Estimated reading time: 5 minutes
- Etienne Zeeman van die plaas, Leeurivier, naby Swellendam produseer Jersey-melk van weidings af. Die laaste vyf uit sewe jaar het hy die Landbounavorsingsraad (LNR) se toekenning ontvang vir die beste somatiese seltelling (SST) in die land.
- Higiëne is verseker nommer een faset om nie te verwaarloos nie. Beeste moet nooit in nat, modderige krale wees nie. In die winter, tydens die reënseisoen, sien jy dadelik hoe die somatiese seltelling opgaan.
- Die afgelope klompie jare het hulle begin wegbeweeg van die standaardgebruik van antibiotika tydens droëkoeibehandeling. Hierdie behandeling geld nou net vir koeie van wie die somatiese seltelling teen die einde van hul laktasie begin styg het.
- Etienne maak hoofsaaklik van permanente weidings onder besproeiing gebruik, wat hy dan oorsaai indien nodig.
- Die bestuur van somatiese seltelling is ’n deurlopende proses. Dis nie iets waaraan jy net sporadies kan aandag gee nie. Verder is biosekuriteit net so noodsaaklik om besmetting te voorkom.
Etienne Zeeman van die plaas, Leeurivier, naby Swellendam produseer Jersey-melk van weidings af. Die laaste vyf uit sewe jaar het hy die Landbounavorsingsraad (LNR) se toekenning ontvang vir die beste somatiese seltelling (SST) in die land. Die geheim, sê hy, is om geen faset van jou melkery te verwaarloos nie.
“Higiëne is verseker nommer een. Beeste moet nooit in nat, modderige krale wees nie. In die winter, tydens die reënseisoen, sien jy dadelik hoe die SST opgaan. Jy moet ook onmiddellik optree as daar ’n probleem by ’n spesifieke koei opduik. As ons ’n koei identifiseer, behandel ons haar twee keer. As dit ’n baie goeie koei is, dalk ’n derde keer. Maar as sy dan nie na wense reageer nie, word sy uitgeskot.”
Lees meer oor die gebruik van chemikalieë op melkplase hier.
Monitering van SST
Die afgelope klompie jare het hulle begin wegbeweeg van die standaardgebruik van antibiotika tydens droëkoeibehandeling. Hierdie behandeling geld nou net vir koeie van wie die SST teen die einde van hul laktasie begin styg het. Dit maak ’n groot finansiële verskil, terwyl dit nie werklik ’n invloed op die koeie se uiergesondheid gehad het nie.
“Ons het drie kontrolestelsels op grond waarvan ons SST monitor. Die eerste is ons Afikim-bestuurstelsel wat onder andere die melk se konduktiwiteit, wat ’n aanduiding van SST is, meet. Dan is daar die LNR se melkaantekeningverslae wat ook goeie terugvoer bied. Laastens doen ons elke Maandagoggend ’n toets in die melkbekertjie (strip cup) waarvolgens ons kan bepaal of daar ’n probleem is.”
Etienne het ’n plan om die krale droog te hou. “Ek is gelukkig dat hier ’n saagmeule naby ons is. Ons gooi groot hoeveelhede droë bas en saagsels in die krale as dit te nat word. Die vuil, nat saagsels word dan gereeld uitgehaal, na kompos verwerk, en op die weidings gestrooi.”
Etienne sê genetika speel ’n rol by uiergesondheid. Daarom gebruik hy die afgelope 20 jaar al uitsluitlik Deense genetika. Die Dene selekteer uiters streng vir uiergesondheid en daarmee saam lewer hulle Jerseys ook hoë proteïen- en bottervetpersentasies.
“My huidige stalgemiddeld, hierdie tyd van die jaar, is rondom 16ℓ, met 5,4% bottervet en 4,3% proteïen.”
Leer meer oor die effek van hittestres op ‘n melkkudde hier.
Die weidingstelsel
Etienne maak hoofsaaklik van permanente weidings onder besproeiing gebruik, wat hy dan oorsaai indien nodig. “Ons wei dag en nag, en die koeie kry elke oggend en aand ’n nuwe weidingstoedeling wat met ’n elektriese draad afgekamp word. Ons gee net ’n klein hoeveelheid kragvoer in die melkstal. Ons beeste staan feitlik nooit in ’n stal nie, wat ook ’n groot invloed op SST het.”
Die weidings bestaan uit ’n mengsel van grasse, klawers, lusern en ’n klein bietjie sigorei. “Met hierdie mengsel is daar regdeur die jaar kos en jy verloor nie telkens ’n groot deel van jou weiding omdat jy nuwe weidings moet vestig nie.” Sy weidings hou tussen ses en agt jaar voor hervestiging nodig is.
“Die bestuur van SST is ’n deurlopende proses. Dis nie iets waaraan jy net sporadies kan aandag gee nie. Verder is biosekuriteit net so noodsaaklik om besmetting te voorkom.”
Dis dikwels beter om van jou koeie met kroniese hoë SST’s ontslae te raak, sê hy. “Dis ongelukkig dikwels die hoë produseerders wat ’n probleem optel, en dan maak dit seer om van hulle ontslae te raak. Aanhoudende behandeling kos geld, en daar is die finansiële verlies van die melk wat jy moet onttrek. As jy egter die koste bereken, is dit beter om maar oë toe te knyp en hulle uit jou kudde kry.”
Die gedugte span
Etienne beklemtoon dat suksesvolle melkproduksie ’n spansport is, en lae SST is die eindresultaat van ’n gedugte span.
“Ek het vir die afgelope 21 jaar ’n uitstekende melkerybestuurder, Attie Eksteen, en hy speel sonder twyfel ’n enorme rol in ons sukses. Dan moet die rol van my stalbestuurder, Clarence Matabata, en natuurlik die hele span, definitief ook genoem word. Almal moet saamwerk om sukses te behaal.” – Izak Hofmeyr, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Etienne Zeeman by 082 921 2902.
