Estimated reading time: 4 minutes
- Spoorelemente of -minerale is ‘n klein komponent van dierevoeding, maar het ‘n groot impak op beeste en skape se gesondheid, prestasie en winsgewendheid.
- Spoorelemente is die onsigbare dryfkrag agter talle biologiese prosesse.
- Oor-aanvulling kan net so gevaarlik wees as ‘n tekort.
- Basiese riglyne vir veilige en doeltreffende mineraal-aanvulling behels eeWerk altyd saam met kundiges.
- Betrek jou veearts en ‘n gekwalifiseerde voedingkundige.rstens dat toetse gedoen word.
Spoorelemente of -minerale is ‘n klein komponent van dierevoeding, maar het ‘n groot impak op beeste en skape se gesondheid, prestasie en winsgewendheid. Dr Johan van Rensburg, besturende direkteur van Axiota Animal Health, sê mineraal-aanvulling vir beeste word dikwels oor die hoof gesien. Al vorm dit net ‘n klein deel van ‘n herkouer se daaglikse inname, is dit onontbeerlik vir optimale gesondheid.
Minerale soos koper (Cu), selenium (Se), sink (Zn), jodium (l) en kobalt (Co) help om diere gesond te hou, groei te versnel en goeie vrugbaarheid te bevorder. Hy waarsku egter dat die regte hoeveelhede aangevul moet word. Te min of te veel minerale kan tot swak groei, herhalende siektes, vrugbaarheidsprobleme en selfs vrektes lei.
Spoorelemente is belangrik
Spoorelemente, sê hy, is die onsigbare dryfkrag agter talle biologiese prosesse. Al lewer dit nie energie nie, is dit uiters belangrik vir ensiem-aktiwiteit, hormoonproduksie en ’n gesonde immuunstelsel. Selenium versterk byvoorbeeld die liggaam se antioksidantbeskerming en verbeter immuniteit, terwyl Cu noodsaaklik is vir die vorming van rooibloedselle en ‘n gesonde senuweestelsel. Sink bevorder groei, wondgenesing en die integriteit van die vel. Jodium is belangrik vir metabolisme en skildklierfunksie, terwyl Co nodig is vir mikrobes in die rumen wat vitamien B12 sintetiseer.
’n Dier kan gesond voorkom, sê hy, maar as daar nie voldoende hoeveelhede van hierdie elemente beskikbaar is nie, kan dit lei tot ’n onsigbare afname in prestasie, vrugbaarheid en siekteweerstand. Spoorelementtekorte kom boonop meer gereeld voor as wat ‘n mens dink. Dit is omdat grond in baie dele van Suid-Afrika natuurlik arm aan sekere minerale is. Selfs met ’n gebalanseerde rantsoen kan diere aan tekorte ly.
Moderne genetika en versnelde groei verhoog ook mineraalbehoeftes. Navorsing toon dat subkliniese tekorte (waar die dier normaal voorkom, maar nie optimaal presteer nie) wydverspreid voorkom. Dit geld vir baie Suid-Afrikaanse kuddes, veral in tydperke wat fisiologies veeleisend is soos speen, kalwing of vervoer. Meervoudige tekorte kom dikwels gelyktydig voor en bemoeilik diagnose en behandeling.
Nie alle spoorelementtekorte het sigbare tekens nie. Moontlike tekens is stadige groei, swak immuniteit, gereelde siektes, lae speengewig en swak voerkraalprestasie. Hierdie subtiele probleme het ‘n groot uitwerking op winsgewendheid. Veral pasgebore kalwers is kwesbaar omdat hul spoormineraalreserwes van die moeder afkomstig is en as sy ‘n tekort het, begin die kalf met ‘n agterstand.
‘n Kalf se immuunstelsel ontwikkel nog en selfs ‘n klein mineraaltekort kan ernstige gevolge hê. Kalwers word met lewerminerale gebore, maar indien die koei teen die einde van dragtigheid mineraal-arm is, word die kalf met swak immuniteit gebore. ‘n Studie in 2014 het getoon dat inspuitbare spoorelemente jong kalwers se groei en immuunfunksie merkbaar verbeter het.
Die moets en moenies
Oor-aanvulling kan net so gevaarlik wees as ‘n tekort, maan dr Van Rensburg. Te veel Cu kan byvoorbeeld stilweg in die lewer ophoop en tydens ‘n stresvolle gebeurtenis dodelike vergiftiging veroorsaak. ‘n Oormaat Zn en Se kan weer prestasie onderdruk.
Basiese riglyne vir veilige en doeltreffende mineraal-aanvulling behels eerstens dat toetse gedoen word. Verkry dus akkurate data deur die grond, voer en diere te toets. Pas aanvullings aan deur die regte tipe en dosis vir die dier se ouderdom, produksiefase en streek te kies. Gebruik verkieslik hoë-biobeskikbare vorme soos organiese chelaat en selenometionien wat beter deur die dier opgeneem word. Bemagtig jouself ook deur teenwerkende faktore te verstaan – molibdeen, yster en swael kan byvoorbeeld Cu-absorpsie belemmer.
In ‘n neutedop
- Bepaal die situasie op die plaas deur deeglike grond- en voerontledings te doen.
- Toets gesonde diere, want bloedtoetse bied ‘n realistiese prentjie van die kudde se mineraalstatus.
- Vul net die nodige aan en moenie ‘n ‘gooi-alles-in’-benadering volg nie.
- Verhoog aanvullings tydens stresvolle tydperke soos kalwing of speentyd.
- Moenie oor-aanvul nie. Balans is belangriker as hoeveelheid.
- Werk altyd saam met kundiges. Betrek jou veearts en ‘n gekwalifiseerde voedingkundige. – Christal-Lize Muller, Plaas Media
Vir meer inligting, kontak dr Van Rensburg by 082 336 5498 of e-pos johan@axiota.co.za.






