HomeAdvertorialsBEK-inentings in werklike situasies: Waarnemings in Suid-Afrikaanse kuddes

BEK-inentings in werklike situasies: Waarnemings in Suid-Afrikaanse kuddes

-

Estimated reading time: 7 minutes

Veeprodusente met bek-en-klouseer (BEK) in hul kuddes se vrae oor inenting is gewoonlik van ’n praktiese aard. Wat gebeur met die beeste ná inenting? Sal hulle ophou vreet? Sal melkproduksie daal? Wat van dragtige koeie? En hoe waarskynlik is ’n ernstige akute reaksie soos anafilaktiese skok?

Die BEK-krisis in Suid-Afrika het vereis dat inenting op ’n skaal en spoed plaasvind wat geheel en al afwyk van normale en voorkomende dieregesondheidsprogramme. Hoewel hierdie omstandighede geensins ideaal is nie, bied dit ’n belangrike geleentheid om werklike bewyse in die veld en onder Suid-Afrikaanse produksietoestande in te samel.

V-Plan werk nou saam met veeartse, boere en produsenteorganisasies om die gebruik en veiligheid van die BIOAFTOGEN® SAT1-, SAT2-, SAT3-inenting in kommersiële melk- en vleisbeeste, sowel as voerkrale en kommunale kuddes te monitor. Sowat 24 800 beeste is by ‘n gestruktureerde veldmoniteringsprogram ingesluit, met sekere groepe wat ook aan ’n sero-omskakelingstudie deelneem.

Die beginsel is eenvoudig: Neem waar, maak aantekeninge en ondersoek die gebeure, insluitend die dinge wat ons eerder nié wil sien nie, maar wat nietemin deel is van die realiteite wat produsente in die gesig staar.

Wes-Kaap: Melkbeeste

Die Wes-Kaapse melkbeesprogram het 11 147 lakterende koeie, verse en kalwers ingesluit. Die feit dat dit lakterende kuddes is, is baie belangrik aangesien die uitbreking dringende optrede en inenting op ‘n baie groter skaal vereis het as wat normaalweg tydens roetine voorkomende inenting die geval sou wees.

Al die lakterende koeie het die BIOAFTOGEN® primêre asook skraaginenting op ’n enkele dag, drie maande uit mekaar ontvang, terwyl normale kommersiële melkproduksie voortgesit is. Dit was ’n veeleisende veldtoets waartydens melkproduksie, voerinname en reproduksierekords deurentyd gemonitor is, terwyl die plaas se CowManager-stelsel individuele diere in reële tyd oor die studietydperk van meer as 185 dae gemonitor het, en waarskuwings oor temperatuur, gedrag en ander gesondheidsaanwysers verskaf het.

Ná toediening van die BIOAFTOGEN® skraagdosis het die diere se gemiddelde voerinname tydelik met sowat 7,3% gedaal, terwyl melkproduksie met ongeveer 3,6% afgeneem het. Albei het egter weer vinnig tot basislynvlakke herstel.

Na die eerste inenting was ‘n effense swelling by die inentingsplek teenwoordig, terwyl ferm, voelbare swelsels onder die vel redelik algemeen na afloop van die skraagdosis aangeteken is.

Die kudde se reproduksieprestasie is ook gemonitor. ’n Toename van een tot twee persentasiepunte in aborsies is opgemerk onder koeie wat binne 28 dae voor kalwing ingeënt is. Hoewel die inenting van hierdie dragtige diere nie wenslik was nie, het die BEK-krisis dit genoodsaak en vereis geloofwaardige veldmonitering dat gunstige sowel as ongunstige waarnemings aangeteken word. Die waarneming alleen dien egter nie as bewys dat inenting die toename teweeggebring het nie; dit bied wel relevante veldgebaseerde inligting vir produsente en veeartse wat inentingsbesluite in noodsituasies moet neem.

Limpopo: Vleisbeeste

Die kudde by die kommersiële vleisbeesonderneming in Limpopo het aanvanklik 1 344 verse ingesluit en die primêre inenting is gevolg deur ’n skraagdosis in Augustus. ‘n Totaal van 462 gestruktureerde kudde-inspeksies is tussen 1 April en 24 Augustus in die gemoniteerde studiegroep uitgevoer. Reproduksiegebeure, bestuursaksies, vrektes en ander kliniese waarnemings is aangeteken en hersien.

Enkele reproduksievoorvalle is waargeneem, maar geen entstofverwante reproduksiepatroon kon geïdentifiseer word nie. Geen skokreaksies of ernstige sistemiese entstofverwante reaksies is waargeneem nie. Die reaksies wat wel waargeneem is, was selfbeperkend en het geen ingryping vereis nie.

Gauteng: Voerkraalbeeste

Die derde program het die waarneming van sowat 11 000 kalwers by ’n groot voerkraal- en voorbereidingstelsel in Gauteng behels. Die beeste was van verskeie plekke afkomstig en is by aankoms ingeënt. Hierna het ’n veldvoorbereidingsfase (backgrounding) van sowat 28 dae gevolg voordat hulle na die voerkraal geskuif is, waar ’n skraagdosis toegedien is. Daaglikse roetinemonitering het onder normale kommersiële omstandighede plaasgevind, en drie groepe is uitgesoek en by die sero-omskakelingsprogram ingesluit.

Weereens is geen skokreaksie of ernstige nadelige reaksies waargeneem waar die BIOAFTOGEN®-entstof op sy eie toegedien is nie. Die reaksies wat wel waargeneem is, was selfbeperkend en het tipies geen ingryping vereis nie.

Addisionele waarnemings is ook ingesamel van sowat 1 300 beeste wat as deel van ’n kommunale program in Limpopo ingeënt is.

Wat om ná inenting te verwag

’n Reaksie op inenting is nie noodwendig nadelig nie. Die doel van inenting is om die immuunstelsel te stimuleer, wat beteken dat sommige diere ’n ligte, tydelike reaksie kan toon. Dit sluit lokale swelling, kortstondige inflammasie of ’n tydelike afname in eetlus of produksie in.

Die belangrike vrae is hoe ernstig die reaksie is, hoe lank dit duur, hoeveel diere geaffekteer word en of hulle normaal herstel. Hierdie faktore bepaal die verskil tussen ’n verwagte en aanvaarbare reaksie, teenoor ’n onverwagse of onaanvaarbare een. Anafilaktiese skok is byvoorbeeld nie ’n verwagte of aanvaarbare roetinereaksie nie. Tydens die gestruktureerde veldprogramme wat hier beskryf word, is geen sodanige reaksies waargeneem met die gebruik van BIOAFTOGEN® nie.

Moniteringsdiepte

Gestruktureerde veldprogramme maak dit moontlik om individuele kuddes en diere in heelwat meer detail waar te neem. Dit verteenwoordig egter net ’n gedeelte van die data wat ingesamel word. V-Plan het tydens die 2026 BEK-inentingsveldtog deurentyd met privaatveeartse, boere en georganiseerde produsentestrukture – insluitend die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en die Melkprodusente-organisasie (MPO) – geskakel om hierdie ervaring in die veld ná inenting mee te deel.

Nie ‘n enkele geval van anafilaktiese skok of ernstige entstofverwante reaksies oor meer as 500 000 vermelde BIOAFTOGEN®-inentings (die entstof is op sy eie toegedien) by hoofsaaklik kommersiële vleis- en melkbeeste, is tot dusver via hierdie kanaal aan V-Plan gerapporteer nie. Die teenreaksies wat wel waargeneem is, was selfbeperkend en het tipies geen ingryping vereis nie.

Hierdie breër veldgebaseerde ervaring behels nie ’n gekontroleerde kliniese proef nie. Dit verteenwoordig aktiewe toesig onder veldomstandighede en maak staat op veeartse en produsente om vermoedelike gevalle te identifiseer en dit aan te meld. Wanneer dit saam met die diepte van waarneming in die gestruktureerde programme oorweeg word, bied dit waardevolle konteks.

Die keersy van die bewyse

Die monitering van kliniese en produksie-uitkomste toon hoe goed die beeste se verdraagsaamheid teenoor die inenting was.

Dit verklaar egter nie of die verlangde immuunreaksie teweeggebring is nie. Hoewel geen tekens van BEK voor, tydens of ná inenting in die proefgroepe opgemerk is nie, is monsters van bepaalde groepe met gereelde tussenposes voor en ná die primêre en skraaginentings as deel van ’n sero-omskakelingstudie geneem. Hierdie monsters is tans (ten tyde van die skryf hiervan) op die waglys vir toetsing via die goedgekeurde laboratoriumproses. Sodra dit voltooi is, sal die resultate gedeel en vir breër wetenskaplike verslagdoening en publikasie voorberei word.

Uiteindelik moet die bewyse wat gelewer word twee vrae beantwoord: Hoe verdraagsaam was die beeste vir die inenting, en watter immuunreaksie het dit teweeggebring?

Werklike, veldgebaseerde bewyse

’n BEK-krisis is beslis nie die ideale omgewing waarin ‘n plaaslike inentingservaring getoets moet word nie. Wanneer inenting egter vinnig en aan duisende produksiediere toegedien moet word, is dit noodsaaklik dat bepaalde lesse uit die proses geleer word. Dit beteken nié dat ons elke waarneming na inenting as toeval afmaak of dat ons outomaties elke aborsie, produksieverandering of siek dier aan die entstof se uitwerking toeskryf nie. Ons teken dit aan, ondersoek dit, en vergelyk dit met die normale verwagting. En ons identifiseer tendense.

Die bewyse wat tot dusver beskikbaar is, is bemoedigend. Tot op hede is geen anafilaktiese reaksie of groot nadelige reaksie wat aan BIOAFTOGEN® toegeskryf kan word, by nagenoeg 24 800 beeste in gestruktureerde veldprogramme geïdentifiseer nie. Dit stem ooreen met die wyer veeartsenykundige veldervaring wat oor meer as 500 000 vermelde inentings strek, waar ook geen geval van anafilaktiese skok of ernstige entstofverwante reaksie aan V-Plan gerapporteer is nie.

Monitering duur voort, tesame met die proses om die diere se immuunreaksie op die entstof te bepaal. Die doelwit is eenvoudig: om onsekerheid te vervang met ’n versameling Suid-Afrikaanse veldgebaseerde bewyse waarop produsente en veeartse kan staatmaak wanneer hulle inentingsbesluite neem. – Dr Danie Odendaal, V-Plan

Must Read

Unlocking the beef value chain – Meet the 2026 LRF Stockman...

Estimated reading time: 6 minutesFrom 7 to 9 October 2026, the Livestock Registering Federation (LRF) brings the beef industry’s sharpest minds together at Aldam...