Die stand van vleisbeesgenetika in die land

Estimated reading time: 4 minutes

  • Hoewel kunsmatige inseminasie (KI) algemeen in die Suid-Afrikaanse vleisbeesbedryf gebruik word, behels die meeste daarvan plaaslike semen.
  • Ingevoerde vleisbeessemen word waarskynlik soveel meer in melkkuddes gebruik, omdat melkprodusente feitlik uitsluitlik van KI gebruik maak.
  • Hoewel daar beperkings op invoere vanuit verskeie lande is weens invoerprotokolle wat nie in plek is nie, is invoere wel vanaf sekere lande moontlik.
  • Relatief min embrio’s word egter tans ingevoer.
  • Daarteenoor word wel embrio’s vanaf Suid-Afrika uitgevoer.

Hoewel kunsmatige inseminasie (KI) algemeen in die Suid-Afrikaanse vleisbeesbedryf gebruik word, behels die meeste daarvan plaaslike semen. Ingevoerde semen vorm ’n baie klein persentasie van die totale KI-syfers in Suid-Afrika. Daarenteen gebruik melkprodusente noemenswaardig meer ingevoerde semen op hul melkkoeie om waarde toe te voeg tot die kalwers wat hulle produseer.

Die gebruik van vars semen in vleisbeeskuddes, sê Roy Dixon van CRV Xseed, is veral baie algemeen en beteken dat plaaslike bulle se semen wyd versprei word. Hoewel spesifieke regulasies rondom die gebruik van semen bestaan, is daar tans geen vorm van kontrole nie. Die gevolg is dat daar ’n baie groot risiko bestaan vir die oordra van negatiewe gene sowel as siektes van een kudde tot ‘n volgende.

Ingevoerde vleisbeessemen word waarskynlik soveel meer in melkkuddes gebruik, omdat melkprodusente feitlik uitsluitlik van KI gebruik maak. Baie van hul semen word in elk geval ingevoer en hulle is dus in ’n ritme om ingevoerde semen te gebruik.

Kruiskalwers kry groter waarde

“Om die stertkant van hul kuddes met vleisbeessemen te KI, verseker dat die kruiskalwers wat gebore word ’n groter ekonomiese waarde het deurdat dit aan voerkrale verkoop kan word. Voerkrale stel nie juis in suiwer melkbeeskalwers belang nie,” sê hy.

Hoewel daar beperkings op invoere vanuit verskeie lande is weens invoerprotokolle wat nie in plek is nie, is invoere wel vanaf sekere lande moontlik. Hierdie feit word deur die plaaslike Dieregenetika-handelaarsvereniging (Animal Genetics Traders Association of AGTA) beaam.

AGTA verteenwoordig ongeveer 90% van die beessemen-invoerders in Suid-Afrika en voer suiwel- en vleisbeessemen in. AGTA werk ook baie nou saam met die Registrateur van Veeverbetering in die Nasionale Departement van Landbou, sowel as met telersgenootskappe in beide die vleis- en melkbeesbedrywe om aan invoerregulasies te voldoen. AGTA voer ook semen op versoek van telers in.

Volgens AGTA word die oorgrote meerderheid van jaarlikse invoere deur sy lede vir die suiwelbedryf ingevoer, met baie beperkte hoeveelhede vir vleisbeestelers. Rondom 3% van die totale semeninvoere is vir die vleisbeesbedryf en sluit alle rasse in. KI word nie kommersieel op groot skaal in die vleisbeesbedryf toegepas nie; dit word hoofsaaklik gebruik deur stoettelers wat hul bulle in die plaaslike kommersiële mark verkoop.

Melkprodusente voer meer semen as vleisbeesprodusente in omdat hulle gewoond is aan KI en semen-invoere, en waarde tot hul stertkant-kalwers toevoeg. Baie vleisbeesstoettelers wil semen strategies gebruik om unieke genetiese lyne in die stoet te vestig. Hulle wil dus nie noodwendig semen op groot maat saam met ander produsente invoer nie. Die invoerkoste van semen is baie hoog en as die produsent net ’n klein hoeveelheid strooitjies van ’n paar bulle wil invoer, raak die koste doodgewoon te hoog.

Invloed op bulpryse

Angus-semen word verreweg die meeste ingevoer, sê Dixon, maar ’n ongelukkige uitvloeisel hiervan is dat dit ’n beduidende beperking plaas op die bulpryse wat Angustelers op veilings kry. Sodra bulle te duur word, verkies telers doodgewoon om eerder semen in te voer. Die argument is dat hulle maklik groot hoeveelhede semen kan invoer teen die prys van ’n duur bul. Daardie semen verteenwoordig van die beste beskikbare genetika in die wêreld. Angusbulpyse van meer as R80 000 is seldsaam. As gevolg van die grootmaat-invoer van Angussemen, is die gehalte van Angusse in Suid-Afrika egter op wêreldstandaard.

In ’n ideale wêreld, sê Roy, sal ’n rasgenootskap bulle van oor die hele wêreld evalueer en dan op ’n groep besluit waarvan die saad vir belangstellende telers ingevoer kan word. In hierdie stadium is die fokus egter grotendeels op ’n mededingende voordeel vir eie kuddes en klein hoeveelhede strooitjie-besendings kos dan (per strooitjie) eenvoudig te veel.

Gebruik van embrio’s

Marietjie Krüger van Absolute Genetics sê veral stoettelers gebruik toenemend embriotegnologie om genetiese materiaal in hul kuddes vas te lê. “Aan die een kant kan beginnertelers baie vinniger ’n hoogstaande stoetkudde opbou as hulle van embriotegnologie gebruik maak, maar aan die ander kant is dit ook ’n baie doeltreffende manier om risiko te bestuur met baie waardevolle koeie.” 

Relatief min embrio’s word egter tans ingevoer. Die administrasie van invoere is kompleks en omslagtig. Die protokolle maak tans slegs voorsiening vir die invoer van konvensionele spoel-embrio’s, en nie vir embrio’s wat deur middel van die in vitro-bevrugtingstegniek geproduseer is nie. Plaaslik word hierdie tegniek redelik algemeen gebruik.

Daarteenoor word wel embrio’s vanaf Suid-Afrika uitgevoer. Die protokolle na Paraguay en Namibië is byvoorbeeld onlangs weer in plek gesit. Dit, sê sy, skep ’n ekstra mark om plaaslike genetika te versprei. – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Vir meer inligting, skakel Roy Dixon by 082 905 0293 of Marietjie Krüger by 076 426 1735.

Must read

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse word weekliks aan u gebring deur Absa en die RPO. Neem kennis dat hierdie nie...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 32 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you by the South African Pork Producer's Organisation (SAPPO). Click here for this week's report. How are these...

Landboumarkverslag: Julie 2026

Estimated reading time: 2 minutes Gedurende Julie het die rand effens verswak teenoor die Amerikaanse dollar, dit het met 10 sent verswak en Julie het...

Prime Brangus produksieveiling: Top Brangus genetika op aanbod in die Vrystaat

Estimated reading time: 3 minutes Die Suid-Afrikaanse veebedryf ervaar toenemende uitdagings wat wissel van veranderlike klimaatstoestande tot die behoefte aan maksimum doeltreffendheid op die veld....

LandbouRadio: 14 Augustus 2026

In Vrydag, 14 Augustus se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Vandag skop ons af met 'n kraakvars landbounuusbulletin. Dr Danie Odendaal, direkteur van Veearts...