Estimated reading time: 4 minutes

’n Skielike, oormatige inname van lae-vesel koolhidrate soos graan deur herkouers wat nie vooraf daarvoor aangepas is nie, kan tot die ontwikkeling van asidose (suurpens) en selfs gevolglike vrektes lei.

Dr Bennie Grobler, ’n veearts by die Beaufort-dierekliniek in Beaufort-Wes, sê skape wat suurpens ontwikkel en vrek, is ’n algemene tendens in droogtegeteisterde gebiede. Dit gebeur wanneer produsente hulle noodgedwonge tot graanvoeding in ’n kraal moet wend, omdat die diere nie meer in die dorre veld kan wei nie.

In die geval van ’n weimieliestelsel of met oesreste as winterweiding, hou die hoë energie-inhoud van die mielies ook ’n risiko van suurpens vir skape in, maar met die korrekte aanpassing van die skape vóór beweiding op weimielies of oesreste, kan dit beheer word.

Volgens dr Grobler is dit belangrik om te besef dat veeboere in der waarheid met die organismes in herkouers se grootpense (rumens) boer. Dit vorm letterlik die ‘enjin’ wat die dier aan die gang hou, en die gesondheid daarvan moet voortdurend bestuur word.

Koolhidrate in die rumen

Volgens dr Grobler moet die rumen se normale pH tussen 6,4 en 6,8 wees. Met die inname van lae-vesel koolhidrate soos mielies, koring, lae-vesel melasse, hawer, rog en graansorghum, is die risiko vir die ontwikkeling van suurpens hoog indien dit nie in die regte verhouding met ander voere (veral ruvoer) gevoer word nie, of wanneer dit in oormaat ingeneem word.

Hy sê hierdie koolhidrate word in die grootpens gefermenteer om melksuur te vorm, wat die pH in die rumen, en gevolglik ook in die bloed, laat daal. Dit veroorsaak dat die organe nie doeltreffend funksioneer nie.

“Die groot probleem met die fermentasie van koolhidrate is dat die verkeerde verhouding van organismes in die grootpens ontstaan,” sê hy. Hierdie vermeerdering van die verkeerde organismes vererger die situasie in die grootpens, met die gevolg dat ’n bose kringloop in die rumen ontwikkel.

Stelselmatige aanpassing

Volgens dr Grobler is die aanpassing van die rumenmikrobes tot ’n energieryke voedselbron, uiters belangrik. Dit geld vir diere in die voerkraal sowel as diere wat mielies as voedselbron benut.

Die rumenmikrobepopulasie neem tot drie weke om by ’n nuwe rantsoen aan te pas, hoewel daardie aanpassing binne drie dae tot niet kan gaan indien konsekwente voeding van dieselfde energiebron nie plaasvind nie.

Skape moet dus stelselmatig en op ’n gereelde tydsinterval op ’n nuwe voerbron, veral energieryke bronne en ureum, aangepas word. Hy stel voor dat skape wat in ’n kraal gevoer word, byvoorbeeld in week een 50g mielies per dier elke tweede dag ontvang, in week twee 100g elke tweede dag, en in week drie 150g elke tweede dag.

Voer- en weidingsbestuur

Daar moet genoeg voerspasie wees sodat al die diere gelyktydig kan vreet, sê hy, want dit help om te verhoed dat sommige diere hulself oorvreet en suurpens ontwikkel. Dit is gewoonlik die dominante diere wat suurpens ontwikkel, omdat hulle die swakker diere wegstamp en hulle porsie ook vreet.

Genoegsame ruvoer moet ook beskikbaar wees. In die geval van weimielies, moet die skape eers vir kort intervalle op spesifieke tye toegelaat word om te wei, waarna die intervalle oor ’n bestek van drie weke stelselmatig verleng word.

Lees meer oor hoe fermentasie bydra tot rumengesondheid hier.

“Suurpens is die gevolg van ’n bestuursprobleem. Dit is van uiterse belang dat die produsent, veearts en voeding- of veekundige saam om die tafel sit, holisties na die stelsel kyk, en dit evalueer om uiteindelik by ’n optimale bestuurstelsel uit te kom.”

Onmiddellike behandeling

Dr Grobler sê indien ongemak en opblaas van die rumen opgemerk word, moet die simptome onmiddellik behandel word, sodat die rumen-pH weer na normaal kan terugkeer. Magnesiumoksied, aluminiumhidroksied, magnesiumhidroksied of kalsiumhidroksied kan gebruik word om die pH in die rumen te stabiliseer.

Voerkalk en natriumbikarbonaat (koeksoda) kan ook geruik word. Koeksoda stel egter groot hoeveelhede koolsuurgas vry wat tot opblaas kan bydra. Raadpleeg eerder jou plaaslike veearts vir die korrekte behandeling van suurpens.

Vir meer inligting, kontak dr Bennie Grobler by 023 415 2266 of bjgrobler.bg@gmail.com.