turksvy

“Ek boer al 30 jaar in die Roggeveld. Ons kry elke jaar hier ’n seisoenale droogte en sommige jare is dié droogte ekstra lank.” Só vertel Chrisjan Jordaan van die plaas Matjiesfontein buite Sutherland. Die plaas is al 150 jaar in die hande van die Jordaans en hy is die vierde geslag wat hier boer.

Read this in English

In dié tipiese Karoo-skaapboerdery word op ongeveer 8 000 hektaar gewoeker met Merinoskape, Swartdorpers en Meatmaster-Damara-kruisings. Chrisjan verbou ook lusern en hou ’n klein kudde Nguni-beeste ekstensief aan.

Hy vertel: “In die droogtetye moet jy, sonder om jou bankrekening leeg te maak, steeds verseker dat die skape hul kondisie hou, goeie vrugbaarheid toon en teen lamtyd genoeg melk het, sodat jy produktief kan boer. Ek het besef dat ek iets sal moet plant waarmee ek my ander voerbronne kan aanvul, wat in die omgewing pas en wat ekonomies as voer gebruik kan word.”

 Die regte variëteite

Die afgelope drie jaar plant Chrisjan turksvy. Hy het al verskeie variëteite juis vir dié doel gepant. “Dit is nog in ontwikkeling, maar ek baat reeds uitstekend daarby. Ek het nou so ongeveer 10 hektaar onder turksvye. Die opbrengs hiervan word op verskeie maniere aangewend as addisionele voerbron. Eerstens as weiding, aangesien die skape tussen die turksvye wei en aan die blaaie en vrugte smul. Die vrugte word egter ook gepluk en die blaaie gekap om as groenvoer en gedroog deel van die voerrantsoen te vorm.

“Ek eksperimenteer nog deur verskeie variëteite te plant. Op die oomblik het ek twaalf in die grond.”

Een van die eienskappe waarvoor Chrisjan in die variëteite van turksvy oplet, is rypgevoeligheid. Hy verduidelik dat die plante dikwels rypskade opdoen, veral as reeds aan die blad gewei is. “Die eerste jaar het ek baie rypskade gehad, maar die skade word elke jaar minder namate die plante in die omgewing aanpas.”

Nie ’n doring in die vlees nie

Nog ’n belangrike aspek is dat variëteite geplant word wat feitlik doringloos is. Volgens Chrisjan het die nuwer variëteite feitlik geen dorings nie, smul die skape heerlik daaraan en het hy nog geen probleme gehad met skape met seer bekke as gevolg van dorings nie.

Om goeie weiding te verseker, is die turksvy smaaklikheid ook baie belangrik. “Van die variëteite is verseker vir die skape meer smaaklik as ander. Ek het byvoorbeeld een plantasie waar Gymno Carpu en Robusta langs mekaar geplant is. Die Gymno Carpu is reeds feitlik tot teen die grond gevreet en hulle begin nou eers aan die Robusta vreet.”

Laastens is blad- en vrugopbrengs ook baie belangrik. Namate die plante vestig en groei, neem die opbrengs toe. “Proewe wat by die Universiteit van die Vrystaat gedoen is, dui aan dat jy van jaar ses ongeveer 50 ton blaaie en 25 ton vrugte per hektaar per jaar kan afhaal. Dit het dus die potensiaal om ’n massiewe addisionele voerbron te wees.”

 ’n Uitstekende hulpmiddel

Wat die uitwerking op die skape betref, getuig Chrisjan dat die skape se kondisie goed lyk, die ooie melk het en hul vrugbaarheid goed is. “Die groot verskil is dat ek laasgenoemde makliker in droogtes kan handhaaf.”

Dit is baie belangrik om die rol wat turksvy kan speel, reg te verstaan. “Die doel is slegs om die bestaande voerbronne op die plaas bekostigbaar aan te vul. Ek gebruik’n kombinasie van die natuurlike Karoobossie-weiding, lusernweiding, oumansoutbos en die turksvye as weiding.”

Die turksvye is werklik ’n goeie hulpmiddel in droogtes, veral omdat daar baie vog in die blad asook die vrug is. Beide die vrug en die blad bied uitstekende voedingswaarde en kan ook goed in kuilvoer gebruik word.

“As voer kan ek dus die turksvyplant op verskeie maniere aanwend. My langtermynplan is dat die turksvye saam met die kleingrane wat ek hier saai my volledige kragvoerbron is en dat dit glad nie nodig is dat ek kragvoer addisioneel aankoop nie. So kan ek my insetkoste aansienlik verlaag.

“Wat lekke en ander byvoeding betref, is klaargemaakte produkte net te duur. Ek koop en produseer die nodige grondstowwe en meng al my voere self koste-doeltreffend en suksesvol met ’n selfgemaakte mobiele menger.

Nie ’n watervraat nie

“As jy watergebruik meet teen opbrengs en voedingswaarde, klop min dinge die turksvye in ons gebied,” sê Chrisjan.

Hy beklemtoon wel dat hy hiermee glad nie sê dat jy jou hektare hoë potensiaal-grond wat met lusern beplant is met turksvye moet vervang nie. Vir die lae potensiaal-grond wat voorheen swak benut of heeltemal onbenut was, bied dit wel ’n baie goeie moontlikheid.

Die turksvye groei baie maklik en is baie gehard. “Van die lande wat voorheen byna geen nut gehad het nie, bied nou ’n goeie opbrengs. Wat turksvye ook uniek maak, is dat dit die enigste plant is wat die vermoë het om ’n millimeter reën uit die grond op te trek. Elke krieseltjie water kan dus benut word.”

 “As jy in die Karoo boer, boer jy in ’n ariede gebied,” sê Chrisjan. Daar is altyd jare wanneer die reën net te lank wegbly en die lusern later witdroog op die lande staan. Dit het hom nie net gedwing om sy voerbank te vergroot nie, maar hy het ook as gevolg daarvan besluit om niks te plant wat hy nie kan besproei nie. Vir die lusern gebruik hy besproeiing uit opgaardamme, maar die turksvye word met drupbesproeiing direk van die windpompe met water voorsien.

Die regte plan op die regte tyd

“Die belangrikste vir die sukses van ’n boerdery is dat jy dit gemaklik kan bestuur. So laat jy vir jouself meer beheer toe en kan jy op die regte tyd die regte plan maak.”

Dit sluit alles in van die seleksie van diere wat op jou plaas kan presteer, tot die gebruik van goeie stelsels en selfs die instandhouding van die paaie op die plaas. “Ek het ongeveer 50km se paaie op die plaas aangelê sodat ek byna oral met die bakkie of motorfiets kan uitkom. So kon ek die plaas baie meer toeganklik maak en dus baie beter beheer hê, uitdagings beter bestuur en kan die werkers op die plaas ook hoër produktiwiteit behaal.”

Hy meen dit is baie belangrik om nooit toe te laat dat jou ondernemingsgees jou vermoë oorskry nie. “So beland jy vinnig ’n maalkolk van skuld wat jou gaan onderkry. Wees bewus van die realistiese uitdagings, werk saam met die natuur en maak praktiese planne om die uitdagings te oorkom. Nes in enige beroep, bly dit myns insiens die belangrikste om die basiese dinge reg te doen en positief te bly.” –Marike Brits, Veeplaas (Desember 2014)

Vir meer inligting, kontak Chrisjan by epos katstert@telkomsa.net.

,hartwater, wegholveldbrande, veldbrande, skeerpraktyke, boerbokke, karobboom