Neusvlieg: Laat die maaiers op hul neus kyk

Estimated reading time: 4 minutes

  • Neuswurm is ‘n parasiet wat gewoonlik redelik algemeen gedurende die lente- en somermaande voorkom.
  • Wat die vlieg uniek maak, is die feit dat die wyfievlieg, in plaas van eiers, vlieglarwes op die gasheerdiere deponeer.
  • Nadat die eiers bevrug is, ontwikkel het en binne in die wyfievlieg uitgebroei het, deponeer sy die larwes in die neusgate van die gasheer.
  • Klassieke simptome van skape wat met neuswurm besmet is, sluit diere in wat nies en proes en met hul voorpote op die grond stamp. ’n Neusafskeiding kan ook ’n aanduiding wees van neuswurmbesmetting, maar kan verwar word met toestande soos bloutong of pasteurellose.
  • Dit is baie belangrik dat ramme voor paring vir neuswurm behandel word. Die parasiet sal ’n ram se vermoë om die ooie te ruik heel moontlik belemmer, wat ’n negatiewe uitwerking op reproduksie sal hê.

Skaap- en bokprodusente wat nog nie met neuswurm in hul kuddes te make gehad het nie, kan hulself gelukkig ag. Hierdie parasitiese kalant kom gewoonlik redelik algemeen voor gedurende die lente- en somermaande.

In hierdie uitgawe verfris dr Philip van Tonder van Warden Dierehospitaal, lesers se geheue oor neuswurms wat veroorsaak word deur die larwes van die neusvlieg, Oestrus ovis, en slegs in skape en bokke tot volwassenheid ontwikkel.

“Wat die vlieg uniek maak, is die feit dat die wyfievlieg, in plaas van eiers, vlieglarwes op die gasheerdiere deponeer,” sê dr Van Tonder. “Neuswurm is nie lewensgevaarlik nie, maar hul teenwoordigheid veroorsaak nasale irritasie wat uiteindelik kan lei tot swak groei en wolproduksie. Hulle kan ook ’n negatiewe uitwerking op reproduksie hê weens die ramme se aangetaste reuksintuig.

“Terselfdertyd maak ’n ooi ook staat op haar reuksintuig om haar lam in die trop te identifiseer en die teenwoordigheid van neuswurm kan dus hierdie vermoë beïnvloed. Verder kan neuswurm aanleiding gee tot pasteurellose indien dit nie vroegtydig behandel word nie. Doeltreffende behandeling is daarom van uiterse belang.”

Lees meer oor Johne se siekte hier.

’n Kort lewensiklus

Nadat die eiers bevrug is, ontwikkel het en binne in die wyfievlieg uitgebroei het, deponeer sy die larwes in die neusgate van die gasheer.

Oestrus ovis-larwes voltooi drie stadiums van ontwikkeling:

  • Die larfstadium kan wissel van een tot nege maande, afhangend van die klimaat.
  • Soos wat hulle ontwikkel, migreer die larwes deur die neusholte na die gasheer se sinusse.
  • In die finale stadium word die larwes deur die gasheer uitgenies. Hierna ontwikkel die larf in ’n papie wat die vermoë het om sy ontwikkeling te staak, totdat omgewingstoestande gunstig is om in ’n volwasse vlieg te ontwikkel.
  • Die volwasse vlieg leef vir slegs ’n paar weke en gedurende hierdie tydperk kan ’n wyfievlieg tot 500 larwes produseer.

Die proses van herkenning

Daar is tot op hede nog geen toets beskikbaar om neuswurm te identifiseer nie en volgens dr Van Tonder word tans staatgemaak op kliniese tekens, seisoene en die reaksie van diere op behandeling vir neuswurm.

“Skape is aangepas om vlieë gedurende die warm maande wanneer hul meer aktief is, te vermy,” sê hy. “Hulle sal byvoorbeeld met hul neuse in ander skape se wol staan, of hul koppe afsak na die grond toe. Hierdie tipe gedrag kom gewoonlik in ’n groter mate gedurende die warmste tyd van die dag voor wanneer die vlieë op hul aktiefste is.”

Klassieke simptome van skape wat met neuswurm besmet is, sluit diere in wat nies en proes en met hul voorpote op die grond stamp. ’n Neusafskeiding kan ook ’n aanduiding wees van neuswurmbesmetting, maar kan verwar word met toestande soos bloutong of pasteurellose. Hy voeg by dat die warmer seisoene kan help om Pasteurella uit te skakel, omdat laasgenoemde hoofsaaklik in die wintermaande voorkom. “Bloutong kan ook in die afwesigheid van ander kliniese simptome uitgeskakel word. Koors sal afwesig wees tydens neuswurmbesmetting.”

Lees meer oor siektebeheer in intensiewe skaapboerderye hier.

Doeltreffende behandeling

Dit is baie belangrik dat ramme voor paring vir neuswurm behandel word. Die parasiet sal ’n ram se vermoë om die ooie te ruik heel moontlik belemmer, wat ’n negatiewe uitwerking op reproduksie sal hê. Behandeling kan gedurende die hoogsomermaande toegedien word, wanneer die wyfievlieë die meeste larwes lê. Dit is ook belangrik om skape in die wintermaande te behandel om die larwes wat oorwinter dood te maak en sodoende die lading van vlieë gedurende die warmer maande te verminder.

Van die middels wat goed werk, is makrosikliese laktone soos ivermektien asook klosantel wat geregistreer is vir die behandeling van neuswurm in skape. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Philip van Tonder by 064 975 8450 of dr Paul Reynolds by 082 587 7607.

Must read

Landbou in Noordwes verloor ‘n staatmaker

Estimated reading time: 3 minutes Landbou in Noordwes het onlangs een van sy groot geeste, wat diep spore in die bedryf getrap het, aan die dood afgestaan. Leon Bellingan, bestuurder van Agri Vryburg en...

Veesiektes aangemeld gedurende lente 2023

Estimated reading time: 7 minutes Die volgende veeartspraktyke en laboratoriums (132) het gedurende die lentetydperk van September tot Oktober 2023 veesiektes aangemeld. Mpumalanga (13) Bethal – Dr Hardus Pieters Ermelo – Dr Ben Potgieter Grootvlei – Dr Neels...

Van aartappelsiektes tot suiwel – Plaas TV bespreek dit alles

Estimated reading time: 2 minutes Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se episodes: Sponsored by Stockfarm (Plaas Media), the 2023 ARC’s National...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 48

The weekly pork carcass price is brought to you by the South African Pork Producer's Organisation (SAPPO). Click here for this week's report. https://agriorbit.com/rooivleispryse-red-meat-prices-2/ Important notes Domestic pork carcass prices are weighted averaged abattoir purchase prices per category...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 4 minutes Johan van den Berg ken sy storie as dit by die weer kom. Hy het die afgelope week met Lise Roberts oor die nuutste weersake op RSG Landbou gesels....