Sunday, August 14, 2022
HomeMagazinesBuffers om jou teen droogte te verskans

Buffers om jou teen droogte te verskans

Estimated reading time: 5 minutes

Die sukses van droogte-oorlewing lê daarin om in die goeie tye reeds proaktief vir droogte gereed te maak deur buffers in plek te kry. Dit verminder die geskarrel na oplossings wanneer die droogte reeds sy tande begin inslaan.

Die eerste buffer teen droogte, is veld wat in ’n goeie toestand is. Die tweede is om met aangepaste vee, kuddesamestellings en produksiestelsels te boer. Hierdie twee buffers is in verskeie artikels in die Maart- en Mei-uitgawes van Veeplaas behandel.

Voerbanke en noodfondse

Die derde buffer behels die opbou van ’n droogtevoerbank en/of ’n noodfonds. Hoe groter ’n gebied se droogterisiko en/of hoe swakker die toestand van die veld, hoe belangriker is dit om vir ’n droogtevoerbank voorsiening te maak. Dit kan uit voergewasse, hooi, oesreste en kuilvoer bestaan, en word gewoonlik net vir die kernkudde gereserveer.

Droogtevoergewasse soos doringlose turksvy en garingboom het die vermoë om groot hoeveelhede ruvoer op ’n natuurlike wyse te berg. Oumansoutbos word ook dikwels as ’n droogtevoergewas ingespan, hoewel die produksie daarvan tydens ’n droogte kan teleurstel.

Hooi, oesreste en kuilvoer moet sodanig opgeberg word, dat weerstoestande nie die gehalte daarvan benadeel nie. Die hoeveelheid wat opgeberg moet word, sal afhang van die lengte van die droogte wat verwag word, asook die getal diere wat gevoer moet word. ’n Algemene reël is om genoeg voer te berg om vee vir 180 dae (ses maande) voluit te kan voer.

Turksvy: ‘n Onwaarskynlike buffer teen droogte

’n Alternatief is om ’n droogtefonds in die bank te hê waarmee voer aangekoop kan word. Maak seker dat die fonds in ’n droogtejaar likied is – dit is byvoorbeeld moeiliker om vaste eiendom te likwideer as ’n aandeleportefeulje of ’n geldmarkfonds. Wees wel bedag daarop dat aandele tydens ’n droogte toevallig op ’n laagtepunt kan wees.

Sommige produsente verhoog hul veegetalle in goeie jare om dan in die droogte te verkoop, sodat hulle voer kan aankoop. Wees egter versigtig dat hierdie praktyk nie tot veldagteruitgang lei nie. Ander produsente belê in besproeiing. Maak seker dat die waterbron standhoudend genoeg is om die stelsel selfs in droë jare deur te sien. Plant gewasse en installeer ’n besproeiingstelsel wat water doeltreffend en spaarsamig gebruik.

’n Gesonde finansiële posisie

Die vierde buffer is ’n gesonde finansiële posisie wanneer die droogte toeslaan. ’n Boerdery wat tydens ’n gemiddelde reënjaar onder finansiële druk verkeer, gaan waarskynlik nie ’n droogte finansieel oorleef nie.

Die boerdery se finansiële verpligtinge (skuld) moet eerstens van só ’n aard wees, dat dit selfs in ’n droogtejaar gediens kan word. Die minimumvereiste is dat die boerdery tydens droogtes minstens die renteverpligtinge op alle langtermynskuld kan diens. Hoe hoër die droogterisiko, hoe swakker die plaas se veldtoestand en hoe ouer die produsent, hoe belangriker raak dit om konserwatiewe skuldvlakke te handhaaf.

Neem deel aan ’n ekonomiese studiegroep of gebruik ’n rekenmeester wat volledige bestuurstate kan opstel. Dit is al manier om vas te stel of die boerdery finansieel optimaal presteer. Kontantvloeibegrotings moet deel hiervan uitmaak.

Vroeëwaarskuwingstelsels

Droogte ontwikkel geleidelik en is moeilik om waar te neem, veral in die beginstadium. Hoe vroeër veeboere bewus kan raak van ’n ontwikkelende droogte, hoe gouer kan hulle defensiewe bestuurstaktieke inspan. Die vyfde buffer – ’n betroubare vroeëwaarskuwingstelsel – is daarom noodsaaklik.

Daar is verskeie instansies en individue wat weerstoestande monitor en vroeë waarskuwingstelsels bestuur. Die vernaamstes is die Nasionale Agri-meteorologiese Komitee (NAC) se verslae (kentses@daff.gov.za), die Umlindi-nuusbrief (maaker@arc.agric.za), die Suid-Afrikaanse Weerburo, en bekende weerkundige Johan van den Berg se maandelikse nuusbrief.

Die verwerking van ’n plaas se eie reënvalsyfers is ook ’n nuttige hulpmiddel om van ’n ontwikkelende droogte bewus te word. Johann Olivier en sy seun Gert, van die plaas Jones in die Kuruman-distrik, het so ’n stelsel ontwikkel (sien Figuur 1).

Hul metodiek behels die volgende: Eerstens word ’n drie-jaar lopende gemiddeld van die jaarlikse totale reënval bereken. Daarna bereken hulle die afwyking van die drie-jaar gemiddeld van die langtermyn gemiddelde reënval. Gestel die langtermyn gemiddelde neerslag is 376mm en die drie-jaar gemiddeld vir die betrokke tydperk is 334mm, dan is die afwyking ‑42mm. Sodra die afwyking negatief raak, kan dit aandui dat ’n droogte op pad is.

Byvoorbeeld, in die sewe jaar vóór 2013 (Figuur 1) was die drie-jaar gemiddeld bo die langtermyngemiddeld. In 2013 het dit egter onder die langtermyngemiddeld begin inskuif, wat ’n teken was dat die situasie verander het. Derhalwe het die Oliviers vanaf 2014 ’n droogte beleef. Die punt is dat die eerste tekens van ’n ontwikkelende droogte reeds so vroeg as 2013 sigbaar was.

Figuur 1: Voorbeeld van ’n reënvalmoniteringstelsel: Afwyking van drie-jaar gemiddelde reënval van langtermyngemiddeld.

Einde-van-seisoen afsnydatums

Navorsing op Karoo-bossieveld toon ’n sterk verwantskap tussen die weidingstoestande wat aan die einde van die reënseisoen heers (Maart en April) en die weidingstoestande tot en met die begin van die volgende reënseisoen.

Byvoorbeeld, as dit in Maart reeds droog is, is daar, volgens dié navorsing, ’n 72% kans (sewe uit tien jaar) dat die res van die seisoen ook droog sal wees. Indien daar dus reeds in Maart gereageer en die veestapel stelselmatig verminder is, sal dit sewe uit tien keer ’n goeie besluit wees. Hierdie tipe vroeë waarskuwing verhoed dat daar té laat met die verkleining van die veestapel begin word.

Die volgende afsnydatums word vir die somerreënvalgebiede van Suider-Afrika aanbeveel (telkens die maand waarin daar na die heersende toestande gekyk moet word as riglyn vir wat in die res van die produksieseisoen verwag kan word):

  • Grasveld in koeler, hoogliggende gebiede: As weiding in Januarie skraps is, wanneer 60% van die groeiseisoen reeds verby is, is daar ’n 50% kans op voertekorte in die daaropvolgende winter. As weiding teen middel Maart skraps is, sal daar beslis voertekorte wees.
  • Grasveld in warmer gebiede: As weiding teen middel Mei skraps is, is die kans goed dat voertekorte in die winter en lente sal voorkom.
  • Gemengde gras- en bossieveld: As weiding teen middel April skraps is, kan voertekorte verwag word.
  • Bossieveld (somerreëngebiede): As weiding teen middel April skraps is, sal voertekorte waarskynlik voorkom. – dr Louis du Pisani, onafhanklike landboukonsultant

Vir meer inligting en bronverwysings, kontak dr Louis du Pisani by 082 773 9778 of Ldupisani@gmail.com.

Must Read

Versorging van ooie en lammers tydens lamtyd

Estimated reading time: 4 minutes Sorgsame bestuur van pasgebore lammers en hul moeders is noodsaaklik vir ’n stewige lammer-oes. Goeie versorging tydens die eerste...