Estimated reading time: 6 minutes
- Strukture wat koelte vir melkkoeie kan voorsien, verhoog hul melkproduksie en reproduksie.
- Melkkoeie ervaar normaalweg hittestres as die omgewingstemperatuur hoër as 24oC styg.
- Deur koeie uit direkte son te hou, word die hittelading van die diere met 30 tot 50% verminder.
- Navorsing het bevind dat koeie wat vrye toegang tot skadu het, ’n hoër voerinname het en meer melk produseer as koeie wat dieselfde tyd in die son moet deurbring.
- ’n Ekonomiese ontleding van die konstruksiekoste en beter melkproduksie het gewys dat indien die melkproduksie met net 5% sou toeneem, die koste van die oprigting van skaduskuilings binne twee somertydperke van 150 dae elk verhaal kan word.
Strukture wat koelte vir melkkoeie kan voorsien, verhoog hul melkproduksie en reproduksie. Hoewel die melkbeesrasse wat uit die koue dele van Europa kom, al grootliks by Suid-Afrikaanse toestande aangepas het, raak dit veral in die binneland steeds te warm vir dié koeie om optimaal te presteer.
Skuilings wissel van skure waarin diere met groot waaiers en watersproeiers afgekoel word, tot sink- en skadunetafdakke om veral melkkoeie teen die ergste somerhitte te beskerm. Skaduskuilings kan ook met welslae gebruik word om die prestasie van ander vee in uiters warm weer te bevorder. Waar skadunet as bedekking vir koelteskuilings gebruik word, kan ’n mens net ’n gedeelte (van 40% tot 80%) van die sonstrale afkeer.
Lees meer oor fasiliteite teen die somerhitte.
Hittestres en gemaksones
Dr Carel Muller het in die 1980’s by die diereproduksie-afdeling van die Wes-Kaapse Departement van Landbou op Elsenburg navorsing gedoen oor die invloed van hittestres op die produktiwiteit van melkkoeie. Hittestres, sê hy, kom voor wanneer die son die omgewingstemperatuur hoër laat styg as die gemaksone van die koei. Dit vererger wanneer die lugvogpeile hoog is. Melkkoeie ervaar normaalweg hittestres as die omgewingstemperatuur hoër as 24oC styg. Hoe langer dit warm bly, hoe erger word die negatiewe invloed van hierdie stres.
Melkkoeie is gevoelig vir hittestres omdat hulle groot spiergroepe, ’n onderhuidse vetlaag, dik vel en digte haarkleed het. Hierdie eienskappe maak hulle meer geskik vir koue omgewingstoestande. Die fermentasie- en verteringsproses in die grootpens produseer ook ekstra hitte. Navorsing het getoon dat omgewingstemperature van tussen 10 en 18oC die ideale omgewing vir optimale prestasie by melkkoeie skep.
Melkkoeie is betreklik gemaklik tussen temperature van 4 en 24oC en hulle kan van die oortollige hitte ontslae raak sonder dat dit produksie benadeel. ’n Struktuur om skadu vir die koeie te voorsien, is die kostedoeltreffendste manier om melkkoeie teen hittestres te beskerm. Deur koeie uit direkte son te hou, word die hittelading van die diere met 30 tot 50% verminder.
Navorsing het bevind dat koeie wat vrye toegang tot skadu het, ’n hoër voerinname het en meer melk produseer as koeie wat dieselfde tyd in die son moet deurbring. Minder inseminasies was ook nodig om die koeie waarvoor daar skadu was, dragtig te kry. Die navorsing by Elsenburg het gewys dat die voorsiening van doeltreffende skadu die melkproduksie van Holstein-koeie met 6% verhoog het teenoor die koeie wat in die son was.
Lees meer oor die uitwerking van hittestres op die melkkudde.
Die som moet klop
Die reaksie op die voorsiening van skadu was by Elsenburg kleiner as in soortgelyke studies in ander wêrelddele. Dit is waarskynlik omdat die nagte in die somer relatief koel was. Minimumtemperature het tussen 14 en 15oC gewissel. Die koel toestande gedurende die nag gee koeie die geleentheid om te herstel van die hittestres wat hulle deur die dag ervaar het.
’n Ekonomiese ontleding van die konstruksiekoste en beter melkproduksie het gewys dat indien die melkproduksie met net 5% sou toeneem, die koste van die oprigting van skaduskuilings binne twee somertydperke van 150 dae elk verhaal kan word.
In ander dele van die land waar dit warmer word, kan verwag word dat die afname in melkproduksie selfs hoër sal wees. In sommige gebiede sal dit egter nodig wees om bykomende maatreëls te tref soos die aanbring van waaiers en watersproeiers om die koeie nog beter af te koel. Die verbeterde produksie wat dit meebring, sal egter voldoende wees om die bykomende belegging ook gou te verhaal.
Dit is belangrik om te onthou dat die lengte van blootstelling aan hittestres, belangriker is as die maksimumtemperatuur waaraan die koeie blootgestel word.
Groot genoeg skuilings
Skaduskuilings is nodig vir koeie op weidings en koeie wat gedurende die dag in oop kampe aanvullende voer kry. Dit is die beste om die skadu-afdak in die middel van die kamp op ’n gerieflike afstand van die voerbakke en waterkrippe op te rig. Die lang as van die afdak moet noord-suid geplaas te word sodat die son die grond onder die skuiling kan droogbrand. Elke koei behoort ’n spasie van minstens 4m2 te hê.
As die skuilings kleiner is, drom die diere in die skadu saam, is onrustig en het nie plek om te gaan lê en rus nie. Die lugvloei in klein skuilings is ook nie voldoende om te verhoed dat hitte daar opbou nie. ’n Samedromming van diere sal ook veroorsaak dat die oppervlakte onder die skuiling nat en modderig raak. As die koeie daarin lê, vergroot dit die risiko van mastitis.
Die skuiling behoort minstens 3,65m hoog te wees. In warm dele is hoër (4 tot 5m) dakke selfs beter. Dit behoort nie meer as 12m wyd te wees nie omdat dit die lugvloei onder die dak belemmer. Die verhouding van die lengte tot die breedte kan enigiets van 2:1 tot meer as 10:1 wees.
Die dakbedekking kan gegalvaniseerde sink of aluminium wees, maar in alle gevalle is dit raadsaam om die bokant van die dak wit en die onderkant swart te verf. Die wit bokant sal sonstrale weg weerkaats terwyl die swart onder die dak die weerkaatsing van indirekte sonstraling beperk.
Gebruik van ‘n skadunet
’n Struktuur wat met 90% skadunet oorgetrek word, kan ook gebruik word, maar is nie noodwendig so doeltreffend soos ’n soliede dak nie, omdat sonstrale steeds deur die net gelaat word. Die digtheid van die net is dus belangrik. ‘n Goeie net sal ook UV-gestabiliseer wees. Nuwe tegnologie bevat aluminium wat die son weg weerkaats van die net af.
Op Elsenburg was die skadu onder ’n soliede struktuur 10oC laer as in die direkte son en onder ’n dubbele laag skadunet met ’n sonwering van 80% was dit 6oC laer as buite in die son.
Daar is gevind dat skadu-afdakke oor die voer- en suipkrippe nie groot waarde het nie, omdat die diere nie die dakke die hele dag benut nie. As geen ander skadu beskikbaar is nie, sal die koeie onder die skuiling by die voer- en suipkrippe saamdrom, wat ander koeie kan verhoed om genoeg kos en water te kry.
Vir meer inligting, skakel dr Carel Muller by 082 907 1139 of epos careljcmuller@gmail.com – Andries Gouws, Veeplaas

