Beheer die vlieë naby jou vee

Share This Post

Estimated reading time: 5 minutes

  • Dr Didi Claassen van Afrivet sê ’n 2007-opname het getoon dat vlieë produsente omtrent 18 sent per dag per kalf uit die sak kan jaag.
  • ’n Vliegplaag het ’n direkte invloed op diere. Die vee raak geweldig geïrriteerd en vlieë soos stalvlieë wat bloedsuiers is, kan weefselskade aanrig omdat hulle die diere stukkend byt en wonde agterlaat waar nog vlieë hul eiers kan lê.
  • Volgens dr Gerhard Verdoorn van Croplife SA en ’n kenner op die gebied van insekbeheer, is die beste beheermaatreël om ‘n totaal holistiese program te volg.
  • Volgens dr Claassen behoort diere gereeld gedip te word. Dipmiddels wat peritroiëd bevat kan doeltreffend teen vlieë aangewend word.
  • Dr Claassen sê dit is ook belangrik om die stalle of krale waar die diere aangehou word higiënies te hou.

Vlieë is ’n groter probleem as wat ’n mens dink. In die verlede is verskeie opnames en toetse in landboukringe gedoen om die omvang van finansiële skade vir die produsente te bereken. Die resultate was skokkend.

Dr Didi Claassen van Afrivet sê ’n 2007-opname het getoon dat vlieë produsente omtrent 18 sent per dag per kalf uit die sak kan jaag. Soortgelyke berekenings in Amerika in 2019 het kostes van tot R1,50 per dag per dier aangedui. In ’n Amerikaanse artikel word aangedui dat vlieë die beesbedryf tot US$1,5 miljard per jaar aan produksie kos.

’n Vliegplaag het ’n direkte invloed op diere. Die vee raak geweldig geïrriteerd en vlieë soos stalvlieë wat bloedsuiers is, kan weefselskade aanrig omdat hulle die diere stukkend byt en wonde agterlaat waar nog vlieë hul eiers kan lê. Daar is ook indirekte gevolge omdat vlieë draers van verskeie siektes en parasiete is. Die gevolg is gewigs- en produksieverlies.

Lees meer oor vliegbeheer.

Beheer van vlieë

Volgens dr Gerhard Verdoorn van Croplife SA en ’n kenner op die gebied van insekbeheer, is die beste beheermaatreël om ‘n totaal holistiese program te volg. Om net een metode te gebruik, gaan nie die beste resultate oplewer nie.

Dr Claassen stem saam. Sy glo ook dat ’n volledige, geïntegreerde, holistiese aanslag op die lang duur groot besparings op die koste van chemiese produkte teweeg sal bring. “Deur die regte produk in die regte areas te gebruik, sal vliegplae verminder.”

Daar is vier komponente wat aandag moet kry in vliegbeheer.

Omgewingshigiëne

Eerstens moet die omgewing waar die diere beweeg skoon gehou word, veral waar die diere naby mekaar is, soos in melkstalle en voerkrale. Die eerste stap is om potensiële broeiareas te verwyder. Mis- en komposhope moet verwyder word en die mis moet versprei word sodat dit kan droog word.

Enige karkasse moet verwyder word en nat areas by mishope moet gelaat word om te droog.

Behandeling van mis

Die tweede komponent is om die gebiede waar die mis lê, te behandel. Vlieë verkies om hul eiers in die mis te lê. Die mis kan verwyder word, maar dit is nie altyd prakties moontlik nie. Daarom kan die mishope ook chemies behandel word met middels wat peritroiëd bevat. Dit laat vlieë vrek as hulle daarmee in aanraking kom.

’n Alternatief is om insekgroeireguleerders (IGR’e), soos middels wat novaluron bevat, te gebruik. IGR’e laat die vlieg se lewensiklus reeds in die larfstadium stop. Volgens haar het IGR’e op mishope geen effek op erdwurms en wespe nie. Hierdie middel kan ook doeltreffend by hooi en voerbale gebruik word.

Leer meer oor neusvliegbeheer.

Beheer by diere

Volgens dr Claassen behoort diere gereeld gedip te word. Dipmiddels wat peritroiëd bevat kan doeltreffend teen vlieë aangewend word. Dit maak die larf sowel as die volwasse vlieg dood.

Daar is ook chemiese dipmiddels op die mark wat IGR’e bevat wat tot 16 weke doeltreffend teen brommeraanvalle sal werk. Haar advies is dat ’n dieregesondheidsagent se hulp ingeroep moet word om ’n plaasspesifieke vliegbeheerprogram uit te werk vir die beste resultate. Elke plaas is uniek en elke geval moet op sy eie meriete beoordeel en behandel word.

Dit is ook belangrik om diere se wonde met ’n middel te behandel wat vlieë sal weghou. Omdat sekere vlieë, soos die stalvlieg, ’n bloedsuier is, is dit noodsaaklik om die wonde te behandel met ’n sproei wat die vlieë sal weghou en maaiers in die wonde sal doodmaak. Hierdie middel het ’n kiemdodende effek en sal wondgenesing bevorder.

“Dit is belangrik om wonde skoon te maak en larwes te verwyder om wondgenesing te bevorder.” In gevalle waar ouer wonde bestaan en maaiers reeds diep in die weefsel inbeweeg het, kan dit help om die dier met ’n kortwerkende ivermektien te spuit wat die maaiers waarby die sproei nie kan uitkom nie, sistemies te behandel.

Beheer in stalle en krale

Dr Claassen sê dit is ook belangrik om die stalle of krale waar die diere aangehou word higiënies te hou. Een opsie is om lokaas in sekere areas weg van krale of stalle te plaas. Hierdie ‘lokvalle’ is só ontwerp dat die vlieë deur ’n tregtervormige tonnel ingaan, maar dit nie weer kan verlaat nie.

Lees meer oor ooginfeksies by vee.

Sy voeg by dat dit noodsaaklik is om die stalle of krale se mure gereeld met middels wat die insekte sal laat vrek, te bespuit. Daar is heelwat chemiese middels op die mark wat hiervoor aangewend kan word. Die geheim is nie soseer in die soort middel wat gebruik word nie, maar eerder die gereelde gebruik daarvan. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Didi Claassen by 066 374 0395.

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 4 minutes Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 35 of 2024

The weekly pork carcass prices are brought to you...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Ankole embryos sell for record price in South Africa

The South African record price for embryos sold was...