Sunday, August 14, 2022

Limfositiese plasmasitiese enteritis in klein Angorabokkies

Estimated reading time: 4 minutes

Tydens verlede jaar se konferensie van die SA Sybokhaarkwekersvereniging, het Sybokhaar SA-bedryfsveearts, dr Mackie Hobson, die voorkoms van limfositiese plasmasitiese enteritis (LPE) wat op sewe Angora-plase bevestig was, bespreek. LPE is al by perde, skape, koeie, katte en honde gediagnoseer en kan tot gewigsverlies en diarree lei.

Veeplaas het by dr Hobson gaan aanklop om meer uit te vind oor LPE in Angoras wat, net soos swelsiekte, verband hou met lae vlakke van albumien (bloedproteïen) in diere.

Lees meer oor die Hobsons se Angoras hier.

Gevolge van LPE

As veearts het dr Hobson al talle Angorabokboere besoek wat sekere jong Angorabokkies in hul kuddes, gewoonlik ná speen, as swakkelinge geïdentifiseer het. Hierdie bokkies was swak, kon nie gewig optel nie, of het gewig verloor, terwyl ander eenvoudig weggekwyn en gevrek het.

Die meeste gevalle is aan speenskok, swak voeding en inwendige parasiete soos rondewurm, koksidiose en lintwurm toegeskryf. Tog was daar gevalle waarin al hierdie oorsake uitgesluit is, met die gevolgtrekking dat LPE die sondebok was.

Siektetekens

Op al die plase waar limfositiese plasmasitiese enteritis (LPE) gediagnoseer was, is sekere kliniese tekens by gespeende of jong bokkies tot ongeveer 18 maande oud, gevind. Dit sluit in algemene swakheid, onvoldoende gewigstoename of gewigsverlies, diarree (nie in alle gevalle nie), en bokkies wat wegkwyn en vrek.

Alle aangetaste bokke het egter ’n lae bloedproteïenvlak van tussen 16 en 26g/ℓ gehad. Normale vlakke wissel tussen 30 en 37g/ℓ. Die bokke was almal goed gevoer en ook vir rondewurms en koksidiose behandel, sonder enige noemenswaardige reaksie.

Ontwikkeling van LPE

Volgens dr Hobson lei infiltrasie van die derms deur sekere inflammatoriese selle (limfosiete en plasmaselle) tot ’n inflammatoriese dermtoestand en vergroting van die limfatiese weefsel in die ingewande. “Dit kan tot verskeie grade van villeuse afstomping of atrofie, mukosale en submukosale edeem, nekrose en mukosale bloeding aanleiding gee,” sê hy. “Dit alles lei tot wanabsorpsie van voedingstowwe, ’n proteïen-verlorende enteropatie en gevolglike kliniese tekens.”

Dr Hobson beskryf LPE as ’n vorm van inflammatoriese dermsiekte wat weens ’n abnormale immuunrespons ontwikkel. “Die presiese oorsaak van LPE is onbekend. By ander spesies waar dit al gediagnoseer is, word geglo dat inwendige parasiete, die dermbakterieë self, asook dieetfaktore ’n rol kan speel.

“Die stimulasie van die immuunrespons lei daartoe dat immuunselle vrygestel word wat dermontsteking veroorsaak. By Angorabokke kan dit wees dat vorige blootstelling aan rondewurms en koksidiose die rede vir die abnormale immuunrespons kan wees, maar dit is nog nie bevestig nie.”

Lees meer oor House of Fibre se songedrewe bokhaarpakhuis hier.

Diagnose en voorkoming

Tekorte aan sekere spoorelemente (koper, kobalt, selenium, sink en jodium) en vitamiene A en E hou vermoedelik met ’n gebrekkige immuniteit verband, en dit kan dus die ontwikkeling van LPE predisponeer. In die vroeë stadium van die siekte speel inwendige parasiete ook ’n rol in hierdie abnormale immuunrespons, en parasietbestuur is daarom uiters belangrik.

Dr Hobson sê ’n definitiewe diagnose van LPE is moeilik en word dikwels op nadoodse histopatologie-resultate gebaseer. Albumienvlakke kan ’n aanduider wees in die uitsluiting van ander proteïenverlies-differensiale soos koksidiose, rondewurm of swelsiekte. “In LPE-gevalle wat deur histopatologie bevestig is, het die albumienvlakke wat ons ingestuur het, van 16 tot 26g/dl gewissel. Normale vlakke is tussen 30 en 37g/dl.”

Kan dit behandel word?

Enkele gevalle van LPE-behandeling met kortikosteroïede by perde is al gemeld, maar die prognose was swak. Medikasie wat gebruik word om LPE by mense en klein diere te behandel, het ook beperkte doeltreffendheid getoon.

Sybokhaar SA het veldstudies gedoen om reaksie op behandelings met steroïede, minerale/vitamiene, antibiotika en voeding op verskillende behandelingsgroepe te bepaal, met tekens van verbetering in sekere areas. Die studies wat albumienvlakke gemonitor het, het getoon dat jong Angorabokke ook natuurlik herstel.

Omdat LPE ’n abnormale immuunrespons is, sluit dr Hobson af, is dit dus noodsaaklik dat jong bokkies ’n gesonde immuunstelsel handhaaf deur op ’n hoë voedingspeil te wees, geen spoorelementtekorte te hê nie en vry van inwendige parasiete is. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Mackie Hobson by 082 860 0406 of samgavet@gmail.com.

Popular stories