HomeMagazinesDie koste van plaasinsette

Die koste van plaasinsette

-

Estimated reading time: 5 minutes

  • Die doel van hierdie studie is om die prys van insette wat vir veeproduksie aangewend word, maandeliks te monitor.
  • Die studie het in Desember 2023 afgeskop toe die pryse van die produkte in hierdie mandjie vasgestel is.
  • Tussen Desember 2023 en November 2024 was die grootste aangetekende prysstyging 20%, die laagste prysdaling -5%, en die gemiddelde styging in antibiotikapryse 9%.
  • Geen duidelike tendens kon tussen die verskillende entstowwe vasgestel word nie.
  • Die resultate van hierdie studie het getoon dat die prys van antibiotika met 9%, vitamiene en minerale met 8%, lekke met 5% en entstowwe met 11% oor afgelope jaar of wat gestyg het.

Die doel van hierdie studie is om die prys van insette wat vir veeproduksie aangewend word, maandeliks te monitor. Uiteindelik kan die inflasie van plaasinsette hierdeur bereken word. Die insette waarna hier verwys word, sluit produkte soos voerlekke en voere, entstowwe, antibiotika, en vitamiene en minerale in.

Die studie het in Desember 2023 afgeskop toe die pryse van die produkte in hierdie mandjie vasgestel is. Hierdie pryse is elke maand vanaf vier handelaars in en om Bloemfontein verkry. Vir die meeste van die produkte is die Desember 2023-prys as die basisprys gebruik. Die grafieke en figure wat hier gebruik word, is gebaseer op pryse wat tot Oktober of November 2024 geldig was.

Lees meer oor Prysonderhandeling van insette.

Antibiotika

Altesaam 14 verskillende antibiotika-middels is gemonitor en die gemiddelde prystendens word in Figuur 1 weergegee. Die produkte wat vir baie maande nie op die rakke beskikbaar was nie, is uit die figuur gelaat. Let op hoe die prystendense tussen die verskillende produkte verskil.

Sommige het oor die elf-maande tydperk konstant gebly, terwyl ander, soos Produk 1 en 2, se pryse rondom die middel van die jaar gestyg en weer later in die jaar gedaal het. Tussen Desember 2023 en November 2024 was die grootste aangetekende prysstyging 20%, die laagste prysdaling -5%, en die gemiddelde styging in antibiotikapryse 9%.

Figuur 1: Gemiddelde pryse van antibiotika

Vitamiene en minerale

’n Stel van tien produkte is gebruik om veranderings in die pryse van vitamiene en minerale by kleinhandelaars te meet. Die prystendense van die produkte met hoër pryse word in Figuur 2 aangedui. Hier kan gesien word dat veranderings in die produkte se pryse waargeneem is, maar geen duidelike tendens kon tussen die verskillende produkte geïdentifiseer word nie. In die maande wat in die figuur aangedui word, het die gemiddelde pryse van die gemoniteerde vitamien- en mineraalprodukte met gemiddeld 8% gestyg. Die grootste styging was 35% en die grootste daling was -12%.

Figuur 2: Gemiddelde pryse van vitamiene en minerale

Lekpryse

Wat lekke betref, is 14 produkte se pryse maandeliks aangeteken. Die gemiddelde pryse tussen die onderskeie handelaars is in Figuur 3 aangedui. Een van die tendense wat in die verslagtydperk opgemerk is, is dat sommige produkte se pryse rondom Mei verlaag is. Hierdie pryse het weer later in die jaar gestyg. Net meer as helfte van die produkte se pryse het in Julie gestyg.

Die meeste van die produkte se pryse het weer ná Julie gedaal. Dit was ook opmerklik dat een van die produkte se prys in Julie aansienlik verlaag is, in teenstelling met die meeste ander produkte. Die gemiddelde prysstyging van lekke in dié tydperk was 5%. Die prys van proteïen- en produksielekke het met gemiddeld 3% gestyg, terwyl fosfaatlekke gemiddeld 8% duurder geword het.

Figuur 3: Gemiddelde prys van lekke

Lees meer oor die wat en wanneer van produksielekke.

Entstofpryse

Altesaam 19 verskillende entstowwe se pryse is in dieselfde tydperk aangeteken. Die beskikbaarheid van entstof teen Afrika-perdesiekte, miltsiekte, knopvelsiekte, Pasteurella en klem-in-die-kaak het soms probleme veroorsaak, met die meeste van hierdie entstowwe wat nie in die laaste paar maande van die studie beskikbaar was nie.

Geen duidelike tendens kon tussen die verskillende entstowwe vasgestel word nie. Produk 12 se prys het baie gewissel, met drie stygings en drie dalings in die moniteringstydperk. Die gemiddelde prystoename van al die entstowwe was 11%, met die hoogste styging 58% en die grootste daling -4%.

Figuur 4: Gemiddelde prys van entstowwe

In ‘n neutedop

Die resultate van hierdie studie het getoon dat die prys van antibiotika met 9%, vitamiene en minerale met 8%, lekke met 5% en entstowwe met 11% oor afgelope jaar of wat gestyg het. Let wel dat ’n mandjie van algemeen beskikbare produkte gebruik is en dat dit nie alle produkte in die kategorieë verteenwoordig nie. Dit is wel so dat die inligting slegs ’n paar datapunte bevat, maar die datastel kan met verloop van tyd vergroot. Dit verskaf nietemin waardevolle insig ten opsigte van die prystendense van vee-insette. – Meyer van der Merwe, Siphiwe Tshabalala en dr WA Lombard, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat  

Vir meer inligting, kontak dr WA Lombard by lombardwa@ufs.ac.za.

Must Read

Biosecurity under pressure: What it means for South African agriculture

Estimated reading time: 4 minutes Biosecurity has become one of the most pressing challenges facing South African agriculture in 2026. This is underscored by the...