Hartwater verg goeie voorsorg

31

Estimated reading time: 4 minutes

Hartwater is nie ’n moderne siekte nie en het veeboere so ver terug as die Voortrekker-dae groot hoofbrekens besorg. Dié siekte het sy oorsprong noord van die Magaliesberg gehad en vandaar, weens die verskuiwing van diere en ander redes, na verskeie ander dele van die land versprei.

Dr Ivan Kotze van Nelspruit Dierehospitaal sê hartwater is ’n endemiese siekte in Suid-Afrika en word hoofsaaklik deur die bontbosluis (Amblyomma hebraeum), ‘n driegasheerbosluis, oorgedra. “Die siekteveroorsakende mikroörganisme, Ehrlichia ruminatium, ‘n ricketssia, word deur die bontbosluis na die bloedstroom van die gasheerdier oorgedra tydens enige van die drie stadia van die bosluis, terwyl die bosluis aan die dier vasheg en sy bloed suig,” verduidelik hy.

Die siekte kan nie direk van een dier na ‘n ander deur byvoorbeeld kontak oorgedra word nie. Dit kan slegs deur bosluise van een dier na ‘n volgende oorgedra word.

Siektetekens

Dr Jan du Preez skryf dat, behalwe vir klein- en grootvee, selfs kleinwild, hase en sommige grondlewende voëls soos tarentale ook met hartwater besmet word. Dié wild toon geen kliniese tekens nie, maar die hartwaterorganisme sirkuleer in hulle bloed.

Verskeie kliniese tekens kom by groot- en kleinvee voor. Hoë koors en lusteloosheid is van die vroegste tekens en aangetaste diere wil ook nie vreet nie en sak gewoonlik uit by die res van die kudde.

“ ’n Skuimerige neusafskeiding is ook ’n sterk aanduiding van hartwater, en moeilike asemhaling en ander respiratoriese tekens gaan hiermee gepaard,” verduidelik dr Kotze. “Terminale neurologiese tekens begin ook later wys en sluit spiersametrekkings in. Die diere is ook geneig om hul pote, veral die voorpote, hoog op te tel as hulle loop. Net voor hulle vrek, gaan lê geaffekteerde diere dikwels op hulle sy en trap in die lug, amper soos iemand wat fietsry.”

Diere wat aan hartwater ly is ook gevoelig vir lig en knip die ooglede vinnig as hulle aan lig blootgestel word. Hulle oë rol ook heen en weer in die oogkaste.

Behandeling

Dr Kotze sê hoewel die siekte regdeur die jaar voorkom, neem dit in die reënseisoen toe, wanneer bosluise volop is. Hy verduidelik dat diere eerstens met die korrekte dosis tetrasiklien behandel word. Dié antibiotika word toegedien om die organisme dood te maak, maar soms is dit nie genoeg nie en moet ondersteunende behandeling ook toegepas word.

“Die middels om te gebruik hang van die simptome af. Kontak jou veearts wanneer jy simptome sien, sodat die korrekte behandeling gegee kan word.”

Goeie bosluisbeheer

Hy meen voorkoming is die beste manier om hartwater uit die kudde te hou. “ ’n Goeie bosluisbeheerprogram is een van die belangrikste maniere om die siekte weg van die kudde te hou,” sê hy.

Die hele doel moet wees om endemiese stabiliteit in die kudde te bewerkstellig waar die voorkoms van kliniese siek diere laag sal wees, ten spyte van bosluise wat moontlik aanwesig mag wees. Om endemiese stabiliteit te bewerkstellig, is dit raadsaam om veral jong diere aan ’n lae lading van bosluise bloot te stel, sodat hulle immuniteit teen hartwater kan opbou. Jong diere ontvang ook ’n mate van immuniteit vanaf hul moeders en word gewoonlik nie geaffekteer nie.

“Kalwers moet binne drie weke na geboorte ingeënt word en lammers binne die eerste week na geboorte. Op dié ouderdom is behandeling ná inenting gewoonlik nie nodig nie.”

Volgens hom word volgehoue, intensiewe bosluisbeheer oor lang tydperke, in gebiede waar hartwater gereeld voorkom, nie aanbeveel nie. Dit is beter dat die diere op ’n natuurlike wyse sélf immuniteit teen die siekte opbou.

Diere wat van ‘n hartwatergebied na ‘n nie-hartwatergebied verskuif word, moet gedip word voor hulle verskuif word. Dit bly ‘n risiko om volwasse diere vanaf ‘n nie-hartwatergebied na ‘n hartwatergebied te verskuif. “Kontak jou veearts voor jy oorweeg om dit te doen,” maan dr Kotze.

Blootstelling is belangrik

Diere wat nie as jong diere blootstelling kry of nie ingeënt word nie, staan ’n goeie kans om die siekte op te doen en is vir die veeteler ’n groter risiko. Inenting met ‘n hartwater-besmette entstof wat slegs binneaars vir beeste, bokke en skape toegedien moet word, is beskikbaar. Diere jonger as drie weke moet verkieslik ingeënt word, aangesien ouer diere ‘n potensiële dodelike reaksie na inenting mag ontwikkel. Ouer diere moet verkieslik in samewerking met die kuddeveearts ingeënt word.

Bosluisweerstandigheid: Moenie wonder nie, weet!

Dit is verder belangrik dat diere vir ’n maand ná inenting dopgehou word, omdat hulle siektetekens kan ontwikkel en dit dadelik behandel moet word. Ingeënte diere moet ook so gou as moontlik ná inenting aan natuurlike bosluisbesmetting blootgestel word om hul immuniteit te versterk. Dr Kotze maan egter dat dragtige diere nie ingeënt moet word nie, want dit kan hulle laat aborteer.

Toetse het ook bewys dat diere wat in ’n sogenaamde blokprogram, oor ’n tydperk met tetrasiklien behandel is, redelike goeie beskerming teen die siekte geniet,” sê hy.

Vir meer inligting, kontak dr Ivan Kotze by 013 752 8271.

Boerbokmark, grain, acidosis, mikotoksiene