Estimated reading time: 6 minutes

Piet Gouws, ’n ervare melkboer van die Koppies-distrik in die Vrystaat, se Ayrshire-melkkudde produseer al sedert 1980 op aangeplante en deels natuurlike droëlandweiding op sy plaas, Biesieput. Hy melk uit die staanspoor vanaf weidings, hoofsaaklik omdat die produksiekoste daarvan betreklik laag teenoor die melkproduksie- en aankoopkoste van veevoere soos hooi, kuilvoer en grane is.

Lees van nog ‘n boer wat suksesvol is op weiding.

Piet fokus op sy aangeplante weidingsgewasse, omdat voer en water die oorheersende faktore is wat ’n kudde se melkproduksie beïnvloed. Hy meen die ruvoer wat hy as voeding gebruik, is voldoende. Die enigste byvoeding wat sy melkkoeie daagliks ontvang, is suiwelmeel.

Hy sê die 90 koeie wat in melk is, produseer optimaal. Daarmee saam besit die Ayrshire-ras boonop ook die genetiese potensiaal vir uitstekende melkproduksie.

Die vele voordele van Ayrshires

Piet, ’n lid van die Suid-Afrikaanse Ayrshire-genootskap, sê hy het destyds op dié ras besluit weens hul goeie eienskappe, veral die koeie se gesonde uiers. Ayrshires se uiers sak nie uit nie, terwyl die aanhegting daarvan aan die voor- en agterkant, goed is. Hul spene is goed geplaas met ’n geskikte lengte vir melkdoeleindes.

Piet melk sy Ayrshire-koeie al langer as vier dekades slegs vanaf weidings. Sy winterweiding bestaan hoofsaaklik uit mieliereste.

Volgens hom is die Ayrshire ’n geharde ras wat goed op weidings presteer en min klouprobleme het. Ayrshire-koeie se kalfgemak en langslewendheid staan ook vir hom uit. Een van Piet se koeie wat in 2006 gebore is, het al twaalf kalwers gelewer en produseer nog voluit. Hy sê dié ras het ook goeie weerstand teen siektes en lewer melk van baie hoë gehalte.

Dit is veral die unieke smaakprofiel van Ayrshire-melk wat gewild onder verbruikers is. Woolworths het in 1987 die Ayrshire-handelsmerk in sy winkels bekendgestel. Piet is een van die meer as 40 Ayrshire-telers in die land wie se melk op Woolworths se rakke verskyn. Hy lewer ook melk aan Clover.

Somer- en winterweiding

Piet plant jaarliks in September of Oktober sowat 25ha voersorghum (sugergraze) om as staande hooi te gebruik. Dié somerweidingsgewas is verdraagsaam vir droogtes en bied goeie weerstand teen blaarsiektes. Die hoë suikerinhoud dra by tot die smaaklikheid daarvan, wat voerinname verbeter en melkproduksie dus ’n hupstoot gee.

Daarmee saam bestaan sy somerveld uit Smutsvinger en rooigras, wat onderskeidelik sowat 200 en 15ha beslaan. Piet sê die drakrag op sy natuurlike weiding is 3ha per grootvee-eenheid (GVE). Hy gebruik ’n rotasiestelsel vir sy melk- en droë koeie wat tweeweekliks in aparte groepe tussen die natuurlike weiveld en sugergraze roteer. Dit sluit sy groep met verse in.

In die winter wei die kudde hoofsaaklik op 280ha mieliereste, wanneer die voedingswaarde van sy natuurlike weiding laag is. Hy verhuur sy landerye, maar die huurooreenkoms sluit in dat sy kudde die mieliereste mag bewei. Die blare, mieliestoppels en oorblywende koppe van die mielies bevat stysel en voldoende fosfaat. Die drakrag van die mieliereste is 1ha/GVE.

As bykomende wintervoeding plant hy elke Februarie ongeveer 15ha Japannese radyse, ook bekend as voerrape. Vir hom is dié winter- en herfsvoer die beste keuse, omdat dit ’n hoë opbrengspotensiaal en relatief lae vestigingskoste het. Dit is ook bestand teen koue en ryp.

Japannese radyse dien ook as wintervoer. Volgens Piet is dit ’n veelsydige gewas waarvan die knol energie bevat en die blare ’n goeie proteïenwaarde het.

Piet verkies om die radyse uit te haal en aan sy kudde te voer, eerder as om die diere daarop te laat wei. Die radyse is vir hom ’n veelsydige voergewas met ’n hoë voerwaarde en goeie benutting, omdat die plant in geheel (knol, stingel en blaar) gevreet word.

Die toestand van sy weidings deur die jaar hang hoofsaaklik van reënval af, sê hy, en hy hou jaarliks kop bo water in dié verband. Selfs in die droogtetoestande in vorige jare het hy genoeg weiding vir sy diere gehad en was hy nooit gedwing om sy kudde kleiner te maak nie. “As dit nie genoeg gereën het nie, het ek steeds oorleef, want daar was ekstra weiding.”

Lae koste van weiding

Vir Piet is dit meer lonend om weidingsgewasse aan te plant as om sy diere, soos die meeste melkboere in die binneland, te voer. Hy maak nie staat op ’n totale gemengde rantsoen (TGR) nie.

As ’n kleiner melkboer kan hy nie bekostig om sy melkkudde op ’n volvoerrantsoen te plaas nie, al beteken dit laer melkproduksie. Die feit dat sy aangeplante weidingsgewasse hom minder uit die sak jaag as wat ’n TGR hom sou kos, maak egter daarvoor op, sê hy. Dit is veral ’n pluspunt omdat ander insette soos elektrisiteit, arbeid en brandstof vinniger as die prys van melk styg.

Hy meen kuddes wat gevoer word, gebruik uit die aard minder energie as koeie op weiding, maar hy glo sy koeie is gesonder en fikser. Hulle lê daagliks sowat 1km af wanneer hulle van die veld na die melkstal aangejaag word. Die feit dat hy nie met mastitis by sy koeie sukkel nie, skryf hy ook toe aan sy diere wat gesond en fiks is.

Piet beaam die algemene beginsel dat die hoeveelheid melk wat ’n koei per dag produseer, grootliks afhang van die gehalte voer wat sy ontvang. Die gehalte van sy ruvoere in terme van ruproteïen- en energie-inhoud is van só ’n aard, dat hy ’n minder gekonsentreerde kragvoer benodig. Hy gee suiwelmeel met ’n 22% proteïeninhoud as kragvoeraanvulling wanneer sy koeie daagliks gemelk word. Verse kry ’n proteïenlek op weiding.

Produksie en reproduksie

Piet melk sy koeie vroegoggend en laatmiddag. Sy koeie lewer gemiddeld tussen 11 en 12ℓ liter melk per koei per dag, maar daar is koeie in die kudde wat tot 25ℓ melk per dag lewer. Sy totale daaglikse melkproduksie oorskry 1 000ℓ. Die koeie lewer goeie gehalte melk, waarvan die bottervet- en proteïeninhoud voldoende is. Die melk het ’n gemiddelde proteïeninhoud van 3,2% en ’n gemiddelde bottervetinhoud van 3,8%.

Die koeie kalf op weiding en het ’n tussenkalfperiode (TKP) van 370 tot 390 dae. Melkkoeie lewer melk vir tien maande, waarna hulle opgedroog word om weer oor twee maande te kalf. Piet het drie Ayrshire-bulle wat hy by die koeie sit, terwyl kunsmatige inseminasie ook gebruik word.

Lees meer oor die roumelk risiko.

Daar is nie vasgestelde kalftydperke nie en koeie kalf regdeur die jaar. Die dragtige koeie loop eenkant in weidingskampe en kry ’n proteïenlek. Die kalfies loop vier tot vyf dae ná geboorte by hul moeders in die weidingskampe om genoeg biesmelk in te neem. Daarna word hulle vir drie maande in kalfhokke geplaas en surrogaatmelk gevoer (2ℓ soggens en 2ℓ saans). Hulle kry ook ’n kalfgroeimeel wat die nodige voedingswaarde bevat.

Bulkalwers word op ’n vroeë ouderdom verkoop en verskalfies wat foute het, word uitgeskot. Ná drie maande in die kalfhokke, word speenkalwers vir ’n jaar in kampe gehou, voordat hulle saam met die res van die kudde op weiding loop. Verse wat uitgeskot word, asook droë koeie, word vir vleisdoeleindes verkoop, terwyl die res as vervangingsverse in die melkkudde behou word.

Vir meer inligting, kontak Piet Gouws by 082 821 0369 of pietergouws5730@gmail.com.

wegholveldbrande