Suksesvolle melkproduksie vanaf Vrystaatse weidings

394
Tevrede koeie lê en herkou in die wintersonnetjie. In die agtergrond is die voerraam met aanvullende lusern sigbaar.

Estimated reading time: 7 minutes

Melkproduksie vanaf weidings word met die kusstreke van die land en die KwaZulu-Natalse Middellande geassosieer. Net buite Bloemfontein in die Vrystaat produseer Micky Quin egter reeds tien jaar lank al met groot sukses melk vanaf weidings.

Micky by die dam in die Renosterspruit, die hart van sy boerdery.

“Ek is die vierde geslag wat op hierdie plaas, Bishop’s Glen, boer. Ons was tradisioneel gemengde boere met besproeiingsregte uit die Renosterspruit. Ons het ook ’n groot dam in hierdie rivier op die plaas en die boerdery het skaflik aangegaan. In 2011 het die damwal egter gebreek en was ons finansieel diep in die moeilikheid.

“Ek en my pa, Ted, moes besluit of ons uitverkoop en of ons die boerdery heeltemal gaan herstruktureer en op ’n melkery fokus. In daardie stadium het ons omtrent 250 koeie gemelk, maar dit was heeltemal te klein om die boerdery te red.”

As deel van ’n vennootskap met groot rolspelers in die melkbedryf in die Oos-Kaap, maak hulle toe ’n nuwe melkery staan. Daarmee saam het hulle die maatskappy Agricultural Consulting Services (ACS), met Llewellyn Collett aan die hoof, as konsultant gekry. Vandag sentreer die boerdery om ’n 66-punt Waikato-draaitafel waarop 1 600 koeie gemelk word met altesaam 430ha onder spilpunte.

Plan met die winter

“Hier in die Vrystaat het ons warm somers en koue, droë winters. Grasproduksie in die winter neem dus drasties af, maar ons kalf seisoenaal, sodat baie min van ons koeie in die middel van die winter in produksie is. Ons koeie het in die winter dus heelwat minder kos nodig.”

Micky laat 70% van die kudde in die lente kalf, sodat dit ooreenstem met die vroeë lentegroei van die aangeplante raaigras en klawer. Die 30% koeie wat nie in die lente kalf nie, word na die herfs deurgedra om die groeifase van die weidings aan die einde van die somer, as dit begin afkoel, te benut.

“Ons insemineer vir die lentekalfseisoen vir ongeveer twaalf weke en dan vir die herfskalfseisoen weer vir agt tot tien weke. Ons probeer ook om die kalfseisoen korter te maak. Aan die einde van die kunsmatige inseminasie-seisoen sit ons bulle vir omtrent 30 dae by, net om seker te maak al die koeie raak dragtig. Die huidige tussenkalfperiode is 385 dae. Verse word op 15 maande geïnsemineer sodat hulle op 24 maande kalf.

“Vir ons werk ’n Holstein-Jerseykruising die beste. Ons wil die Holstein se melkvolume hê, maar die vastestowwe van die Jersey. Ons wil egter nie ’n groot koei soos die Holstein hê nie. Die koeie moet daagliks redelike groot afstande na en van die weidings stap, so ’n kleiner tipe koei met goeie bene en hoewe is noodsaaklik.

Minder druk op weiding

Melkkoeie op weidings, sê Micky, is baie minder onder druk as in totaal gemengde rantsoen (TGR)-stelsels. Die uiers word nie soveel gedaag nie en hy vind dat hulle baie makliker weer dragtig raak. Hul leeftyd in die kudde is ook heelwat langer as in die gemiddelde TGR-stelsel – gemiddeld sowat 4,5 laktasies.

“Ons is minder ingestel op produksie per koei en baie meer op netto wins per hektaar. Koeiproduksie is ongeveer 5 500 tot 6 000 liter per laktasie, wat neerkom op ’n daaglikse stalgemiddeld van sowat 20 liter, met ’n gemiddelde bottervetpersentasie van 4,8% en proteïen van 4,2%.”

Micky het ’n ysbank in sy melktenk laat installeer wat die melk onmiddellik tot tussen 3 en 4oC verkoel. Die effek hiervan op sy melkgehalte was merkwaardig. “Afgesien van ons bakteriese en somatiese seltelling wat verbeter het, veroorsaak die vinnige verkoeling van die melk ook dat ons bottervetpersentasie verhoog het.

Sy mikpunt is om ’n netto wins van ten minste R10 000 per koei per laktasie te maak, en R40 000/ha. ’n Baie groot voordeel is dat hy baie goed geleë is ten opsigte van sy melkkoper, The Dairy Group. Dit is Clover se aankoopafdeling wat onlangs met Coega Dairies saamgesmelt het.

“Ons kry ’n beter melkprys as ons kollegas in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap, omdat een van Clover se groot melkverwerkingsaanlegte naby ons is. Nog ’n voordeel van ons ligging is dat die mielieprys laer is omdat ons by die produksiegebied is. Ons kry dus beter pryse en ons kan ons melk effens goedkoper produseer.”

Micky se ideale koei is ’n goeie kombinasie van die Jersey en Holstein se sterk punte.

Die grootste bate

Afgesien van sy koeikudde beskou Micky die mense wat vir hom werk as sy heel belangrikste bate – veral sy melkstalbestuurder, Doubt Shava. “Doubt is ’n gekwalifiseerde veekundige van Zimbabwe en bestuur die melkery uiters effektief, van KI tot siektebehandeling en alles tussenin. Verder het ons ’n ‘buitebestuurder’, Rudolf de Bruin, wat na die weidings en besproeiing kyk.”

Hy is geseën met uitnemende personeel. “Ek is in staat om hulle goeie salarisse te betaal, wat beteken dat ek baie streng vereistes kan stel. Enersyds stel ek goeie mense tot my voordeel aan, maar andersyds bied ek vir hulle ’n omgewing waarin hulle kan gedy. Ek sou nie hierdie onderneming sonder goeie personeel suksesvol kon bedryf nie.”

Voer en weidings

Micky produseer raaigras onder 27 spilpunte op 430ha en huur nog ’n klompie hektare by. Hulle plant hoofsaaklik ’n Nieu-Seelandse raaigraskultivar, Ultra. Aanvanklik het hulle ’n persentasie wit- en rooiklawer ook ingemeng, maar deesdae plant hulle net die raaigras. Dit lyk asof die klawer homself hervestig elke keer as die weiding op ’n land vervang word.

Hy gebruik ’n weidingsplaatmeter om te bepaal hoeveel weiding in ’n spesifieke kamp beskikbaar is. Op grond hiervan kan hy dan uitwerk hoeveel dae die koeie in die betrokke kamp kan deurbring voor die elektriese heining verskuif moet word.

“Die mikpunt is dat elke koei 20kg droëmateriaal per dag moet inneem. Die proteïen en energie wat nie deur die weiding verskaf kan word nie, word op die draaitafel in die vorm van ’n suiwelmeelkonsentraat gegee. In die piek groeityd, wanneer die weidings optimaal produseer, verminder ons die meel na ongeveer 3kg/koei/dag. Indien groeitoestande moeiliker raak en die weidings nie genoeg droëmateriaal produseer nie, word die meelkomponent op die draaitafel verhoog.”

Die mikpunt met die toedeling van weiding is dat ’n spesifieke koeigroep nie langer as twaalf ure op ’n spesifieke stuk wei nie. “Ons vars-in-melk koeie loop voor en kry dus elke twaalf ure ’n vars stuk weiding om te benut. In die piek groeiseisoen word hulle dan gevolg deur die mid-laktasiegroep, en hulle weer deur die laat-laktasiegroep, en daarna die droë koeie.”

Voordeel van konsultante

Daar is baie voordele daaraan verbonde om iemand soos Llewellyn Collet van ACS as konsultant te hê, vertel Micky. “ACS konsulteer vir ’n goeie 25% van die melkboere in die land, so as hulle my finansiële state fynkam, meet hulle my syfers teen die gemiddelde norm van al hul kliënte.

“So is my instandhoudingskoste byvoorbeeld op die oomblik baie hoër as die norm, maar ek weet dit is omdat my masjiene oud raak. Ek moet dus ’n gestruktureerde vervangingsproses van stapel stuur. So meet ek myself aan die bedryfsnorm, en skiet ek nie bloot in die donker nie.”

Micky se beste raad: “Maak seker jy kry die regte raad van die beste kundiges beskikbaar. En luister daarna. Bly nederig.” – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Micky Quin by 082 451 5840.

,hartwater, wegholveldbrande, veldbrande, skeerpraktyke, boerbokke, karobboom
noodhulpkas, Dormers, predasiebeheer