Estimated reading time: 5 minutes

Die afgelope paar weke het Veeplaas saam met Izak Klopper ondersoek ingestel na die bestuur van skeerders en die skeerproses van skape en bokke. In hierdie uitgawe gesels hy verder oor die keuse van skaaphanterings- en skeergeriewe.

Lees deel 2 hier.

Prys versus waarde

Baie skaap- en Angorabok-produsente bevraagteken die nodigheid en die koste van verbeterde skeergeriewe. Dit is gewoonlik deels omdat baie landbouers vasgevang is in die mag van die gewoonte (pa en oupa het dit so gedoen en dit werk), terwyl ander somme maak om hulself te vergewis dat die doel die middele sal heilig.

HB van der Walt van Burgersdorp het die bestaande gemeenskaplike vangkraal in individuele vangkrale en terugvoergange vir elke skeerder se skape onderverdeel. Só kan hy die skeerders produktief besig hou vir agt ure per dag, en gehaltebeheer toepas.

Wat skaaphanterings- en skeergeriewe betref, het ons gelukkig nie nodig om die wiel te herontwerp nie. Produsente in Australië en Nieu-Seeland betaal baie vir arbeid en daar word geruime tyd al kopgekrap oor wat gedoen kan word om die skeerproses te vereenvoudig, sodat dit met minder arbeid en groter doeltreffendheid gepaard kan gaan.

Johan Vermeulen van Fauresmith het ’n plan gemaak om die wol en geskeerde skape te skei, wat dit moontlik maak om die vangkraal vir ’n skof van twee uur vol te hou.

Australië het in die 1980’s ’n opname gedoen met die doel om skeerskuurdoeltreffendheid te evalueer. Die mikpunt was om, met die inligting wat van wolprodusente verkry is oor hul ervaring van verskillende skeerskuurstelsels, idees van innoverende skeerskuur-ontwerpe en metodes om doeltreffendheid te verbeter, te versamel. Hulle wou ook inligting beskikbaar stel rondom die voordele van moderne skeerskure om wolprodusente te help om vooruit te beplan.

Die volledige dokument getiteld Shear Sense, kan hier gelees word.

’n ‘Gelukkige’ skuur is doeltreffend

In die konteks van skuurontwerp, het die opname gefokus op minder onnodige arbeid en wat gedoen kan word om die werk makliker te maak.

’n U-vormige platform-skeerskuur in Nieu-Seeland. Dit werk goed om onderlyne en lammerwol reeds te klas, terwyl die skaap geskeer word. Dit voorkom ook dubbele hantering van wol en verhoog wolwerkers se produktiwiteit.

Die belangrikste bevinding wat daaruit gespruit het, was dat platformskeerskure die doeltreffendheid van ’n skeerskuur drasties verhoog. Buiten tegnologiese vordering en ontwikkeling, speel die mense wat in ’n skeerskuur werk, ’n baie groot rol in die doeltreffendheid daarvan. In kort, ’n gelukkige skuur is ’n doeltreffende skuur.

Hoe gemaak op plaaslike vlak?

Daar is ‘n aantal maniere om jou bestaande skeerskuur baie meer doeltreffend te maak.

  • Tyd is baas. Koop ’n muurhorlosie vir jou skeerskuur en probeer om vier twee-uurlikse skofte per dag te skeer. Onthou, hoewel die skeerproses op jou plaas sowat twee weke duur, dit ’n heeljaar-proses vir ’n skeerspan is. Indien die skeerders telkens moet wag dat die skape in die kraal kom, maak dit uiteindelik ’n groot verskil aan die ure wat hulle as ‘onproduktief’ moet afskryf.
  • Bepaal die skeerspan se vermoë ná die eerste twee-ure skof en beplan dan daarvolgens dat die skeerders agt ure lank produktief werk.
  • Eenrigtingverkeer is belangrik. Skape kom by een deur in en gaan by ’n ander uit. Dit voorkom ’n bottelnek waar wolskape vir geskeerde skape moet wag voordat hulle ingejaag kan word.
  • Verklein ’n bestaande gemeenskaplike vangkraal deur dit met los hekkies (2 x 2,5m) te onderverdeel. Die kraaltjie kan voortdurend volgehou word vir die twee-uurlikse skofte.
  • Onderverdeel ’n gemeenskaplike vangkraal in ’n individuele vangkraal en inspeksiekrale om wol en klaargeskeerde skape te skei sodat die skeerders nie sukkel om dié wat nog geskeer moet word, te vang nie.
  • Maak voorsiening vir iemand om die skape vir die skeerders nader te bring as die skeerskuur ’n gemeenskaplike vangkraal het en die skape ver beweeg moet word na die skeerpunt.
  • Sorg vir genoeg onderdakspasie om minstens een volle dag se skape droog te hou.
  • Maak die skape teen laatmiddag in ’n drooghoufasiliteit toe, sodat die skeerders nie hoef te wag vir skape wat nat is nie.
  • Sorg dat die vangkraal en drooghou-oppervlakte hortjiesvloere het om wolbesoedeling te voorkom.
’n Vangkraal en houkraal van een skeerpunt kan saam sowat 40 skape hou. Dit bevorder die voortdurende volhou van die vangkraal tydens die twee-uur-skeerskofte.
Voldoende drooghouspasie vir ’n dag se skeer.
’n Vangkraal met ’n hortjiesvloer wat na ’n vanghek lei. Die vloer daal teen ’n invalshoek van 3% in die rigting van die vangdeur. Die skeerder se taak word vergemalik wanneer ’n skaap teen ’n opdraande draai en afbeweeg na die vanghek.

In die volgende uitgawe kyk ons na spesifieke tipes skeerskure en gee praktiese voorbeelde van ontwerpe wat vir produsente werk. – Izak Klopper, skeeropleidingsbestuurder: Nasionale Wolkwekersvereniging

Vir meer inligting oor skeergeriewe en -praktyke, kontak Izak Klopper by 082 446 2162 of izak@nwga.co.za.

Kyk gerus hier na ’n meer onlangse skeerskuur-ontwerp, die Arrow Park-skeerskuur, wat deur ’n Australiese wolkweker, Hilton Barrett, in samewerking met Australian Wool Innovation ontwerp is.

,hartwater, wegholveldbrande, veldbrande, skeerpraktyke, boerbokke, karobboom