Estimated reading time: 7 minutes

Sou dit nie wonderlik wees as ’n mens vooraf kon weet dat ’n droogte op pad is en jy betyds voorsiening daarvoor kan maak in jou veeboerdery nie? Met die regte beplanning is dit wel tot ’n groot mate moontlik, sê prof Kevin Kirkman, ’n grasveldkundige van die Universiteit van KwaZulu-Natal.

In die eerste plek, sê hy, moet ’n mens aanvaar dat daar meer droë as nat jare is, en dat hierdie tendens waarskynlik meer beduidend gaan word soos wat klimaatsverandering intensiveer. Hy wys daarop dat die gemiddelde reënval in Suid-Afrika oor die afgelope 112 jaar 608mm was, maar dat die gemiddelde reënval vir 57% van daardie jare onder hierdie syfer was. Verder was daar abnormale jare van besonder hoë reënval wat die gemiddeld kunsmatig opstoot.

Oorweeg Oumansoutbos as droogte-veekos

“Wat hierdie syfers duidelik wys,” sê hy, “is dat Suid-Afrika deur wisselvalligheid gekenmerk word as dit by reënval kom, en dat dit dus noodsaaklik vir produsente is om droogtebeplanning deel van hul jaarlikse weidingstrategie te maak.”

Behalwe vir die winterreënvalstreek, word Suid-Afrika oor die algemeen deur koue, droë winters gekenmerk. Elke winter kan dus streng gesproke as ’n droogte beskou word, waartydens spesifieke voorsiening vir genoegsame voer aan vee gemaak moet word.

Wat egter algemeen as ’n werklike droogte geklassifiseer word, is wanneer een of meer van drie klimaatstelsels ondervind word, naamlik ’n abnormale lang, droë winterseisoen met ’n droë herfs, lente of beide; ’n enkele abnormale droë somerreënseisoen; of ’n meerjarige droogte met ondergemiddelde reënval vir twee of meer seisoene.

Droogtes word verder ook deur die reënvalverspreiding binne ’n seisoen beïnvloed.

Veldbestuur vir weiding

“My benadering tot veldbestuur, wat droogtebeplanning insluit, is gebaseer op die korrekte bepaling van die hoeveelheid weiding wat ek vir die wintermaande gaan benodig om die aantal vee wat ek deur die winter wil neem, te dra. Die beskikbaarheid van en behoefte aan voer moet dus met mekaar versoen word.”

Hy beveel aan dat ’n produsent, op grond van die spesifieke omstandighede op sy plaas, ’n begin- en einddatum vir die verskillende seisoene bepaal.

“As jy byvoorbeeld 1 November gebruik as die datum waarop nuwe groei genoeg weiding aan jou vee begin bied, en 1 April die datum waarop groei nie meer plaasvind nie, dan weet jy dat jy vir sewe maande, vanaf April tot Oktober, voorsiening moet maak in die vorm van kampe wat nie tydens die somer bewei is nie. Jou groeiseisoen is dus vyf maande lank, waartydens al jou voer vir twaalf maande geproduseer moet word.”

Met so ’n stelsel as basis, sê hy, kan produsente redelik maklik berekeninge maak van die tekorte wat as gevolg van ’n droogte mag ontstaan.

Baie droë somers

Die eerste scenario wat hy skets, is wanneer die somer droër as gewoonlik is en die veld dus nie so produktief as normaal is nie. By implikasie is die somerweiding dan nie nét minder produktief nie – die groei van die winterveld gaan ook nie baie produktief wees nie.

Aan die einde van ’n droogte is dit veilig om te aanvaar dat alle beskikbare weiding hard bewei sal wees.

“As jou somerveld van so ’n aard is dat jy in plaas van 1 April, reeds op die eerste Maart na jou winterweiding moet skuif, weet jy dat jy aan die einde van die winter een maand se weiding te min gaan hê. Maar omdat die veldproduksie vir winter- en somerveld gedurende dieselfde groeiseisoen plaasvind, gaan jy beslis ook ’n maand se produksie in die winterveld inboet. Dit beteken dat jy teen die einde van die winter eintlik twee maande se weiding te min gaan hê.”

Die groot voordeel daarvan om jou weiding só te beplan, is dat jy reeds ’n goeie sewe maande voor die tyd kan weet dat jy ’n voertekort van twee maande gaan hê. Jy het dus genoeg tyd om strategieë te implementeer om die impak daarvan te versag.

“As jy dus weet dat jy teen die einde van Augustus nie meer voer gaan hê nie, kan jy betyds oortollige diere in die mark stoot en nog goeie pryse behaal. Alternatiewelik kan jy voer begin inkoop teen pryse wat nog nie deur die verhoogde vraag beïnvloed is nie, of jy kan ekstra grond huur om weiding aan jou diere beskikbaar te maak. Jy het dus ’n waarskuwingstydperk van minstens ses maande om ’n toepaslike strategie te implementeer,” verduidelik hy.

’n Belangrike uitwerking van ’n besondere droë somer, waar die grond nie genoeg vog kry nie, is dat die grond teen die begin van die volgende lente baie droog gaan wees. Dit beteken dat die veld nie so vinnig op reën gaan reageer soos in ’n normale jaar nie. Jy kan egter ook hiervoor voorsiening maak, deur die aantal maande waartydens jy ’n voertekort gaan ondervind, in jou beplanning aan te pas.

Laat aanvangs van die reënseisoen

’n Ander tipe droogte is wanneer die reënseisoen laat begin. “Hierdie is waarskynlik die moeilikste scenario om te hanteer, juis omdat jy nie lank voor die tyd waarskuwingstekens kry nie. Vir hierdie omstandighede is ’n voerbank noodsaaklik. Dit is egter nie ’n voerbank in die klassieke sin van die woord nie, maar eerder in die vorm van ekstra spaarveld.”

In jou berekening van hoeveel winterveld jy benodig om genoeg weiding tot die volgende groeiseisoen te hê, is dit raadsaam om altyd ’n ekstra gedeelte veld te spaar, ingeval die reënseisoen laat begin. Onder normale omstandighede in die oostelike somerreënvalgebiede, is dit veld wat waarskynlik gebrand sal word indien dit nie vir droogteweiding gebruik word nie.

“Dit is dus belangrik dat jy, wanneer jy bereken hoeveel veld jy vir winterweiding gaan benodig, ekstra weiding byreken om jou vir minstens twee maande te dra, sou dit laat begin reën,” sê hy.

As ’n mens hierdie beginsels toepas, meen hy, sal jy oor tyd ’n baie goeie idee kry van presies wat die beste veebelading vir jou plaas is, sodat jy steeds in staat is om jou vee deur te dra as die reën laat kom. 

Meerjarige droogtes

Langdurige droogtes, waar onvoldoende reën vir meer as een jaar val, stel natuurlik eiesoortige uitdagings aan die veeboer. Deur dieselfde beginsels soos genoem toe te pas, sal produsente baie meer sekerheid hê van waar hulle staan wat weidingsbeskikbaarheid betref, en vroegtydig stappe kan neem met betrekking tot die vermindering van dieregetalle en/of aanvulling van voer.

Hierdie benadering tot veldbeplanning, sê hy, verseker dat wat in die somer gebeur, ’n goeie spieëlbeeld bied van wat in die komende winter te wagte kan wees. Die saamloop van somer- en winterproduksie van weiding maak die beplanning vir moontlike klimaatafwykings aansienlik makliker.

Aan die einde van ’n droogte is dit veilig om te aanvaar dat alle beskikbare weidingsbronne hard bewei sal wees, sê hy. Dit kan beide positiewe en negatiewe implikasies hê. Aan die positiewe kant sal die beweiding van alle plantspesies, smaaklik en minder smaaklik, redelik eenvormig wees. Aan die ander kant moet aanvaar word dat die herstel na normale produktiwiteitsvlakke waarskynlik tyd sal neem.

Spesiesamestelling in die veld mag ook beïnvloed word met ’n skuif na minder smaaklike pionierspesies. Indien veegetalle egter gedurende die droogte verminder is, sal die herstel van produktiwiteit en spesiesamestelling vinniger plaasvind, omdat die verlaagde behoefte aan voer die veld geleentheid gee om te rus.

Voerbanke vir droogtetye

Die konsep van ’n voerbank in die vorm van opgegaarde hooi of kuilvoer vir droogtetye, kan problematies wees as jy ’n ekstensiewe, veldgebaseerde rooivleisprodusent is, meen prof Kirkman. “Die produksie van hooi of kuilvoer vir ’n ekstensiewe rooivleisproduksiestelsel is selde ekonomies regverdigbaar as dit nie normaalweg deel van die produksiestelsel is nie.

’n Voerbank wat ongebruik lê gaan agteruit, wat beteken dat dit gereeld vervang moet word, wat dus tot die koste daarvan bydra. Vir so ’n voerbank om regverdigbaar te wees, moet dit deel van die algehele voersiklus wees.”

Volgens hom is dit baie beter om eerder jou veldbestuur só aan te pas, dat spaarveld as ‘n voerbank dien.

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan prof Kevin Kirkman by kirkmank@ukzn.ac.za.

noodhulpkas, Dormers, predasiebeheer