HomeMagazines’n Beplanningskalender vir herkouerprodusente

’n Beplanningskalender vir herkouerprodusente

-

Estimated reading time: 8 minutes

  • Veeplaas het by finansiële kenners gaan aanklop om uit te vind wat op ’n beplanningskalender van ‘n bees- of skaapplaas hoort.
  • Buiten dat boerderystreke verskil, is die omgewing besig om vinnig te verander. Tog het die toedien van medikasie nog nie verander nie.
  • Die Buro vir Voedsel en Landboubeleid (BFAP) se 2023 vooruitskouingsverslag het ’n magdom diensleweringskwessies uitgelig wat die bedryf in die gesig staar. Finansiële beplanning is nodig om elk van die sake – wat aanhoudende kragonderbrekings, dieresiekte-uitbrekings, en swak munisipale dienslewering insluit – aan te spreek.
  • Hoewel produsente nie uitvoere buite rekening kan laat in hulle beplanning nie, is dit belangrik om te besef dat uitvoere steeds net ’n klein deeltjie (5%) van Suid-Afrika se totale rooivleisproduksie uitmaak.
  • Insetkoste kan gou die hoogte inskiet as produsente nie hul vinger op die pols hou nie.

Net soos enige ander besigheid, begin ’n goeie boerderystrategie nie noodwendig op die grond nie, maar eerder op papier. En die papier verwys nie na ’n tjekboek nie, maar eerder na ’n check-lys. Daar is immers ’n gepaste tyd waarop elke ding op ’n bees- of skaapplaas moet gebeur.

Veeplaas het by finansiële kenners gaan aanklop om uit te vind wat op só ’n beplanningskalender hoort en dr WA Lombard, Veeplaas-redakteur en landbou-ekonoom verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat, en Koot Klopper, ’n landbouspesialis by Absa AgriBesigheid, het hulle insigte gedeel. Buiten sy betrokkenheid by Absa, boer Klopper ook self op Zastron in die Vrystaat met mielies, sonneblom, lusern, skape, beeste en wild.

Hulle het nie net terugskouend gekyk na hoe veeboerderypraktyke oor die afgelope paar dekades verloop het nie, maar ook vorentoe gekyk om te sien hoe bees- en skaapprodusente hulself moet posisioneer om steeds relevant in ’n veranderende toekoms te bly. Dr Lombard en Klopper se gekombineerde insae verskyn in Tabel 1, 2 en 3.

Klopper sê hoewel hierdie ’n goeie riglyn is, moet produsente onthou dat Veeplaas se kalender nie lukraak op alle veeplase regdeur die land toegepas kan word nie. Elke boerdery verskil. Verskille soos reënvalstreke, brandseisoene, siektedruk en produksiemetodes is van die voor-die-hand-liggende verskille om in ag te neem.

Tabel 1: Veeplaas-jaarbeplanner: Beeste. (Bron: Veeplaas, dr WA Lombard en Koot Klopper)

Tabel 2: Veeplaas-jaarbeplanner: Skape. (Bron: (Bron: Veeplaas, dr WA Lombard en Koot Klopper)

Tabel 3: Veeplaas-jaarbeplanner: Weiding, gewasse, hulpbronne, infrastruktuur en voertuie. (Bron: Veeplaas, dr WA Lombard en Koot Klopper)

Die kalender verander

Buiten dat boerderystreke verskil, is die omgewing besig om vinnig te verander. Vroeër het produsente in die somerreënvalgebied geweet hul koeie sou in Augustus begin kalf, maar met die reënseisoene wat aangeskuif het, gaan ’n kalf nou op droë weiding val. “Talle produsente het reeds hul dekseisoen aangeskuif deur die bulle eers later by die koeie te sit, sodat daar eers in Januarie of Februarie gekalf word.”

Leer meer oor hoe om droogtebeplanning deel van jou beplanning te maak.

Tog het die toedien van medikasie nog nie verander nie. “Produsente moet net sorg dat hulle op grond van die individuele boerdery se behoeftes van daardie spesifieke seisoen doseer. Verlede jaar was dit op ons plaas belangrik om teen haarwurm te doseer, juis omdat dit so nat was,” sê Klopper en voeg by dat die afgelope seisoen se siektedruk soveel laer was, dat hulle net sesweekliks teen haarwurm moes doseer.

Beplan jou bemarking

Die Buro vir Voedsel en Landboubeleid (BFAP) se 2023 vooruitskouingsverslag het ’n magdom diensleweringskwessies uitgelig wat die bedryf in die gesig staar. Finansiële beplanning is nodig om elk van die sake – wat aanhoudende kragonderbrekings, dieresiekte-uitbrekings, en swak munisipale dienslewering insluit – aan te spreek.

Volgens BFAP se 2023 basislynverslag het die Covid-19 pandemie, onstabiele aanbod en die uitbreek van dieresiektes wêreldwyd, tot ’n 8% styging in internasionale vleispryse gelei. Pryse het egter in Junie 2022 ’n hoogtepunt bereik en weer begin daal.

BFAP verwag egter dat pryse vanjaar al ’n onderste draaipunt sal bereik en daarna stadig oor die volgende dekade sal styg. Dié styging gaan waarskynlik te stadig wees om algemene inflasie teen 2032 te klop en BFAP verwag dat reële vleispryse oor die volgende dekade tussen 10 en 14% laer as die 2020/22-basistydperk sal wees.

Terwyl die inflasie-aangepaste pryse waarskynlik oor die volgende dekade gaan verlaag, verwag BFAP dat vleisproduksie met 14% sal styg. Dus sal produsente waarskynlik meer vleis kan verkoop, maar teen ’n laer per-kilogram-marge. Produsente moet egter nie te vinnig dié vraaggroei by hul somme insluit nie, omdat BFAP verwag dat die internasionale vraaggroei waarskynlik eers oor vyf jaar van nou af mag plaasvind. Vir eers word ’n daling in vleisverbruik voorspel.

Uitvoer teenoor plaaslike koopkrag

Klopper sê hoewel produsente nie uitvoere buite rekening kan laat in hulle beplanning nie, is dit belangrik om te besef dat uitvoere steeds net ’n klein deeltjie (5%) van Suid-Afrika se totale rooivleisproduksie uitmaak. “Ja, daar is geleenthede in China en die Midde-Ooste, maar dit het nog nie ’n wesenlike invloed op die plaaslike bedryf nie. Hoewel dit ’n feit is dat die vraag na Suid-Afrikaanse vleis wel bestaan, is dit tans slegs primasnitte wat uitgevoer word – nie die totale karkas nie.”

Uitvoere sal egter voordele vir alle veeboere inhou, omdat die nuwe bemarkingsgeleenthede wel die prys ondersteun.

Wat plaaslike koopkrag aanbetref moet produsente besef dat die man op straat se beursie waarskynlik dunnerig sal bly oor die volgende vyf jaar. “Die land se ekonomie is soos ’n groot skip wat nie sommer net oornag omgedraai gaan word nie,” sê hy.

Beesvleisverbruik het die afgelope dekade met 7% gekrimp en die per kapita-verbruik van skaapvleis het met amper 30% tussen 2020 en 2022 gedaal. BFAP meen bekostigbaarheid was die grootste faktor.

Teen druktyd was menige produsente besig om hul kuddes te verklein weens droogtetoestande. “Ja, ons kan voortaan weer in ’n kuddeboufase ingaan, maar dan gaan produsente diere terughou en dit gaan nie noodwendig die plaashekprys vreeslik lig nie,” sê Klopper en erken dat daar binne die volgende paar maande eerder ’n ooraanbod van vleis gesien sal word.

Die droogte het ook gemaak dat mieliepryse heelwat verhoog, wat weer ’n demper op voerkrale se winsmarges plaas.

Insetkoste-beplanning

Terwyl vleispryse sedert die Covid-uitbreking verhoog het, het BFAP se 2023-basislynverslag bevind dat dié verhoging nie genoegsaam was om stygende voerkoste – wat deur globale faktore soos weerstoestande en die voortslepende oorlog in Oekraïne aangevuur word – te bekamp nie.

Klopper sê insetkoste kan gou die hoogte inskiet as produsente nie hul vinger op die pols hou nie. “Die bestuur van insetkoste word deurgaans al hoe belangriker. Produsente moet hul somme heeltyd doen en seker maak dat dit wat hulle uitkry, wel die insette regverdig.”

Hy beveel aan dat produsente van presisieboerderytegnieke gebruik maak. “Moet byvoorbeeld nie net lek gooi nie. Kyk mooi na waar, wanneer en hoeveel jy uitsit na gelang van die dier se behoefte op die betrokke produksiestadium.”

Produsente moet ook van swak-presterende diere ontslae raak, aangesien daardie diere kostes onnodig opjaag, sonder dat dit in wins omgesit word.

Verder is toetsing ’n moet. Bulle moet gereeld vir vrugbaarheid getoets word en veeartse se kundigheid kan ingespan word om te verseker dat alle diere vrugbaar is. “Hierdie is baie belangrik, maar voor dit nog moet produsente sorg dat hulle in goeie teelmateriaal belê. Maak seker dat jy goeie, doelmatige genetika by betroubare telers koop.”

Die regte dier moet vir die regte veldtoestande gekoop word. “Produsente kom ongelukkig dikwels te laat agter dat die dier nie ideaal vir sy/haar plaas is nie. Sulke foute is duur.”

Leer meer oor die bestuur van bemestiging van aangeplante weiding hier.

Nuwe prioriteite

Klopper sê tyd en geld moet ook regdeur die finansiële jaar opsygesit word vir ander uitdagings, waaronder plaasveiligheid en veediefstal. “Veediefstalbekamping het ’n voltydse werk geword en vereis uitgawes soos die installasie van kameras wat waarskynlik minstens een keer per jaar gediens moet word.”

Verder moet produsente ook begroot om patrollie te ry, wat waarskynlik nie net oortydbetaling vir werkers kan insluit nie, maar ook die brandstofrekening en slytasie op voertuie verhoog.

“Diefstal vereis ‘n ernstige belegging, aangesien daar al hoe meer gevalle is waar veediefstalsindikate ’n hele trop diere op ’n slag sal steel. Soos die ontvolking van die platteland toeneem, sal die probleem waarskynlik vererger.” Patrollies is eintlik besig om ’n weeklikse uitgawe vir die meerderheid veeprodusente te word. Ook hier is daar nie ’n enkele oplossing vir alle produsente nie; sekuriteitsmaatskappye in sekere omgewings is bereid om patrollies teen ’n vaste fooi per hektaar te ry. Dié koste lyk uiteraard anders as die uitgawes van ’n produsent wat self patrolleer.

Veldbrande is nog ’n uitgawe wat al hoe meer tyd en geld van produsente vereis. “Binne die somerreënvalgebied is brandslaan tussen Augustus en September ’n permanente uitgawe. Op die Lesotho-grens is dit nie ongewoon om te sien dat tussen 20 000 en 40 000ha op ’n slag afbrand nie.”

Dr Lombard sê uiteindelik sal dit vir produsente raadsaam wees om hul plase se kalenders aan te pas by beskikbare hulpbronne en veranderinge tussen jare. “Wat veegesondheid betref, sal jou plaaslike veearts leiding moet gee en ’n voedingkundige jou help met die geskikte lek vir die regte tyd en toestande.” – Susan Marais, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr WA Lombard by LombardWA@ufs.ac.za of Koot Klopper by Koot.Klopper@absa.africa.

Must Read

Extensive research conducted on disease resistance

Every year animal diseases lead to millions of rand worth of production losses. Since control is becoming increasingly more expensive and challenging, scientists are...