Die stille opbrengsdief: Waarom produsente stresbestuur in ’n tyd van weeruiterstes moet herdink

Estimated reading time: 7 minutes

Van 45 °C se hitte wat sitrusboorde in Citrusdal verskroei tot swaar reën wat vrugset in tafeldruifwingerde ontwrig, raak Suid-Afrikaanse produsente al hoe meer vertroud met een van die grootste uitdagings van moderne landbou: weeruiterstes wat gewasse onder erge fisiologiese stres plaas.

Martin Booyens, tegniese bemarkingspesialis vir biologiese gewas oplossings by InteliGro.

Hoewel plaag- en siektebeheer steeds baie aandag kry, het plantstres stilweg een van die belangrikste opbrengsbeperkende faktore geword, sê Martin Booyens, tegniese bemarkingspesialis vir biologiese gewasoplossings by InteliGro.

“Stres is die stille opbrengsdief,” sê Booyens. “Doeltreffende gewasbeskerming bly noodsaaklik, maar dit is nie meer genoeg op sy eie nie. ’n Meer holistiese benadering is nodig. Klimaatsverandering het die produksie-omgewing ingrypend verander. Vandag is een van die grootste bedreigings vir opbrengs dikwels nie insekte of siektes nie, maar die plant se onvermoë om omgewingstres te hanteer.”

Volgens Booyens is voorbereiding net so belangrik soos reaksie, aangesien wisselvallige weerstoestande die norm eerder as die uitsondering word.

Wanneer die weer die pas aangee

Die gevolge is reeds duidelik sigbaar in Suid-Afrika se produksiegebiede.

  • Gereelde hittegolwe in tafeldruifgebiede soos Kakamas en De Doorns lei tot swak vrugset, ongelyke trosontwikkeling en laer opbrengste. Onverwagte reën gedurende kritieke groeistadiums skep verdere produksie-uitdagings.
  • In die afgelope sitrusseisoen het Valencia-boorde aansienlike vrugval ervaar nadat bome tydens kritieke ontwikkelingsfases onder stres gekom het, terwyl temperature van meer as 45 °C in Citrusdal sonbrand, oksidatiewe stres en verswakte vruggehalte asook uitpakpersentasies veroorsaak het.

“Dit is alles fisiologiese stresreaksies,” sê Booyens. “Wanneer stres toeslaan, skakel plante van produksie na oorlewing oor. Energie wat normaalweg groei, blomvorming en vrugontwikkeling sou aandryf, word bloot gebruik om die plant aan die lewe te hou. Fotosintese vertraag, ensiem-aktiwiteit neem af en skadelike reaktiewe suurstof spesies begin plantselle beskadig.”

Die gevolg? Gewasse kan gesond lyk, maar steeds nie hul volle opbrengspotensiaal bereik nie.

“Hitte plaas plante verder onder druk deur die waterbalans binne individuele selle te versteur. Soos vog verlore gaan, krimp selle en mikroskopiese krake kan ontwikkel wat toegangspunte vir patogene skep. Terselfdertyd raak sout meer gekonsentreerd binne die selle, wat oksidatiewe stres en selskade verder vererger.”

Maar die skade hou nie bogronds op nie.

“Hoë temperature onderdruk voordelige grondmikrobes wat verantwoordelik is vir voedingstofomsetting en gesonde wortelontwikkeling, terwyl versouting dit  moeiliker maak vir plante om water en noodsaaklike voedingselemente soos stikstof, kalsium en kalium op te neem.”

Suksesvolle vrugset in pere dui aanhoe tydige bestuur tydens kritieke groeistadiums opbrengspotensiaal ondersteun.

Biologiese middels: Meer as net nóg ’n spuitprogram

Biologiese programme ondersteun gesonde plante deur saam met die natuur te werk.

“Produsente se eerste reaksie is dikwels om nóg chemiese produkte by te voeg,” sê Booyens. “Daardie produkte het beslis hul plek, maar hulle is meestal ontwerp om ’n spesifieke probleem op te los,nie noodwendig om die plant se fisiologiese balans te herstel of dit beter vir toekomstige stres voor te berei nie.”

Dit is juis waar biologiese produkte hul waarde bewys,nie as noodbehandeling wanneer gewasse reeds onder druk verkeer nie, maar as voorkomende bestuursinstrumente wat gewasse se weerbaarheid versterk voordat stres intree.

Verskillende biologiese produkte vervul verskillende rolle. Sommige ondersteun die plant se metabolisme tydens stres, ander help om die waterbalans in plantselle tydens hitte en droogte te handhaaf. Voordelige grondmikrobes stimuleer wortelontwikkeling, verbeter voedingstofopname en versterk grondbiologie, terwyl produkte wat aminosure bevat verbindings voorsien wat die plant andersins self met groot energieverbruik sou moes vervaardig.

“As ’n plant deur ’n ernstige hittegolf gaan, gebruik dit byna al sy energie net om aan die lewe te bly,” verduidelik Booyens. “Deur aminosure toe te dien, kan daardie energie eerder aangewend word vir herstel, groei en versterking.”

Voordat stres posvat

Tydsberekening is egter alles.

“Dit is nie produkte wat jy eers toedien wanneer gewasse begin verwelk nie,” sê Booyens. “Teen die tyd dat sigbare simptome verskyn, het die fisiologiese skade waarskynlik reeds plaasgevind.”

Produsente behoort weerstoestande fyn dop te hou en bestuursbesluite proaktief te neem. Biologiese produkte benodig gewoonlik tussen 48 en 72 uur voordat die relevante metaboliese prosesse in die plant geaktiveer word.

Doeltreffende stresbestuur begin vroeg – deur kwesbare groeipunte in tafeldruiwe betyds te beskerm.

Doeltreffende stresbestuur begin ook by die basiese beginsels. Booyens beklemtoon dat biologiese produkte nie swak plantvoeding of onvoldoende gewasbestuur kan regstel nie.

“Dit help min om in sekondêre metaboliete te belê as jou plante nie eens behoorlik kan fotosinteer nie.”

Hy moedig produsente aan om eers seker te maak dat gewasse oor die nodige voedingstowwe beskik vir normale fotosintese en proteïensintese voordat spesifieke stresuitdagings met biologiese produkte aangespreek word.

Sodra die grondslag in plek is, kan biologiese programme volgens elke produksiestelsel aangepas word. Aminosure kan gewasse help herstel ná haelskade. Voordelige swamme soos Trichoderma bevorder wortelontwikkeling waar grondgedraagde siektes ’n probleem is, terwyl osmobeskermers soos glisienbetaïen plante tydens uiterste hitte kan help om selstabiliteit te behou en vrugset te verbeter.

“Daar is nie ’n kitsoplossing wat oral werk nie,” sê Booyens. “Die regte oplossing hang af van die omstandighede op elke plaas.”

Eerder as om op ’n enkele produk of ingryping staat te maak, integreer InteliGro se gewasprogramme biologiese oplossings met plantvoeding, grondgesondheid en gewasbeskerming volgens die behoeftes van elke produksiestelsel.

Martin Booyens, tegniese bemarkingspesialis vir biologiese gewasoplossings by InteliGro en Pine Liebenberg, senior gewasadviseur by InteliGro, doen gewasverkenning in ’n soetrissieland naby Bela-Bela, dit is ’n onmisbare deel van proaktiewe gewasbestuur.

Goeie besluite begin by goeie inligting

Booyens waarsku produsente om nie biologiese produkte bloot op grond van bemarkingsaansprake te kies of sonder kundige advies toe te dien nie.

“Jy moet weet wat in jou grond,  water en  gewas aangaan. Goeie gewasbesluite begin by goeie inligting. Gereelde grond-, water- en blaarsap-analises neem die raaiwerk uit bestuursbesluite en verseker dat bestuursbesluite gegrond is op wat werklik op jou land gebeur.”

Om saam met opgeleide gewasadviseurs te werk is net so belangrik, voeg hy by. Biologiese produkte behoort deel te vorm van ’n geïntegreerde gewasbestuursprogram en nie in isolasie gebruik te word nie. Produsente moet ook seker maak dat produkte ingevolge Wet 36 van 1947 geregistreer is en advies inwin by gekwalifiseerde gewasadviseurs wat by CropLife Suid-Afrika geregistreer is.

Hoewel sommige produsente huiwerig is om biologiese programme in te sluit omdat dit insetkoste op kort termyn verhoog, redineer Booyens dat die langtermyn waarde daarvan dikwels onderskat word.

Anders as konvensionele chemiese produkte, wat oor die algemeen slegs korttermynbeskerming bied, vestig voordelige biologiese organismes hulle mettertyd in die grond. Soos dié populasies opbou, bly hulle plantgesondheid en weerbaarheid ondersteun, wat die behoefte aan herhaalde toedienings in daaropvolgende seisoene dikwels verminder.

“Jy koop nie net nog ’n produk nie,” sê hy. “Jy belê in ’n gesonder produksiestelsel.”

Boer een stap voor die weer

Om gewasse weerbaar te maak, is nie meer bloot nog ’n bestuursopsie nie,dit word toenemend ’n kenmerk van winsgewende, volhoubare produksie. 

“Die produsente wat in die toekoms volhoubaar gewasse van hoë gehalte gaan lewer,” sê Booyens, “sal dié wees wat hul plante voorberei voordat stres toeslaan – nie daarna nie.”

Daardie voorbereiding begin lank voordat ’n hittegolf voorspel word. Dit begin by ’n deeglike begrip van jou produksiestelsel, gereelde monitering van gewasgesondheid en samewerking met gekwalifiseerde gewasadviseurs om ingeligte besluite te neem voordat stres posvat. – InteliGro

Must read

SAPPO Retail Price Statistics: August 2026

The monthly SAPPO Retail Price Statistics Report provides detailed statistics and trends on the retail prices of various meat products, including pork, chicken, beef, and lamb.Monthly Price...

Smarter insights, stronger resilience

Estimated reading time: 5 minutesWhat makes one farming business better equipped to weather uncertainty than another? It’s not necessarily the size of the operation,...

RSG Landbou: 8 September 2026

In vandag se aflewering van RSG Landbou vind ons meer uit oor die Landbounavorsingsraad se Vleisbeespresteerderstoekennings, presisieboerdery en die risiko’s verbonde aan kunsmatige intelligensie,...

LandbouRadio: 8 September 2026

In Dinsdag, 8 September se LandbouRadio, met trots aan jou gebring deur BKB, kan jy uitsien na die volgende:Johan gesels met dr Pieter Haumann...

AgriSpoor: Die nuwe toep om voorvalle aan te meld 

Estimated reading time: 3 minutesOngelukkig word baie misdade en probleme nooit opgelos nie, aangesien dit nooit aangemeld word nie. Die algemene teen opmerking waarom...