HomeGeneral agricultureLammers: Wanneer om wat te spuit

Lammers: Wanneer om wat te spuit

-

Estimated reading time: 4 minutes

Onder normale omstandighede ontvang lammers in die eerste ses uur na geboorte, teenliggaampies van die ooi se biesmelk. Hierdie immuniteit kan langer as drie maande duur, maar lammers moet op hierdie stadium ingeënt word om hulle teen aansteeklike siektes te beskerm.

In situasies waar ooie nie voldoende biesmelk geproduseer het nie, of lammers nie binne ses uur biesmelk ingeneem het nie, kan een-maand-oue lammers aan bloednier begin vrek. Ons beveel dus aan dat lammers ’n dosis aluingebaseerde bloednier-entstof kry wanneer hulle gemerk word.

Ter wille van die inentingsprogram, beskou ons speenouderdom as 90 dae. Min of meer drie weke voor speen, wanneer lammers ongeveer 70 dae oud is, moet die ooilammers en toekomstige ramme ‘n oliegebaseerde bloednier-entstof saam met bloutong-entstof A kry. Indien die bloutong-entstof van Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) nie beskikbaar is nie, kan Blu-Vax van Design Biologix gebruik word. Of, as die lam verkoop gaan word, kan dit slegs die aluingebaseerde bloednier-entstof kry.

Inentings met speentyd

Met speentyd, wanneer lammers ongeveer 90 dae oud is, kan die lammers bloutong-entstof B kry. Min of meer drie weke na speen, wanneer die lammers sowat 110 dae oud is, moet hulle die aluingebaseerde bloednier-entstof kry. Voorbeelde van hierdie entstof is Pulpyvax van MSD Animal Health of OBP se bloednier-entstof saam met OBP se bloutong-entstof C. Indien die bloutong-entstof van OBP nie beskikbaar is nie, kan Blu-Vax van Design Biologix gebruik word. Blu-Vax is ’n dooie entstof en lammers moet altyd ’n opvolgdosis kry.

Op plase waar aansteeklike klierverswering (caseous lymphadenitis) of Preisz Nocard-siekte teenwoordig is, kan dit beheer word deur Glanvac 3 van Zoetis in die plek van die tweede Clostridium-entstof na speen te gebruik. As die siekte ernstig is, kan ’n verdere skraagdosis van Glanvac 3 vier weke later nodig wees. Daarna kan ’n jaarlikse skraagdosis toegedien word.

Lammers wat op weidings gespeen word of na ’n voerkraal gaan, moet ’n kombinasie van Pasteurella– en Clostridium-entstof in die plek van die tweede Clostridium-entstof na speen ontvang. Voorbeelde van hierdie entstowwe is Multivax-P van MSD Animal Health, One-Shot Ultra 7 van Zoetis, Clostrivax O van Design Biologix of Ovi-Clos P van Ascendis.

Waar die weidings hoog in proteïene soos lusern en klawers is, kan bloedderm ’n probleem wees. Lammers wat op hierdie weidings afgerond word, moet ten minste tien dae voor afronding teen Clostridium perfringens A beskerm word. Clostrivax O van Design Biologix word in hierdie geval gebruik. Alternatiewelik kan Coglavax van Ceva of Covexin van MSD Animal Health gebruik word. Design Biologix se Ovipast kan vir beskerming teen Pasteurella-bakterie gebruik word.

 LamouderdomTeeldiereVerkooplammers
Merk30 daePulpyvaxPulpyvax
Voor speentyd70 daePulpyvax 1-Shot Bloutong-entstof A of Blu-VaxPulpyvax
Speentyd90 daeBloutong-entstof B
Na speentyd110 daePulpyvax Bloutong-entstof C Of Blu-VaxPulpyvax
Absesprobleme110 daeGlanvac 3 
Voerkraal110 daeMultivax-P Of One-Shot Ultra 7 Of Clostrivax O Of Ovi-Clos P 
Lusern- of klawerweiding110 daeClostrivax O Of Coglavax en Ovipast Of Covexin en Ovipast 
Tabel 1: Inenting van lammers tydens speentyd.

Inenting teen ander siektes

  • Ooilammers moet Chlamydia-inenting met speentyd kry. Dit kan later voor die eerste paring gegee word om koste te bespaar. Die volgende entstowwe is hiervoor geskik: Chlamyvax van Design Biologix, Ovilis Enzovax van MSD Animal Health, en Chlamydia Cevac van Ceva.
  • Ramlammers moet beskerm word teen Brucella ovis met Bru-Tect Rev1 van Design Biologix wat op ongeveer drie tot vier maande gegee word.
  • Beskerming teen Slenkdalkoors moet gegee word deur inenting voor speentyd indien die risiko van hierdie siekte hoog is. Alternatiewelik kan die entstof gebruik word na speen en die bemarking van die uitskot-ooilammers.

Skeer van ramme

  • Ramme wat in die volgende drie tot vier maande gepaar gaan word, moet nou geskeer word. Dit sal help met die voorbereiding van ramme. Die semenproduksiesiklus is agt weke en deur hulle nou te skeer, sal verseker dat die semenkwaliteit uitstekend is teen paringstyd.
  • Voorsorg moet teen brommers en bosluise getref word nadat ramme geskeer is. Brommers kan probleme met ramme se vrugbaarheid veroorsaak.

Bestuur van lammers na speen

Die grootmaak van vervangingsooie word dikwels afgeskeep, met ernstige gevolge vir hulle lewenslange produktiwiteit. Ons beveel ten sterkste aan dat ’n groep van 20 of meer gespeende ooilammers maandeliks gemerk en geweeg moet word. Die gewigte moet in ’n grafiek aangeteken word en met ’n teikengroeikurwe vergelyk word, sodat ooilammers met die eerste paring 70% van volwasse gewig sal bereik. Ons help graag met die dataverwerking.

Haarwurmbeheer by lammers

Gereelde miseiertellings en die waarneming van bloedarmoede (FAMACHA-toets) is noodsaaklike bestuursinstrumente om haarwurmverliese te voorkom. Dosering van kuddes is een van die grootste vermorsings van kontant en is iets wat gereeld gebeur. Die huidige druk op winsgewendheid vereis dat ons nie hulpbronne en tyd mors op iets wat totaal onnodig kan wees nie. Los die sterkes en doseer dié wat sukkel. – Dr Johan van Rooyen, Steynsburg Dierehospitaal

Vir meer inligting, kontak dr Johan van Rooyen by 082 463 3087, of Wandile Khave by 066 303 6271 (slegs WhatsApp), of stuur ’n e-pos na veearts.sdh@nokwi.co.za.

Must Read

Plaas TV ry van kongres tot kongres

Estimated reading time: 2 minutes Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se...