Estimated reading time: 3 minutes
Daar is meer mikrobes in die rumen van ’n enkele koei as wat daar mense op aarde is. As jy dink dit is ’n uitdaging vir die hele mensdom om saam te werk, verbeel jou wat binne ’n koei se rumen aangaan!
Bakterieë maak die grootste gedeelte van die rumen se mikrobiese bevolking uit. Deur fermentasie in die rumen, verteer mikrobes gras en voer om energie en proteïen te skep, wat die bees of skaap dan vir instandhouding en produksie benut.
Lees meer oor metaboliese steurnisse in kleinvee hier.
Die pH-balans is seker die grootste enkele faktor wat gesondheid in die rumen bepaal. Enige steurnis in die rumen-pH kan die hele spysverteringstelsel van die dier, en dus ook sy gesondheid en prestasie, omverwerp.
Herkouers kan nie oorleef sonder ’n ten volle funksionele rumen nie. Koolhidraatinname is die primêre energiebron vir herkouers en sluit vesel, wat stadig in die rumen afgebreek word, in. Stysel en suikers is ook ’n belangrike bron van koolhidrate, maar rumenmikrobes breek dit baie vinniger af.
Die rol van sure in die rumen
Tydens die vertering van koolhidrate produseer die rumenmikrobes vlugtige vetsure – hoofsaaklik propionaat, asetaat en bottersuur. Hierdie vetsure voorsien in 70 tot 80% van ’n dier se energiebehoeftes. Benewens die feit dat vlugtige vetsure as ’n energiebron vir produksie dien, speel bottersuur ’n baie belangrike rol in rumenontwikkeling, veral in die groei van die vingeragtige rumenpapille wat voedingstowwe absorbeer.

Laktaat of melksuur is een rumensuur wat egter probleme kan veroorsaak. Melksuur is tien keer sterker as die vlugtige vetsure wat die rumen produseer. Dit is ook die primêre suur wat die rumen-pH beïnvloed.
Onder normale omstandighede versamel melksuur nie in die rumen nie, maar wanneer herkouers groot hoeveelhede suiker of stysel inneem, bou melksuur baie vinnig op. Weens die drastiese uitwerking wat melksuur op die rumen-pH het, het dit ook ’n dramatiese impak op die dier se gesondheid en die rumen se mikrobiese bevolking.
Handhawing van pH in die rumen
Wanneer herkouers nie vooraf by rantsoene of lekke aangepas is nie, veral wanneer dit mielies en dies meer bevat, kan vinnig-groeiende bakterieë meer melksuur produseer as wat die dier kan benut. Gevolglik kan die rumen se pH skerp daal.
Normale veselvertering vind plaas wanneer die rumen-pH tussen 6,8 en 6,2 is. Namate die rumen-pH onder 6,2 daal, word vertering negatief beïnvloed, en wanneer dit benede 5,5 sak, kan dit suurpens of subakute asidose veroorsaak, wat erge gevolge vir kuddeproduksie inhou.
Bees- en skaapprodusente kan ’n verskeidenheid van mikrobiese produkte gebruik om rumengesondheid en prestasie te bevorder. Een so ’n mikrobiese produk is Mega E® (Megasphaera elsdenii). Daar is talle goed-gedokumenteerde bewyse van die positiewe effek van Mega E® op rumengesondheid.
Mega E® verkies melksuur as energiebron bo alle ander organismes in die rumen. Sodra Mega E® die melksuur begin gebruik, skakel die baketrie dit in nuttige vlugtige vetsure om en verhoed dit dat die rumen-pH dramaties daal. Mega E® dra ook tot die groei van rumenpapille by en ondersteun die ontwikkeling en instandhouding van ’n gesonde rumen.
