’n Mens kan soms dikwels by dieselfde baken langs jou pad verby ry en jou voorneem om tog eendag dalk daar te stop. Doen jy dit wel, ontdek jy opnuut ’n juweeltjie wat agterweë sou bly as jy nog ’n keer verby ry. Op die N10, sowat 100km vanaf Upington of 50km vanaf Groblershoop, lok die vlaggies jou gereeld na die Kalbas Padstal. Doen een maal die moeite en stop ’n bietjie in die koelte.

Die vriendelike Sue-nita Visser vertel dat sy vroeër in die geboutjie skool gegaan het, maar dat die eienaars, Wollie en Petro Burger, dit in 2013 in ’n padstal omskep het. “Ek werk al sedert my Gr 10-jaar hier saam met my ma en los haar dikwels af,” vertel sy entoesiasties.

Die plek doen sy naam gestand, want hier kry jy pragtige kunswerke van kalbas wat op die plaas gekweek word. Sue-nita kan jou alles vertel van die proses waarmee die kalbasse voorberei word om uiteindelik in kunswerke omskep te word.

Kalbas
Sue-nita Visser.

“Eintlik boer hulle hier met rosyne, pekanneute, lusern en is die kalbasse ’n ekstra onderneming van die eienaar,” vertel sy. Die kalbasonderneming is natuurlik baie ouer as die padstal. Dit is aanvanklik as ’n Internet-besigheid begin en toe die skooltjie sluit, is die padstal geopen. Die kalbasse is omtower in ornamente, bruikbare bakke, voëltjievoerders, kersversierings en nog vele meer.

Lees meer oor Letskraal se merkwaardige opstal.

Die besigheid het ook al heelwat hoogtepunte beleef, soos die voorsiening van kalbasse vir die platforms tydens die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi. Hulle het ook al kalbasse verskaf vir twee films wat in Suid-Afrika (SA) geskiet is, asook vir die SA uitstalling van die Chelsea Blommeskou. Verlede maand moes die span hard werk vir ’n Hollywood-film wat gedurende November geskiet gaan word met die titel, The Woman King.

As jy klaar jou kalbassie gekies het, kan jy ’n lekker koppie tee en vars hoender- of wildspasteitjie in die koelte geniet. “Ja, die inperking het ons ook maar swaar getref, maar nou gaan ons weer aan,” was Sue-nita se antwoord op hierdie ellende. Stop gerus by die Kalbas Padstal en ontdek weer eens ’n juweel van die noordweste. As jy enige navrae oor die produkte het, skakel Wollie Burger by 083 303 7762. – Bets du Pisanie, AgriOrbit