‘n Bakkie kom tot stilstand tydens wol se boom-tydperk

Estimated reading time: 6 minutes

Net ná die Tweede Wêreldoorlog, in jare gekenmerk aan swaarkry, het die wêreld gesukkel om weer op die been te kom en normaal te funksioneer. Ekonomieë was geknou deur die wêreldwye oorlogskatastrofe.

Slegs ses jaar na die Tweede Wêreldoorlog het die onweerswolke weer saamgepak om Korea, en die Koreaanse Oorlog het tussen Noord- en Suid-Korea uitgebreek. Noord-Korea was hoofsaaklik deur China en die Sowjetunie ondersteun, terwyl Suid-Korea steun vanaf die Verenigde Volke-organisasie (VVO), maar veral van die Verenigde State, ontvang het.

In hierdie tyd het die Amerikaners woluniforms benodig om hul troepe teen die ysige Koreaanse klimaat te beskerm. Hulle het die wolmark ingeklim met groot aankope. Dit het die mark die stukrag gegee wat die sogenaamde wol-boom-tydperk van 1951/52 ingelui het. Gedurende hierdie bloulinttydperk vir die wolbedryf is uitstekende pryse behaal; die rekord vir daardie tyd was een Britse pond vir een pond (gewig) wol.

Die groot boom

Met die aanbreek van die wol-boom het ’n tydperk van ongekende goeie inkomste uit die ou vaalskaap se wol ontstaan. Die woord boom verwys direk na die Engelse begrip wat ’n ekonomiese oplewing of boom period beskryf.

Dit het so goed gegaan met wolprodusente dat die groot herehuise, ramstalle en skeerstore wat vandag nog die Karoo versier, juis in daardie tyd opgerig is. Kinders is na spogskole en universiteite gestuur, en spoggerige motors is aangekoop. Selfs vliegvelde is in Karoodorpe gebou waarop vliegtuie kon land wat produsente en hul gesinne na luilekker plekke vervoer het.

Dit was ’n tyd waarin Karooprodusente se menswaardigheid herstel het na die moeilike tye wat hulle moes deurmaak, en talle het ryk geword uit die opbrengste van die goue vag.

Waardevolle raad

Oom Louis en tannie Rina van Dyk het in Smithfield in die Suid-Vrystaat geboer, en die Merino het goed vir hulle gesorg, soveel so dat oom Louis vir hom in daardie tyd ’n splinternuwe Chev-bakkie gekoop het. Veral die buite-gemonteerde spaarwiel tussen die agterste modderskerm en die kajuit het groot byval by oom Louis gevind.

In daardie tyd ontvang hy ’n telegram van sy wolmakelaar in Oos-Londen, waar die streek se wolveilings destyds gehou is. Die telegram meld die datum waarop sy wolskeersel onder die hamer sou kom. Oom Louis besluit summier dat hulle die veiling persoonlik gaan bywoon en hulle val met die nuwe Chev-bakkie in die pad. Nou, oom Louis se bestuurvernuf was nog nie heeltemal goed geslyp nie, aangesien hy nog nie sy bestuurderslisensie lank gehad het nie.

Hy kry heelwat vermanings en goedbedoelde advies vir die langpad. Alles verloop seepglad tot by die Penhoekpas tussen Jamestown en Queenstown, toe ’n onverwagte klapgeluid van regs agter oom Louis opklink. Dadelik skop al die wenke van die goeie raadgewers oor hoe om ’n skielike pap band te hanteer, volledig in.

Hy onthou hoe daar gewaarsku is dat die voertuig heen en weer sou swaai, veral teen 50 myl per uur of vinniger, en dat die beste aksie is om die stuurwiel ferm vas te hou, jou voete van die pedale af te hou en die voertuig op sy eie tot stilstand te laat kom. Die inligtingspamflet oor veilige bestuur het ook gewaarsku dat indien jy sou rem trap, die voertuig in die rondte sal tol.

Die pamflet het verder in groot, vet letters aanbeveel dat jy hierdie inligting in jou geheue moet vaslê, wat oom Louis terdeë gedoen het. Die slotsom van die advies was dat jy ten alle koste die stuurwiel moet vashou en die voertuig in die pad probeer hou.

Die bakkie in die bome

Nou, dit was alles baie goedbedoelde raad, maar die probleem was dat oom Louis reeds oor die Stormberg se kruin was, en van daar af was dit net afdraande. Dit sou dus bars gaan om die Chevy vanself tot stilstand te laat kom. Oom Louis het baie goed gevaar met die raad van “kyk voor jou en hou die voertuig in die pad”, maar die Chevy wou nie vanself tot stilstand kom nie.

By elke stilhou- of piekniekplek het oom Louis gemik om af te trek, maar steeds het hy getrou by die kondisionering gebly. Tant Rina het ook kliphard help briek trap hier aan die linkerkant, maar ongelukkig was daar geen pedaal nie. Toe volg Allemanspoort se lang draai na regs, en daar wil die Chevy om die dood nie reguit hou nie en dit veroorsaak ’n groot probleem … 

Die bakkie neuk al hoe verder na regs en toe daar nogmaals ’n piekniekplek met sementbankies en drie Kareebome voor hulle opduik, besluit oom Louis om die Chev in die bome in te vat en sodoende die bakkie tot stilstand te dwing. Die geharde ou Chev hardloop die eerste boom plat, maar kom uiteindelik tot stilstand teen die tweede, met die derde boom wat as stilswyende getuie van hierdie voorval staan.

Toe die stof gaan lê en die reuk van gebreekte Kareetakke en warm rubber die lug vul, het hy uitgeklim, om die bakkie gestap en die takke weggedruk sodat tant Rina ook kon uitklim.

Oom Louis gaan kyk toe na die regter-agterband wat dan nou kwansuis gebars het. Nee, die band is steeds styf gepomp, nes die drie ander bande! Dit is met sy tweede inspeksie dat hy opmerk dat die spaarwiel, wat so mooi tussen die agterste modderskerm en die kajuit gemonteer was, van die naaf afgeklim het as gevolg van die Desember-hitte. Dit was die klapgeluid en die geblaas wat op die kruin van die berg gehoor is.

Die Chevy was nog heel padwaardig ná die ongeluk en hulle kon die reis na Oos-Londen voortsit, al het hulle heelwat later as beplan in hul hotel ingeboek. Die volgende dag by die veiling het baie van sy mede-wolprodusente opgedaag om na hul wolverkope te kyk, te luister en met hul makelaars oor die komende seisoen se wolmark te gesels.

Wol bring hoop

Die wolmark was weereens hoog en toe oom Louis se wol op die veiling ’n bod van 40 pennies vir ’n pond wol haal het hy moedeloos gesug, want by 60 pennies het hy geweet hy sal sy skuld kan betaal. Toe die bod uiteindelik op 78 pennies toegeslaan word, het oom Louis berusting gevind. Hy en tant Rina sou nog ’n jaar op die plaas kon oorleef.

Hy kon dan ook met hierdie wolgeldjie die Chevy, wat ’n paar duike opgedoen het en ’n gekraakte voorruit gehad het, tot sy volle glorie herstel. Nuwe bande was nie nou nodig nie en kon oorstaan tot die volgende skeersel weer onder die hamer kom.

Daarmee saam sou hy voer kon koop indien die ongevraagde droogte sou toeslaan, sodat hy sy vaalskape in produksie kon hou. So kon almal op die plaas, van die werkers tot die eienaars, nóg ’n jaar in die Suid-Vrystaat oorleef. – Pierré Vlok, BKB

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na pierre.vlok@bkb.co.za

Must read

RSG Landbou: 6 April 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor die 2026 LRF Veeskool, AFSTA se kongres en ons skop af met ons nuwe...

LandbouRadio: 6 April 2026

In Maandag, 6 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met onkruidkenner, prof Charlie Reinhardt, en hy gesels oor die...

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met die titel van Landbounavorsingsraad (LNR) Nasionale Vleisbeesverbeteringskudde van die Jaar...

LandbouRadio: 3 April 2026

In Vrydag, 3 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met 'n plaasvars landbounuusbulletin. ⁠Tydens die Afrika Saadverhandelingsvereniging se kongres in...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on the other hand, is the misfortune, accident, or disaster that...