Estimated reading time: 5 minutes

Deon en Tina van Wyk se droom om ’n skaapooi te teel wat regdeur haar produktiewe leeftyd gereeld ’n drieling produseer, lewer vandag resultate. Hulle hoop om teen die einde van die jaar hul skaapteelmodel toeganklik te maak vir nuwe kleinskaalse produsente wat ’n lewensvatbare onderneming wil begin.

Die Van Wyks bestuur die Deonde-drielingprojek op hul plaas buite Delmas in Mpumalanga. Die projek, wat hulle sowat 19 maande gelede van stapel gestuur het, hou groot belofte in en kan geleenthede skep vir nuwe produsente wat op ’n klein stuk grond boer en ’n vastrapplek in die bedryf wil kry.

Die doel van die projek is om vas te stel of hierdie boerderymetode winsgewend kan wees en, indien wel, om dit as ’n besigheidspakket aan produsente beskikbaar te stel. Hierdie ‘pakket’ sal uit ’n ram en ’n aantal ooie wat elk die drielinggeen dra, bestaan, asook ’n bestuurshandleiding, beraamde begroting en rekenaarprogrammatuur.

Die kort en lank van die projek

Deon en Tina van Wyk.

Om die projek aan die gang te kry, het die Van Wyks veilings regoor die land bygewoon, op soek na ramme en ooie wat deel van ’n drieling was en/of drielinge in hul vroulike voorgeslag gehad het. Hulle het sowat 25 ooie en twee ramme gekoop wat by die vereiste profiel gepas het.

Hul huidige model bestaan uit 64 ooie wat in agt groepe van agt ooie elk op ’n agt-maande lamsiklus ingedeel is. Tot dusver het die projek getoon dat ’n lampersentasie van 225% haalbaar is – dit is 18 lammers per groep per siklus. Die langtermyneffek van hierdie hoë prestasie op die ooie se reproduksievermoë, sal egter mettertyd bepaal moet word.

Die Van Wyks is baie tevrede met hul besluit om SA Vleismerino’s vir die projek te gebruik, aangesien die ras uitstekende moedereienskappe het, en vleis en wol van hoë gehalte lewer.

Deon is verbaas oor die uitstekende vordering wat hulle al gemaak het. Hulle het aanvanklik gedink dat dit ’n paar jaar sou duur voordat die ooie wat in die projek geteel is, die vereiste genetiese vlak sou bereik om konsekwent drielinge te produseer. Die ooie wat hulle self geteel het, het reeds in produksie gekom en elkeen het ’n tweeling, drieling en ’n vierling tydens dragtigheidsondersoeke getoon.

Hoewel dit van tyd tot tyd sal gebeur, is vierlinge ongewens omdat die reproduksieprestasie wat van hierdie ooie verwag word, reeds baie hoog is.

Wat gehalte en hoeveelheid betref, kan die belangrikheid van presisievoeding, bestuur en die korrekte teelvoorraad nie genoeg beklemtoon word nie.

Verskeie inkomstestrome

Inkomste uit dié model kan deur vier strome gegenereer word. Eerstens, gegewe die gespesialiseerde voeding van die diere en bestuur, kan ’n mens hoë-gehalte wol verwag. Tweedens is daar ’n groot vraag na noukeurig geselekteerde ramme. Derdens het hul eie ervaring getoon dat geregistreerde ooie wat drielinge dra, tussen R7 000 en R12 000 kan haal wanneer hulle bemark word. Laastens kan lammers op die ouderdom van vyf maande bemark word as hulle tussen 50 en 60kg weeg.

Met ’n streng en kostedoeltreffende begroting en ’n bogemiddelde vlak van bestuur, kan hierdie boerderymetode baie winsgewend wees.

Die produksieproses vir drielinge

Ooie is op ouderdom twaalf maande gereed vir teling. Die teelproses behels die sinkronisering van die ooie, gevolg deur ’n ligte hormoonbehandeling. Elke groep van agt word dan in twee gedeel, met een ram wat by vier ooie gesit word. Die ramme word ná 48 uur weer onttrek.

drieling
Hierdie stoetram het die genetiese vermoë om drielinge te produseer. Die Van Wyks vind dat om een ram op vier ooie te gebruik, hul model die beste pas.

Een van hul skure dien as ’n produksie-eenheid. Dit bestaan uit ’n volledig toegeruste ‘kliniek’ waar skape hanteer en geweeg word, agt ooihokke van 30m2 elk, agt lamhokke van 3m2, een hok waar voer veilig geberg word en agt buitelug-dagkampe van 100m2 elk. Geen beweiding vind plaas nie en groenvoer word voorsien terwyl die skape in die oop dagkampe is.

Die opset sluit ook ’n voerskuur met ses hokke in wat groot genoeg is om die lammers in te voer, twee groot hokke waarin die ramme oornag, vier buitelugkampe waar lammers bedags gelaat word, asook twee buitelugkampe vir die ramme.

Die Van Wyks werk nou saam met voedingkundiges en ’n veearts om te verseker dat die diere die regte voer en aanvullings kry om goeie kondisie te handhaaf.

Die lamproses van ‘n drieling

Die ooie word sowat tien dae voordat hulle lam, in die lamhokke geplaas. Daar ontvang hulle elke twee uur ’n gedeelte van die volvoermengsel. Hierdie ooie moet meer gereeld gevoer word, omdat die spasie wat die meerlingfetusse in die baarmoeder opneem, geneig is om die maag se kapasiteit te verminder.

Ná lam bly die ooie tien dae lank in die lamhokke en bly die rantsoen dieselfde vir die eerste maand. Skoon water is heeltyd beskikbaar. Die deeglik geventileerde lamhokke word met ’n dik graslaag uitgevoer. – Andries Gouws, Veeplaas

Lees verwante inhoud.

Vir meer inligting, kontak Deon van Wyk by 082 788 0598 of deon@deonde.co.za.