time: 4 minutes

Weens mikrobiese fermentasie in die rumen, kan herkouers nieproteïenstikstof (NPN) benut om in hul proteïenbehoeftes te voorsien. ’n Ruproteïen-ekwivalent word aan NPN-bronne gekoppel weens die stikstofinhoud daarvan.

Organiese NPN-bronne sluit ammoniak, ureum, amiede, amiene, aminosure en sekere peptiede in. Anorganiese NPN-voerbronne sluit produkte soos ammoniumchloried en ammoniumfosfaat in.

Hierdie artikel fokus op die basiese aanwending van voergraad-ureum as die algemeenste en goedkoopste NPN-bron vir gebruik in herkouerrantsoene.

Ureum as bron van ruproteïen

Ureum, ’n amied, is die hoof-eindproduk van stikstofmetabolisme in die herkouer se liggaam. Omdat ureum 46% stikstof (N) bevat, is die teoretiese ruproteïen-ekwivalent daarvan 287,5% (46% x 6,25 = 287%). Die N-waarde van ureum word met ’n faktor van 6,25 vermenigvuldig, omdat algemeen aanvaar word dat die meeste proteïene gemiddeld 160g N/kg bevat (100/16 = 6,25).

Hierdie faktor van 6,25 mag wissel, afhangend van die persentasie stikstof in ’n spesifieke voerbron. Dus, omdat nie alle proteïene eenders is en 16% N bevat nie, sal die faktor vir berekening ook wissel (Tabel 1).

Lees meer oor gesonde rumens hier.

Gebruike en eienskappe

Ureum word uitsluitlik aan diere met ’n funksionerende rumen verskaf. Ureum word vinnig in die rumen gehidroliseer deur die urease-ensiem vanaf mikrobes om ammoniak en koolstofdioksied vry te stel. Hierdie ammoniak, tesame met energie en sekere minerale, word deur die mikrobes benut vir selproteïensintese wat later in die laer dermkanaal na aminosure afgebreek en só benut word.

Ureum kan slegs as ’n bron van ruproteïen dien as daar voldoende, geredelik beskikbare energie (koolhidrate) in die rumen teenwoordig is vir mikrobes. Natuurlike proteïene in rantsoene kan ureumbenutting ook verbeter. Natuurlike proteïene verskaf koolwaterstofstrukture aan mikrobes vir die sintese van aminosure. Die nadeel is dat gehalte aminosure afgebreek kan word.

Indien ureum ’n groot deel van die N-inhoud in ’n dieet uitmaak, mag tekorte aan die swawel-bevattende aminosure ook ontstaan. Die aanvulling van een deel swawel (gewoonlik as blomswawel of ammoniumsulfaat) per 10 tot 13 dele N, word algemeen as ideaal vir weidende herkouers aanvaar.

Indien veerantsoene genoeg natuurlike proteïene bevat, is dit onnodig om nóg NPN by te voeg. In produksierantsoene word goeie resultate verkry wanneer natuurlike proteïene aan twee-derdes van die N-behoefte van vee voldoen, en NPN-bronne die oorblywende derde aanvul. In kragvoermengsels word ureum-insluiting tot 1% (hoogstens 1,25%) beperk. Ureum is onsmaaklik en kan voerinname beïnvloed.

Gevare en beperkings

Die gebruik van ureum hou ’n gevaar van vergiftiging in, afhangend van hoeveel en wanneer dit ingeneem word. Met verhoogde vlakke van ammoniak styg die rumen-pH, wat veroorsaak dat selfs méér ammoniak in die bloedstroom opgeneem word. Die dier se lewerkapasiteit om ammoniak na ureum te metaboliseer (detoksifiseer) word dan oorlaai, wat die pH in die periferale bloedstroom verhoog en normale homeostase belemmer.

Kliniese simptome mag binne 30 minute verskyn. Noodlottige vlakke word bepaal deur vooraf-aanpassing tot ureum, honger diere en die tipe dieet. Indien die simptome vroegtydig opgemerk word, kan diere met asyn (of soortgelyke sure) behandel word. Dit verlaag die rumen-pH (6 en laer), urease-aktiwiteite en absorpsie van ammoniak vanuit die rumen.

Vir optimale fermentasie moet die konsentrasie van ammoniak in die rumen ongeveer 20mg ammoniakstikstof per 100ml rumenvloeistof wees. Indien NPN-bronne verspreid deur die dag ingeneem word (stadiger oor ’n langer tydperk), verhoog dit doeltreffende benutting en verlaag die risiko vir vergiftiging.

Alhoewel die skielike inname deur skape van 12 tot 14g ureum fataal mag wees, kan ’n geleidelike daaglikse inname van 35g/dag vir skape (50kg gewig) en 80g/dag vir beeste (500kg gewig) nadelige gevolge tot die minimum beperk. Meer ureum per dag kan ingeneem word, maar dit verhoog die kanse op vergiftiging.

Met die aanvulling van minerale in lekvorm, dien sout as ’n reguleerder van inname. Afhangend van omstandighede en insluiting, mag sout vrywillige inname aanmoedig of beperk. Met die insluiting van ureum in mineralelekke moet verseker word dat diere nie aan southonger ly nie en die lekbakke beskut is teen reën.

Beperk inname van honger diere, meng voere deeglik en pas diere geleidelik aan om ureumvergiftiging te voorkom. – dr Ockert Einkamerer, Departement Dierkunde en Entomologie, Universiteit van die Vrystaat

Vir meer inligting of bronverwysings, stuur ’n epos aan die outeur by einkamererob@ufs.ac.za.

Popular stories