Vaaltyn van die Noordweste

Estimated reading time: 6 minutes

Die donkie is ’n dier wat gehelp het om die Boesmanland, Namakwaland en die Karoo te tem, en wat vandag nog ’n onmisbare rol in skaapboerdery speel.

In hierdie artikel wyk ek ’n bietjie af van die gewone skaapstories om erkenning te gee aan een van die getrouste en slimste diere op die plaas. Dit is ’n dier wat gehelp het om die Boesmanland, Namakwaland en die Karoo te tem, en wat vandag nog ’n onmisbare rol in skaapboerdery speel. Dit bring my by ’n verhaal wat oom Isak Vollgraaff, ’n befaamde storieverteller van Nieuwoudtville, my vertel het. Dit gaan oor die ou donkie, Vaaltyn, van die Noordweste.

Ek kan my verlustig aan oudstryders soos oom Isak, wat jou wêreld verryk met van die mooiste stories oor die verhouding tussen mens en dier in die vervloë dae van die verre Noordweste. Dit is veral opmerklik dat slegs mense met ’n diepgaande liefde vir die natuur en diere, asook diegene wat goeie waarnemers is, in hierdie kategorie val.

Die donkie is ’n wonderlike ding

Oom Isak is van mening dat ’n donkie ’n besonder slim dier is. Wanneer jy hom met ’n perd vergelyk, is die perd dalk nie so intelligent soos die donkie nie, maar hy is geweldig getrou; dit wat jy hom leer, doen hy stip. Die esel, daarenteen, is weer ’n baie sterk dier en ’n harde werker.

In die voorjare het die boere van die Nieuwoudtville-omgewing ook plase in die Boesmanland besit. Gedurende die wintertyd het hierdie boere na hul plase in die Boesmanland getrek vir sy weiding en sagter klimaat. Dié afstand kan maklik tussen 150 en 200km wissel, en is destyds met perde- en donkiewaens afgelê, terwyl daar natuurlik ook met die vee saamgetrek is. Die perde was baster-geteelde Boerperde; die rede vir hierdie kruisteling was dat hulle beter uithouvermoë as die rasegte diere gehad het. Omdat hulle ook kleiner was, het hulle aansienlik minder voer gevreet.

Wanneer daar alleen met die donkiewa na die Boesmanland-plaas en winterveld gereis is, is vier donkies ingespan. Dié het soms tot 120km per dag afgelê. Volgens oom Isak het sy oupa gereeld met die donkiewa gery en nooit ’n sweep of karwats gebruik nie, maar bloot op verskillende toonhoogtes met die donkies gepraat. Wanneer die donkies begin sweet, het hy stadiger gery om hulle ’n ruskans te gee.

Oom Isak verduidelik dat wanneer die vier donkies ingespan is, een altyd sal galop terwyl die ander drie draf. Die een wat galop is in die werklikheid al een wat die wa trek, maar ná ’n ruk sal een van die ander drie die galop oorneem. Sodoende maak hulle beurte om mekaar af te los en ’n ruskans te bied. Dit gebeur sonder enige bevel van die drywer en bloot deur donkietaal onder mekaar.

’n Kultuurhistoriese taalles

Oom Isak, wat ’n natuurmens by uitstek is, vertel dat die ontstaan van die bekende spreekwoord ‘dit gaan klopdisselboom’ – wat beteken dat dit baie goed gaan – te danke is aan ’n perde- of donkiekar. Wanneer die kar lekker op spoed is, klop-klop die disselboom en vorder jy dus goed.

Nóg ’n idioom wat destyds algemeen was, maar vandag min in die volksmond gehoor word, is die uitdrukking ‘dit gaan oor die voorspoor’. Dit beteken dat dinge baie goed en voorspoedig verloop. Wanneer ’n mens met donkies ry, oftewel hulle ‘dryf’, kies jy vir jou ’n sogenaamde maatstaf-donkie in die span van vier.

Wanneer hulle trek, trap ’n donkie se agterpoot gewoonlik so ’n voet agter sy voorpoot se spoor aan dieselfde kant. Sodra die drywer die leisels ’n bietjie stywer vashou en trek, rek die donkie se tree en kom sy agterpoot se spoor al hoe nader aan die voorpoot s’n, totdat hy later presies daarin trap. Wanneer jy die leisels nog ’n bietjie stywer vashou, verhoog die pas selfs meer en trap die donkie met sy agterpoot bo-oor die voorpoot se spoor. Dan eers trek die donkies lekker en vorder jy fluks!

Vandaar die Afrikaanse idioom, ‘dit gaan oor die voorspoor’, want dit gaan inderdaad voorspoedig. Vandag se geslag gebruik selde nog hierdie woorde of weet wat dit beteken. Dit is beslis ’n kosbare stukkie Afrikana.

’n Merkwaardige vriendskap

’n Ander storie van oom Isak getuig van sy liefde en omgee vir ou Vaaltyn. Hy vertel dat ’n klompie wilde donkies permanent op hul plaas in die Boesmanland loop. Hy het eendag met sy perd oor ’n rotsagtige gedeelte in die veld gery, en kry toe daar ’n donkie wat waarskynlik op ’n klipplaat gegly en in ’n rotsskeur beland het. Met dié dat die donkie al hoe meer probeer uitkom het, het sy been al hoe stywer in die skeur vasgetrek en kon hy glad nie loskom nie. Die donkie was reeds baie swak en moes waarskynlik vir dae sonder kos of water gewees het.

Oom Isak het dadelik ’n paar halters wat hy altyd aan sy perdesaal vasgemaak het, aanmekaar vasgebind. Hy het die een punt om die donkie gebind en met sy perd die vasgekeerde been uit die skeur getrek. Die donkie het egter net daar bly lê asof hy dood is. Oom Isak het toe herhaaldelik hard met sy sweep geklap en “Donkie!” geroep. Ná ’n ruk het die dier oplaas opgestaan en struikelend, skeef-skeef en kruppel-kruppel weggestap.

Vir die sowat 12 jaar daarna het oom Isak, elke keer as hy na die vee in die Boesmanland-kamp gaan kyk het, sy sweep geklap en ’n paar keer “Donkie!” geroep. En sonder uitsondering het daardie selfde donkie ná ’n ruk uit die veld aangestryk gekom om by hom te kom staan. Dit was werklik merkwaardig, veral as ’n mens dink dat dit nie ’n makgemaakte dier was nie, maar ’n wilde een uit die veld.

Op ’n dag, nadat oom Isak weer sy sweep geklap en geroep het, gebeur daar niks. Die donkie het nie te voorskyn gekom nie. Vir drie dae lank het die oom die veld deursoek en die prosedure herhaal, maar sonder sukses. Oom Isak ry toe met sy perd na die rotsagtige plek waar hy die dier destyds gered het. Daar kry hy die donkie op presies dieselfde plek en in dieselfde posisie as twaalf jaar vantevore. Die donkie was egter dood.

Die donkie het waarskynlik ’n siekte of pyn onder lede gehad en na die plek teruggestap waar die Samaritaan hom jare vantevore van ’n gewisse dood gered het; hy het gaan hulp soek! Wanneer oom Isak hierdie storie vertel, loop die trane oor die ou grysaard se wange. Hy sê hy sal altyd spyt wees dat hy daardie dag te laat was om sy donkievriend te help.

’n Edel dier en getroue vriend

Dit is ’n pragtige voorbeeld van die nabye verhouding tussen ’n donkie en die ou boere en plaaswerkers van die Noordweste wat dié harde wêreld help tem het. Dit onderstreep ook die unieke intelligensie van ou Vaaltyn. Hierdie storie weerspreek ook sommer die algemene wanindruk dat donkies dom en bloot hardkoppig is – hoewel laasgenoemde hulle soms beslis is – of dat hulle nie so mooi vertoon soos hul perdevriende nie.

In Upington, langs die Oranjerivier, staan daar ’n standbeeld vir die donkie. Ek is van mening dat daar nog baie meer standbeelde opgerig kan word vir hierdie edel dier en getroue vriend van die mens. – Pierré Vlok

Must read

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutesPlaashekpryse/Farm gate pricesDie jongste vleispryse word weekliks aan u gebring deur Absa en die RPO. Neem kennis dat hierdie nie...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 35 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you by the South African Pork Producer's Organisation (SAPPO).Click here for this week's report.How are these...

Agri Noord-Kaap-kongres: Die toekoms van landbou in die Noord-Kaap

Estimated reading time: 4 minutesDie lewe verander vinnig en die landbou bly nie agter nie. Daar is gedurige nuwe tegnologie wat landbou vergemaklik en...

Calls for South Africans to stand ‘stronger together’ against rabies

Estimated reading time: 3 minutesSouth Africa joins the global community on 28 September to commemorate World Rabies Day under the theme, “Stronger together”. The...

Mohair in demand, despite lower prices

Estimated reading time: 2 minutesProducers should not panic about the first winter auction’s lower prices for adult mohair, caused by a slight oversupply of...