Indiensneming van onwettige immigrante

Estimated reading time: 4 minutes

  • Werkgewers word verwag om buitelanders of immigrante sonder ‘n geldige werksdokument te ontslaan maar wat is die regte stappe met afdanking?
  • Werkgewers word ingevolge die Immigrasiewet, 2002 (Wet 13 van 2002) verbied om onwettige immigrante in diens te neem.
  • Werkgewers moet verseker dat werknemers in besit van ’n geldige werkspermit/visum is. Maak seker dat ’n vastetermynkontrak met die werker aangegaan en onderteken is, waarin duidelik vermeld word dat die kontrak geldig is vir die duur van die wettige werksdokumentasie.
  • Die werkgewer moet die werknemer die geleentheid gun om die nodige werkspermit/visum te bekom. Dit kan beteken dat die werkgewer vir die werknemer verlof moet toestaan om die dokumentasie te verkry, en dit kan selfs nodig wees dat die werkgewer bystand moet verleen met die aansoek.
  • Werkgewers moet verseker dat buitelandse werknemers by die Werkloosheidsversekeringsfonds geregistreer is.

Werkgewers in die landbousektor bevind hulle gereeld in situasies waar buitelanders of immigrante nie meer in besit is van ’n geldige werksdokument nie. Gevolglik word van werkgewers verwag om die nodige stappe te neem om die persoon se dienskontrak te beëindig. Maar watter stappe moet ’n werkgewer volg om dit wettig te doen?

Neem kennis dat Suid-Afrikaanse arbeidswetgewing buitelandse burgers beskerm, selfs al is hulle nie in besit van ’n geldige werkspermit/visa nie.

Christiaan Swart, senior regsadviseur, LWO Werkgewersorganisasie

Indiensnemingsvereistes

Werkgewers word ingevolge die Immigrasiewet, 2002 (Wet 13 van 2002) verbied om onwettige immigrante in diens te neem. Indien ’n werkgewer skuldig bevind sou word aan die oortreding van hierdie wet, sal die werkgewer tronkstraf van nie langer nie as een jaar, vir ’n eerste oortreding, of ’n boete opgelê word.

Werkgewers moet verseker dat werknemers in besit van ’n geldige werkspermit/visum is. Maak seker dat ’n vastetermynkontrak met die werker aangegaan en onderteken is, waarin duidelik vermeld word dat die kontrak geldig is vir die duur van die wettige werksdokumentasie.

Waar die werknemer op grond van ’n permanente kontrak in diens geneem is, of waar daar geen kontrak bestaan nie, moet die werkgewer ’n regverdige proses volg voordat sy/haar diens beëindig kan word. Neem kennis dat Suid-Afrikaanse arbeidswetgewing buitelandse burgers beskerm, selfs al is hulle nie in besit van ’n geldige werkspermit/visum nie. Dit beteken dat hulle ook die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie kan nader en ’n klag van onbillike ontslag aanhangig kan maak indien die werkgewer nie ’n billike proses gevolg het, tesame met ’n geldige rede vir die diensbeëindiging nie.

Lees meer oor die verskillende kontrakte van indiensneming hier.

Neem die regte stappe

Sodra die werkgewer bewus raak van die feit dat die werknemer se werksdokumentasie verval het, moet die werkgewer die nodige stappe neem:

  • Verwittig die werknemer dat wetgewing die indiensneming van onwettige immigrante verbied en dat geldige werksdokumentasie dus ’n vereiste vir indiensname is.
  • Waarsku die werknemer dat, indien hy/sy nie in staat is om ’n geldige werkspermit/visum binne ’n redelike tyd te toon nie, dit tot ontslag kan lei.

Die werkgewer moet die werknemer die geleentheid gun om die nodige werkspermit/visum te bekom. Dit kan beteken dat die werkgewer vir die werknemer verlof moet toestaan om die dokumentasie te verkry, en dit kan selfs nodig wees dat die werkgewer bystand moet verleen met die aansoek. Indien die werknemer nie daarin slaag om die nodige werkspermit/visa te bekom nie, moet die werkgewer die nodige stappe vir ‘n onbevoegdheidsprosedure volg om die diens te beëindig en die werknemer te ontslaan.

Lees meer oor die struikelblokke met indiensneming hier.

Die onbevoegdheidsprosedure

  • Reik eerstens ’n kennisgewing van ’n onbevoegdheidskonsultasie uit. Hierdie kennisgewing moet uiteensit dat:
  • Die situasie rondom die werknemer se geldige werkspermit/visum bespreek sal word.
  • Stipuleer dat, omrede hy/sy nie in besit van geldige werksdokumente is nie, hy/sy nie in staat is om sy/haar kontraktuele verpligting na te kom nie.
  • Indien hy/sy nie die nodige geldige dokumentasie kan verkry nie, kan dit tot die beëindiging van die werknemer se diens lei.
  • Vergader met die werknemer en bespreek die kennisgewing ten volle. Bied die werknemer die geleentheid om te reageer op die bewerings dat hy/sy nie in besit van die geldige dokumentasie is nie. Bespreek enige moontlike ondersteuning wat aan die werknemer gebied kan word. Waarsku die werknemer dat, indien die geldige dokumentasie nie verskaf kan word nie, dit tot diensbeëindiging kan lei.
  • Indien die werknemer steeds versuim om die vereiste geldige dokumentasie te verskaf, moet die werknemer kennis ontvang van ’n onbevoegdheidsverhoor wat hy/sy moet bywoon. Tydens hierdie verhoor moet al die relevante feite/dokumente/bewyse aan die voorsitter verskaf word. Die werknemer sal ook die geleentheid gegun word om sy/haar saak aan die voorsitter te stel. Die voorsitter kan aanbeveel dat die indiensneming beëindig word. 

WVF-registrasie

Werkgewers moet verseker dat buitelandse werknemers by die Werkloosheidsversekeringsfonds geregistreer is. Die enigste uitsondering waar die werkgewer nie die buitelandse werknemer vir werkloosheidsversekering hoef te registreer nie, is indien die werknemer op ’n vastetermynkontrak aangestel is en die werknemer na sy/haar land van herkoms sal terugkeer sodra die kontrak tot ‘n einde kom. – Christiaan Swart, senior regsadviseur, LWO Werkgewersorganisasie

Vir meer inligting, kontak Christiaan Swart by 071 485 3565 of christiaan@lwo.co.za of info@lwo.co.za of besoek www.lwo.co.za.

Must read

South African Sugar Value Chain Master Plan 2030

Plaas TV ry van kongres tot kongres

Estimated reading time: 2 minutes Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se episodes: During the 2019 State of the Nation Address, President Cyril...

Eienaarskap van lewendehawe: Die regte en verpligtinge van plaasbewoners

Estimated reading time: 4 minutes Vir enigeen wat met lewendehawe boer is dit, bo en behalwe ’n besigheid, ook ’n hartsaak. As dit gaan oor plaasbewoners wat die reg geniet om lewendehawe aan te hou...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 4 minutes Johan van den Berg is weer terug op sy pos met sy weeklikse weersake-gesprek met Lise Roberts op RSG Landbou. Luister nou na hierdie week se weerverslag soos op 25...

WCCA congress driving sustainable agricultural practices

Estimated reading time: 7 minutes The ninth World Congress on Conservation Agriculture (WCCA) recently took place at the Cape Town International Convention Centre in the Western Cape. The theme of the congress was “Enhancing agricultural...
Koring

RSG Landbou: 25 Julie 2024 – geborg deur AECI Plant Health

Die nuwe koringtarief is verlede week uiteindelik aangekondig en Tobias Doyer van Graan SA verduidelik waarom ‘n tarief noodsaaklik is om internasionaal te kan meeding. Daar is slegs ‘n handjievol papaja-produsente in Suid-Afrika oor. Ons...