Die ekonomie van voerkraalafronding

Share This Post

Estimated reading time: 4 minutes

Prysskommelings en die impak van bek-en-klouseer skep uitdagings wat buite ons beheer lê. Juis daarom is dit noodsaaklik dat ons die faktore waaroor ons wél beheer het, konsekwent en korrek bestuur.

Sensitiwiteitsontledings toon voortdurende veranderinge in netto inkomste. Die produsent neem die besluit om te voer of nie, gebaseer op sy spesifieke omstandighede en prysstrukture.

Die koste van vetmes

Navorsing deur Molatek bied sedert 2010 waardevolle, praktiese insigte vir plaasvlaktoepassing. Laer koste beteken nie noodwendig goedkoper nie. Kuilvoer illustreer waarom koste altyd op ’n droëmateriaal- of DM-basis vergelyk moet word: Hoewel dit in die bunker teen sowat R800 per ton ‘goedkoop’ mag lyk, bestaan dit uit ongeveer 70% vog en kos dit dus nagenoeg R2 400/ton op ’n DM-basis.

Kuilvoer is waardevol, maar oormatige insluiting kan DM-inname en prestasie benadeel. In ’n Molatek-studie waar speenkalwers slegs op kuilvoer afgerond is, was die staantyd 226 dae. Spoormineraalprobleme is waargeneem en die stelsel het ’n verlies van 32 sent vir elke rand getoon.

‘Goedkoper’ afrondingsrantsoene kan duur wees. In ’n studie met ou koeie het ’n laer-proteïen rantsoen (dus goedkoper), dieselfde daaglikse groei as die kontrole (standaard Molatek BEESVET 33+, V17357) getoon. ’n Rantsoen met verlaagde proteïen én energie het egter 28% swakker groei gelewer.

Tabel 1 illustreer dat ‘goedkoper’ rantsoene ’n aansienlik laer netto inkomste gelewer het weens swakker voeromsetverhouding (VOV). Dit bevestig dat VOV die primêre drywer van winsgewendheid is, terwyl daaglikse groei nie noodwendig ’n betroubare aanduider van ekonomiese prestasie is nie.

Oorweeg nou die waarde van goedbestuurde, vollediggespesifiseerde rantsoene. In ’n beesafrondingstudie is ’n standaard BEESVET 33+ (V17357)-rantsoen met ’n rantsoen van 25% hoë-gehalte lusern én BEESVET 33+ vergelyk.

Hoewel die lusernrantsoen 7% duurder was, is ’n 17% hoër netto inkomste behaal. Hierdie tendens is tot ’n groter mate in kleinveestudies waargeneem, waar diere meer sensitief is vir ruvoergehalte.

Tabel 1: Ekonomiese prestasie van goedkoper rantsoene.

BehandelingsNetto inkomste per rand aan voer spandeer
Verlaagde proteïenR0,13
StandaardafrondingR0,26
Verlaagde proteïen en energieR0,06

Ruvoer en rumengesondheid

Lae ruvoerinsluiting verhoog die risiko van rumenversteurings, veral asidose.

Rumengradering is ’n goeie aanduiding van bestuursvlak en rantsoengehalte.

Figuur 1 toon dat veeprestasie afneem namate rumenskade toeneem, met ’n gepaardgaande toename in sekondêre long- en lewerprobleme.

Figuur 1: Rumengradering versus daaglikse toename.

*1 = Gesonde rumen; 5 = Ernstig beskadigde rumen.

Die praktyk om ruvoer tydens die finale afrondingsfase drasties te verlaag is teenproduktief en lei tot swakker prestasie. In hierdie fase behoort die fokus op die proteïen-energieverhouding pleks van laer veselvlakke te wees.

Praktiese voerkraalriglyne

Nie alle aspekte van voerkraalvoeding kan volledig hier bespreek word nie.

Die volgende riglyne geld egter:

  • Kafeteria- en volvoerstelsels kan albei doeltreffend wees, maar volvoer geniet voorkeur danksy konsekwentheid.
  • Heelmielies is nie geskik vir beeste nie en net somtyds toepaslik vir kleinvee.
  • Wit- en geelmielies presteer dieselfde in voerkraalafronding.
  • Mieliesemels (hominy chop) is ’n goeie energiebron, mits die voginhoud reg bestuur word.
  • By skape is verpilde voer geriefliker, maar het geen invloed op prestasie indien die formulering dieselfde bly nie.
  • Rantsoene wat bo spesifikasie (veral oormatige natuurlike proteïen) gevoer word bied selde ’n ekonomiese voordeel.
  • Skoon, koel drinkwater is noodsaaklik.

Produkte soos Molatek HPC 820 (V28271), BEESVET 33+ (V17357) en SKAAPVETMESKONSENTRAAT (V14344) is nuttige boustene, maar winsgewendheid word eweneens deur bestuur bepaal. ’n Konsekwente rantsoen met betroubare, hoë-gehalte roumateriale bly noodsaaklik vir optimale ekonomiese prestasie. Nader die Molatek tegniese adviseurspan om jou hiermee te ondersteun. – Johan Mouton, Molatek

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutesPlaashekpryse/Farm gate pricesDie jongste vleispryse...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 37 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minuteJohan van den Berg is...

Ontwikkel ’n skerp oog vir rasstandaarde en die metodiek van kleinveebeoordeling

Estimated reading time: 7 minutesDie vertoning en beoordeling van...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutesPathisani Ncube has a wholly...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutesRabbit meat is not as...