Estimated reading time: 4 minutes
- Soja-oliekoek bly een van die heel belangrikste insluitingskomponente in pluimveediëte en is ‘n uitstekende bron van proteïen en energie in dierevoeding.
- Die hoë voedingstofinhoud en relatiewe lae koste daarvan in vergelyking met ander proteïenbronne, maak dit ’n waardevolle bestanddeel in veevoerrantsoene.
- Volvet soja-oliekoek is ‘n goeie bron van energie en proteïen, aangesien dit steeds al die olie van die oorspronklike boon bevat. Ontvette soja-oliekoek is hoofsaaklik ‘n proteïenbron, omdat die meeste olie verwyder is.
- Wat die drywers van die gehalte van sojaboonprodukte vir voergebruik in Suid-Afrika betref, toon die studie dat soja-oliekoek ‘n voorkeurbestanddeel as hoofproteïen in die formulerings van pluimveerantsoene geword het.
- Die jaarlikse AFMA-voorsittersverslag stel sekere voorlopige minimum gehaltestandaarde vir soja-oliekoek voor. Dit is deur die bedryf aanvaar, maar nog nie by enige wetgewing of regulasies ingesluit nie en dien dus tans slegs as ’n beste-praktyk riglyn.
Soja-oliekoek bly een van die heel belangrikste insluitingskomponente in pluimveediëte en is ‘n uitstekende bron van proteïen en energie in dierevoeding. Die hoë voedingstofinhoud en relatiewe lae koste daarvan in vergelyking met ander proteïenbronne, maak dit ’n waardevolle bestanddeel in veevoerrantsoene. Die beskikbaarheid daarvan in die nodige volumes en teen ‘n konstante aanbod dwarsdeur die jaar, is dus belangrik.
Anina Hunter, voorsitter van die Veevoervervaardigersvereniging (AFMA), sê in ‘n artikel hieroor dat sojabone meer as 40% proteïen bevat, wat dit een van die rykste proteïenbronne vir veevoer maak. Buiten proteïen, bevat dit essensiële aminosure en gesonde onversadigde vetsure asook belangrike minerale soos yster, kalsium en fosfor, wat sterk bene en weefsels in diere help ontwikkel en onderhou.
Gehalte is egter belangrik, want as dit te veel of te min verwerk word, kan die voedingsvoordele daarvan verlore raak en die prestasie van produksiediere benadeel.
Lees meer oor die rol van aminosure in veevoer hier.
Tipes soja-oliekoek
Die meeste sojaboonsaad word gepers en deur middel van ’n oplosmiddelproses verwerk, wat ongeveer 99% van die olie verwyder. ‘n Studie deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) in 2021, wat deur die Olie-en Proteïensade-ontwikkelingstrust (Opot) gefinansier is, het die hooffaktore van soja-oliekoekgehalte as bestanddeel in Suid-Afrikaanse veevoer ondersoek. Die studie het getoon dat verskillende sojaprodukte nie tydens veevoerformulering uitruilbaar is nie.
Volvet soja-oliekoek is ‘n goeie bron van energie en proteïen, aangesien dit steeds al die olie van die oorspronklike boon bevat. Ontvette soja-oliekoek is hoofsaaklik ‘n proteïenbron, omdat die meeste olie verwyder is. In uitgeperste soja-oliekoek is sommige van die olie verwyder, maar bevat nie dieselfde hoë energievlakke soos volvet soja-oliekoek nie.
Die studie beklemtoon dat sojabone teen hoë temperature behandel of gekook moet word om tripsien-inhibeerders en ander elemente wat vir enkelmaag-organismes nadelig is, te vernietig. Dit verhoog ook die oliebeskikbaarheid, terwyl die proteïengehalte (aminosure) behoue bly. Die olieperser speel ‘n belangrike rol in die verbetering van die voedingswaarde van soja-oliekoek, deur die regte vlakke van hittebehandeling in die verskillende verwerkingstadiums toe te pas.
Volgens die BFAP-studie verbruik die lewendehawebedryf in Suid-Afrika jaarliks sowat 1,2 miljoen ton soja-oliekoek. Daar is bevind dat sojaboonmeel, wat plaaslik geproduseer maar ook ingevoer word, die gekose proteïenbron is vir intensiewe pluimveevoerformulering.
Gehaltestandaarde
Heelwat werk is die afgelope klompie jare deur vervaardigers en voermeulens gedoen om die persproses en die afgelewerde produk te verbeter. Dit is veral sigbaar in die verlaging van tripsieninhibeerders en die lewering van produkte met ’n proteïeninhoud van minstens 46,5%.
Wat die drywers van die gehalte van sojaboonprodukte vir voergebruik in Suid-Afrika betref, toon die studie dat soja-oliekoek ‘n voorkeurbestanddeel as hoofproteïen in die formulerings van pluimveerantsoene geword het. Binne die huidige regulatoriese raamwerk is daar egter geen amptelike verwysing na ‘n vereiste minimum olie- en/of proteïeninhoud by soja-oliekoek nie. Die bedryf werk steeds aan die ontwikkeling van gehaltestandaarde vir soja-oliekoek, ’n proses wat parallel loop met die beoogde ontwikkeling van ‘n soja-oliekoek termynkontrak wat op Safex genoteer kan word.
Die jaarlikse AFMA-voorsittersverslag stel sekere voorlopige minimum gehaltestandaarde vir soja-oliekoek voor. Dit is deur die bedryf aanvaar, maar nog nie by enige wetgewing of regulasies ingesluit nie en dien dus tans slegs as ’n beste-praktyk riglyn. Tabel 1 bevat die voorgestelde gehaltemetings en minimumstandaarde vir sojaboonmeel in Suid-Afrika. Standaardmeting moet deur middel van goedgekeurde ontledingsmetodes gedoen word.
Tabel 1: Voorgestelde gehaltemetings en minimumstandaarde vir sojaboonmeel in Suid-Afrika. (Bron: Oilseeds Focus, Junie 2021)
| Gehalteparameter | Minimumstandaarde |
| Minimum proteïeninhoud | 46% |
| Maksimum voginhoud | 12% |
| Maksimum as-inhoud | 6,5 |
| Suur-onoplosbare inhoud | 1,5% |
| Maksimum veselinhoud | 5% |
| Vetbasis-inhoud | 2% (maksimum 2,5%) |
| Partikelgrootte | 10mm maksimum sonder enige klonte |
| Maksimum urease-aktiwiteit | 0,15 eenhede van pH verandering |
Vir meer inligting, epos Anina Hunter by anina.hunter@rclfoods.com of marion@bfap.co.za. – Christal-Lize Muller, Veeplaas


