HomeMagazinesFasiliteite teen die somerhitte

Fasiliteite teen die somerhitte

Estimated reading time: 6 minutes

  • Dit is ’n bekende feit dat melkkoeie gevoelig is vir hitte. Omdat koeie se biologiese aanpassing by warm toestande en somerhitte beperk is, moet die omgewing aangepas word.
  • Plaaslike omgewingstoestande moet in ag geneem word wanneer beskutting beplan word.
  • Amerikaanse navorsing toon dat skadu-afdakke oor voerkrippe vir koeie in oop kampe nie sterk aanbeveel word nie, omdat die skaduwee nie ten volle benut kan word nie. Afhangend wanneer koeie gevoer word, het hulle teen tienuur in die oggend meestal klaar gevreet en sal dan gaan lê om te herkou.
  • ‘n Behuisingstelsel kan oorweeg word wanneer die beskikbare loopoppervlakte beperk is. Dit is gewoonlik gerig op groot melkkuddes, maar selfs ’n melkkudde van 20 koeie kan in so ‘n struktuur aangehou word indien spasie vir kampe beperk is.
  • Skadu-afdakke word gewoonlik in oop kampe gebruik. Dit is die eenvoudigste en kostedoeltreffendste manier om koeie teen hoë temperature te beskerm.

Dit is ’n bekende feit dat melkkoeie gevoelig is vir hitte. Suid-Afrika is heelwat warmer en het meer sonskyndae as Brittanje en Wes-Europa vanwaar plaaslike melkbeesrasse oorspronklik gekom het.

Koeie is gemaklik by omgewingstemperature tussen 4 tot 21°C, soortgelyk aan die temperature in die wintermaande in Suid-Afrika. Koeie begin warm kry wanneer die omgewingstemperatuur bo 24°C styg. Dan begin hul asemhalingstempo en liggaamstemperatuur styg. In die somermaande kan dit reeds vanaf tienuur in die oggend wees, veral wanneer koeie geen toegang tot beskutting het nie. Koeie kan kort tydperke van uitermatige hoë temperature uitstaan indien hulle vir ’n gedeelte van die dag, gewoonlik snags, kan afkoel.

Omdat koeie se biologiese aanpassing by warm toestande beperk is, moet die omgewing aangepas word. Ongelukkig is min navorsing oor die waarde van verskillende beskuttingsmetodes vir melkkoeie in Suid-Afrika gedoen. Ons moet ons dus op buitelandse literatuur beroep; internasionale landbou-ingenieurskongresse verskaf redelik inligting hieroor.

Plaaslike omgewingstoestande moet in ag geneem word wanneer beskutting beplan word. Vir Wes-Kaapse klimaatstoestande moet fasiliteite soortgelyk aan beskutting in Israel of Kalifornië in Amerika oorweeg word.  

Lees meer oor hittestres se affek op suiwelkoeie.

Wat wys navorsing?

Onlangs is foto’s op sosiale media geplaas van ’n melkplaas waar die fasiliteite om hittespanning te beperk, veral die aandag getrek het. Dit het skadu-afdakke oor die voerkrippe en skadunette in oop kampe behels, met parkeerarea-tipe afdakke oor die wagkrale.

Hoewel melkkoeie enige vorm van beskutting sal benut, is die waarde van dié fasiliteite twyfelagtig. Amerikaanse navorsing toon dat skadu-afdakke oor voerkrippe vir koeie in oop kampe nie sterk aanbeveel word nie, omdat die skaduwee nie ten volle benut kan word nie. Afhangend wanneer koeie gevoer word, het hulle teen tienuur in die oggend meestal klaar gevreet en sal dan gaan lê om te herkou. Omdat voerkrippe aan die kant van kampe is, val die skaduwee van afdakke dikwels buite die kamp.

Koeie kan kort tydperke van uitermatige hoë temperature uitstaan indien hulle vir ’n gedeelte van die dag, gewoonlik snags, kan afkoel.

Waarnemings toon dat slegs sowat 10 tot 15% van koeie gedurende die warmste tyd van die dag vreet. Die betonblad waarop koeie staan om te vreet en die area net langsaan, is ook die vuilste plek in ’n oop kamp weens die opeenhoping van mis en urine. Voer het min beskutting nodig, omdat dit as ’n reël binne sowat 12 ure opgevreet word. 

Skadunet-afdakke is goedkoop, maar die waarde vir koeie is minder as dié van ’n soliede dak omdat sonstrale steeds deurgelaat word. Plaaslike navorsing het getoon dat die omgewingstemperatuur met 10°C onder ’n soliede dak daal en met 6°C onder ’n dubbele 90% skadunet-afdak. Onder ’n enkele skadunet sal die temperatuurdaling selfs minder wees. Skadunet-afdakke waai ook maklik weg en het dus ’n korter leeftyd as ’n vaste struktuur.

Daar is verskillende maniere om koeie teen somerhitte te beskut. Enkele hiervan is:

Intensiewe behuisingstelsels

So ‘n behuisingstelsel word oorweeg wanneer die beskikbare loopoppervlakte beperk is. Dit is gewoonlik gerig op groot melkkuddes, maar selfs ’n melkkudde van 20 koeie kan in so ‘n struktuur aangehou word indien spasie vir kampe beperk is. ’n Behuisingstelsel (koeihuis) beskut koeie teen sonstrale en winterkoue. Afvalbestuur is ook makliker omdat dit gemeganiseer kan word.

Dit is egter ’n duur opsie en die bestuur van koeie is heeltemal verskillend as vir koeie op weiding en in oop kampe. Die onderhoud van koeihoewe is hier baie belangriker omdat hulle soveel tyd op beton deurbring. Koeie kan beseer word indien die afskortings van die slaapkratte verkeerd is. Gewoonlik is dit te klein (koeie is groter) of die skofbalk is op die verkeerde plek.

Die bestuur van die lê-oppervlak binne die slaapkrat is ook belangrik. Koeie hou daarvan om op ’n sagte en gelyk oppervlak met ’n helling na voor (opdraand) te lê. Beton is baie hard en koeie lê nie graag daarop nie, selfs al word dit met strooi bedek. Sand word dikwels in die slaapkratte gebruik. Dit word egter met die opstaan- en gaan lê-aksie uitgewerk en die lêplek word ongelyk. Die sand beland ook in die misgang en kan die misafvalbeheerstelsel besoedel. Deesdae word gedroogde en gesteriliseerde mis eerder as beddegoed gebruik. Indien die lê-oppervlak nie elke dag gelyk gemaak word nie, is koeie geneig om vir lang tye te staan omdat hulle huiwerig is om te gaan lê.

Daar is tans ’n aantal plaaslike ingenieursmaatskappye wat intensiewe behuisingstelsels oprig. Die ontwerp van die strukture is gerig op buitelandse inligting en lewer goeie resultate. Die ontwerp moet sodanig wees dat die voerkrip in die middel van die gebou of aan die suidekant daarvan is. Dit sal verseker dat koeie minder aan die son blootgestel word. Binne behuisingstelsels is daar ook verskillende maniere om koeie af te koel. In die voergang kan koeie natgespuit word en waaiers kan aangebring word om ventilasie te verbeter.

’n Skadu-afdak

Skadu-afdakke word gewoonlik in oop kampe gebruik. Dit is die eenvoudigste en kostedoeltreffendste manier om koeie teen hoë temperature te beskerm. Direkte sonstrale op koeie word met sowat 30% verminder. Dit moet weg van die voerkrip en naby aan waterkrippe wees. Dit is die plek waar koeie die meeste tyd gedurende die dag deurbring.

Die afdakke moet ten minste 3,7 tot 4m hoog wees. Hoe hoër die afdak, hoe minder is die hitte-uitstraling vanaf die dak op die koeie. Afdakke moet so opgerig word dat heersende winde steeds benut kan word. Die skaduwee van die afdak moet ook heeldag binne die kamp val. Afdakke wat oor grensdrade strek beperk koeie se beweging. Elke kamp moet verkieslik ’n aparte afdak hê. Dit sal die bestuur van die grondoppervlakte vergemaklik.

Dakke moet verkieslik in ’n noord-suid rigting staan. Dit laat die skaduwee van die afdak oor ’n groter grondoppervlak beweeg. Koeie beweeg saam met die skaduwee en sodoende versprei die mis en urine oor ’n groter oppervlakte en die grond word vinniger droog. Ultravioletstrale het ’n natuurlike ontsmettingsvermoë.

Voorsien ten minste 4 tot 5m²  skaduwee per koei. Die lengte-tot-breedte verhouding van die afdak kan van 2:1 tot sowat 10:1 wissel. Die afdak moet nie breër as 10m wees nie, aangesien lugbeweging onder die dak dan afneem.

Dakmateriaal kan aluminium- of sinkplate wees. Dakke moet wit geverf word aan die bokant en swart aan die onderkant. Dit sal indirekte sonstraling deur weerkaatsing vanaf die dak verminder. Die wit kleur sal hittestrale wegkaats.

Bome en weiding

Koeltebome met ’n digte blaarbedekking verleen goeie beskutting teen die son. Blaartranspirasie veroorsaak ook dat die lug koeler is. Bome is egter nie geskik vir groot melkkuddes nie. Misbesoedeling en ontbassing het tot gevolg dat bome met verloop van tyd vrek. Om bome te plant vir beskutting is nie haalbaar nie; dit neem te lank om ’n voldoende grootte te bereik. Die ideaal is om reeds-beskikbare bome te benut.

Koeie op weiding gaan dikwels gedurende die dag na ’n voerkamp waar hulle die warmste tyd van dag deurbring. Bring ’n afdak aan in die kamp, soos vir ’n oopkampstelsel. – dr Carel Muller, navorsingsgenoot, Universiteit Stellenbosch

Vir meer inligting, kontak die outeur by careljcmuller@gmail.com.

Must Read

Lloyd Short: Optimale ontwikkeling is die sleutel tot sukses

Estimated reading time: 6 minutes Veeplaas het, tydens ‘n onlangse besoek aan die area, by Borden Angoras se plaashek ingedraai. Hier woon en werk...