Estimated reading time: 4 minutes

In die Suid-Afrikaanse regstelsel word die howe deurlopend bemoei met geskille tussen gades, gesinslede en selfs mense wat buite gesinsverband ’n lewensruimte deel. Dit is selde dat mense wat ’n lewensruimte deel, deurlopend in harmonie saamleef en alle partye volkome gemaklik is met die wyse waarop toegang tot hulpbronne geniet word.

Lees verwante artikels.

Die aard van verhoudings en interaksie tussen grondeienaars en plaasbewoners, asook tussen plaasbewoners, is nie gevrywaar van geskille waarvoor die regstelsel al oor eeue heen meganismes ontwikkel het, en, waar geskille nie opgelos kan word nie, bepaalde hofbevele gegee kon word om in die beste belang van al die partye toe te sien dat die partye se paaie permanent skei.

Die huwelik is die mees intieme verhouding tussen mense, maar by die onherstelbare verbrokkeling daarvan word mense nie regtens verplig om die huwelik voort te sit en binne mekaar se lewensruimte te bly nie.

Uitsetting by geskilbeslegting

Binne hierdie konteks is dit ooglopend dat die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, 1997 (Wet 62 van 1997) en die Wet op Grondhervorming, 1996 (Wet 3 van 1996) voorsiening maak dat persone wat op plase woon en kragtens die wetgewing beskerming geniet, afgesit kan word wanneer ’n onherstelbare verhouding tussen hulle en die eienaar sou ontstaan.

Geskrewe ooreenkomste wat verblyf op plase reguleer.

Die wetgewing omskryf nie ’n verhouding nie, maar gebruik onder meer elemente van ’n gesonde verhouding as maatstaf om te bepaal of die verhouding onherstelbaar verbrokkel het:

  • Wedersydse vertroue en respek.
  • Kommunikasie.
  • Tegemoetkomendheid tot veranderlike omstandighede op plase, byvoorbeeld bystand met die blus van brande of spaarsamige watergebruik tydens droogtes.
  • Handhawing van ’n balans in die uitoefening van regte.
  • Beheer oor die optrede van bona fide-besoekers.
  • Nakoming van ooreengekome verblyfsvoorwaardes.

Ten spyte daarvan dat die voorgemelde wetgewing voorsiening maak vir alternatiewe geskilbeslegting wat buite die bestek van die howe en ’n uitsetting val, is daar tans geen geloofwaardige instansies waar sulke geskille tussen grondeienaars en plaasbewoners blywend opgelos kan word nie. Die uiteinde van die meeste geskille, is uitsettingsverrigtinge.

Hierdie omstandighede word vererger deur die toetrede van persone en instansies wat, met politieke agendas, konflik op plase stook en geen belang het om verhoudings volhoubaar te herstel nie.

Mediasie by geskilbeslegting

Mediasie raak toenemend deel van ons regstelsel. Kostebevele is al in egskeidingsake toegestaan teen regslui wat namens hul kliënte die hof genader het sonder dat enige poging aangewend is om die geskil tussen die huweliksgades deur mediasie by te lê. Die reëls van die Hooggeregshof is ook al ’n geruime tyd gelede gewysig om mediasie deel van die oplossing van alle regsgeskille te maak.

Mediasie is ’n proses waar ’n onafhanklike persoon met spesifieke vaardighede en kennis, partye bystaan om ’n balans tussen hul onderskeie belange te bewerkstellig en blywende oplossings vir geskille te vind. Suksesvolle mediasies lei tot wen-wen uitkomste.

Die proses van mediasie

Partye stem in tot mediasie en onderwerp hulle aan die mediasieproses wat oor ’n dag of meer plaasvind en waar aktief, onder leiding van die mediator, aan oplossings gewerk word vir elke geskil wat die partye begerig is om te probeer oplos.

Buiten ernstige konflikte en gevalle waar die optrede van ’n party sodanig is dat grondeienaars en plaasbewoners se verhouding nie voortgesit kan word nie, is dit nodig dat meganismes geskep word om minder ernstige geskille tussen grondeienaars en plaasbewoners vreedsaam op te los en verhoudinge te herstel.

Mediasie is sonder twyfel ’n metode van alternatiewe geskilbeslegting wat ’n groot bydrae kan lewer om hierdie geskille op te los en tot meer volhoubare verhoudings kan lei.

Mediasie en grondhervorming

In tye waar Suid-Afrika met groot uitdagings rakende landelike veiligheid te kampe het, is dit duidelik dat daar herbesin moet word oor menslike verhoudings in landelike gebiede, en dat geen moeite ontsien moet word om beter stelsels in plek te kry en te verseker dat uitsetting die laaste (in plaas van die enigste) uitweg is om geskille tussen grondeienaars en plaasbewoners op te los. Dit behoort ’n prioriteit van grondhervorming rondom sekerheid van verblyf te wees.

Lees meer oor die indiensneming van onwettige immigrante.

Laastens sal so ’n proses ook die toetrede van derdepartye met verkeerde motiewe of politieke agendas beperk, omdat die fokus van ernstige konflik en drastiese optrede na ’n fokus op die herstel van verhoudings sal skuif. – HJ Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf

Vir meer inligting, kontak HJ Moolman by 018 297 8799, 018 297 0397 of hj@mmlaw.co.za.