Oorwegings by die aankoop van ’n veeplaas

Estimated reading time: 7 minutes

  • Plaaskoop is ’n belegging wat heelwat kapitaal verg en daar is nie plek vir swak besluite nie.
  • Veldtoestand is gekorreleer met die produksie en winsgewendheid van ’n veeboerdery.
  • Veld kan breedweg in soet- en suurveld ingedeel word. Soetveld behou sy smaaklikheid en gehalte redelik goed, en bied relatief goeie diereprestasie dwarsdeur die jaar. Suurveld, veral in die hoë-reënval areas, het ’n hoë droëmateriaalproduksie wat van jaar tot jaar redelik betroubaar is.
  • Reproduksiesukses is een van die belangrikste drywers van ’n veeboerdery se winsgewendheid en bestaan uit ses fases: paring, vroeë- en middragtigheid, laatdragtigheid, laktasie, speen, en herstel van die voortplantingsorgane, waarna die siklus herhaal.
  • Drie risikofaktore moet in ag geneem word, naamlik plaasveiligheid en -sekuriteit, grondeise en droogterisiko.

Plaaskoop is ’n belegging wat heelwat kapitaal verg en daar is nie plek vir swak besluite nie. Spyt kan te laat kom. Veldtoestand is gekorreleer met die produksie en winsgewendheid van ’n veeboerdery. Hoe beter die toestand, hoe beter die produksie en wins. Dit is waarskynlik die heel belangrikste eienskap om na te kyk.

Wees bewus van die volgende:

  • Hoe swakker die veld se toestand, hoe meer van die reënwater loop weg.
  • Die bogrond van veld wat in ’n swak toestand is, is gewoonlik verdig. Swak veld se grondtemperature is ook hoër as dié van goeie veld.
  • Goeie veld is minder gevoelig vir droogte as swak veld.
  • Die plante wat in goeie veld oorheers, skakel die grondwater meer doeltreffend in voerproduksie om as dié in swak veld.
  • Die wins per hektaar van goeie veld is aansienlik beter as dié van veld in ’n swak toestand.
  • ’n Plaas waarvan die veld in ’n goeie toestand is, kan van dag een af optimaal bewei word.

Is eiendom nog ‘n goeie belegging? Lees hier.

Soetveld versus suurveld

Veld kan breedweg in soet- en suurveld ingedeel word. Soetveld behou sy smaaklikheid en gehalte redelik goed, en bied relatief goeie diereprestasie dwarsdeur die jaar. Die beskikbaarheid van weiding kan egter wisselvallig wees tussen seisoene en jare. Die behoefte aan lekke is relatief laag. Johan Zietsman verwys hierna as ‘hoë-oktaan’ weiding.

Suurveld, veral in die hoë-reënval areas, het ’n hoë droëmateriaalproduksie wat van jaar tot jaar redelik betroubaar is, met relatiewe goeie gehalte in die somer (mits dit korrek bestuur word), maar lae gehalte in die winter. Diereprestasie is nie so goed soos op soetveld nie en aanvullende voeding is noodsaaklik in die winter. Suurveld is dus ‘lae-oktaan’ weiding.

Die verskil in relatiewe soetheid of suurheid van ’n plaas se weiding is veral belangrik wanneer eiendomme in dieselfde geografiese gebied oorweeg word. In dieselfde geografiese gebied sal soetplase normaalweg in laerliggende, warmer gebiede voorkom. Suurplase kom in hoër areas voor, het ’n bergagtige geaardheid en strawwer klimaat, veral in die winter. Soetplase word gewoonlik bo suurplase verkies as dit in dieselfde geografiese gebied voorkom.

Geskiktheid van die veldhulpbron

Beeste, skape en bokke vreet verskillende soorte plante. Bokke is goed aangepas by kort grasse, Karoobossies en struike tot so hoog as 1m. Skape verkies weer kort grasse en Karoobossies, terwyl hulle soms in lang gras sal wei, maar sal nie struike van hoër as 500mm benut nie.

Lang grasse is weer meer geskik vir beeste, alhoewel hulle ook kort gras verkies en nie nee sal sê vir ’n smaaklike, sappige Karoobos nie.

Waarde van topografie

Reproduksiesukses is een van die belangrikste drywers van ’n veeboerdery se winsgewendheid en bestaan uit ses fases: paring, vroeë- en middragtigheid, laatdragtigheid, laktasie, speen, en herstel van die voortplantingsorgane, waarna die siklus herhaal.

Gedurende minstens twee van dié ses fases (laatdragtigheid en laktasie) benodig kleinvee ’n redelike gelyk tot effens golwende topografie. Hulle is tydens laatdragtigheid minder beweeglik en jong lammers beweeg ook moeisaam oor moeilike terrein.

Die laatdragtigheids- en laktasietydperke duur sowat ses maande of 50% van die totale omkeertyd van een 12-maande voortplantingsiklus. Dit is dus voor die hand liggend dat minstens 50% van die oppervlakte van die eiendom geskik moet wees om laatdragtige en lakterende kleinvee aan te hou.

Leer oor die belangrikheid van goeie heinings.

Risikoprofiel

Drie risikofaktore moet in ag geneem word, naamlik plaasveiligheid en -sekuriteit, grondeise en droogterisiko. Die eerste twee is maklik bepaalbaar. Dis die droogterisiko wat kundige insette vereis.

Droogtes het ’n groot invloed op volhoubaarheid en winsgewendheid. Elke geografiese gebied het ook ’n intrinsieke risikoprofiel vir droogtes (Tabel 1).

Tabel 1: Intrinsieke droogte risiko van drie geografiese gebiede in die Karoo. (Bron: Slim droogtebestuur vir veeboere)

Geografiese gebiedLangtermyn gemiddelde reënval (mm)% risiko vir verskillende tipes droogteTotale droogte risiko (%)
Seisoenale voertekortePeriodieke droogteMedium-termyn rampdroogteLanger rampdroogte
Oostelike Karoo3505210,58,5
Suidelike Karoo225933118
Westelike Karoo15010118534

Noodsaaklike infrastruktuur

Infrastruktuur is duur en daarom moet ’n goeie opname van die bestaande infrastruktuur gemaak word. Die volgende is noodsaaklik:

  • Voldoende aantal kampe vir ’n behoorlike weidingstelsel om maksimum diereproduksie en optimale benutting van hulpbronne moontlik te maak.
  • Omheinings wat die diere tot hul weikampe beperk.
  • Goedgeplaaste waterpunte om loopafstand te beperk. Die waterverspreidingsnetwerk moet goed beplan en in ’n goeie toestand wees. Goeie gehalte water en standhoudende waterbronne wat by die Departement van Waterwese geregistreer is, is noodsaaklik.
  • Veehanteringsfasiliteite sodat minimale arbeid nodig is. Die fasiliteit moet strategies oor die plaas versprei wees om onnodige afstande te beperk.
  • Toegangspaaie wat goeie toesig oor die boerderye fasiliteer en wat genoegsaam onderhou is.

On(der)ontwikkelde hulpbronne kan ’n beduidende bydrae lewer tot die beleggingspotensiaal van ’n eiendom, solank die werklike ontwikkeling bydra tot produktiwiteit en winsgewendheid en nie te veel kapitaal vereis nie. ‘n Goeie voorbeeld is onbenutte besproeiingsgeleenthede.

Ekonomie van skaal

’n Gedeelte van ’n veeboerdery se bedryfskoste bestaan uit sogenaamde vaste koste. Dit is koste wat vas bly, al neem die skaal van die boerdery af of toe. Soos die skaal toeneem, word die eenheidskoste van vaste koste dus goedkoper en word gepraat van die ekonomie van skaal of skaalvoordele.

Skaalvoordele is selde neutraal en is óf positief óf negatief. Positiewe skaalvoordele skop in rondom 270 grootvee-eenhede (GVE) vir veeplase. Plase kleiner as 270 GVE sal dus heeltyd die negatiewe kant van skaal ervaar.

Herverkooppotensiaal

Weens die positiewe persepsie oor plase in sekere geografiese gebiede, sal plase in daardie areas ’n inherente beter verkoopspotensiaal hê. Dikwels is goeie eiendomme in minder gewilde areas teen beter pryse beskikbaar. Maar, op grond van die herverkooppotensiaal van ’n eiendom in ’n meer gewilde area, sal dit voorkeur by kopers geniet.

Hou altyd in gedagte dat laasgenoemde nie dieselfde beleggingsopbrengs sal lewer terwyl dit deel van die beleggingsportefeulje is nie. Eers wanneer dit verkoop word, sal dit koper daarby baat vind. Die beste opsie is ’n goeie eiendom met ’n goeie opbrengs in ’n gewilde area.

Diverse faktore

Die voorkoms van dodelike siektes soos hartwater en rooiwater asook gifplante waarteen geen voorkoming of behandeling beskikbaar is nie, is ’n paar van die diverse faktore om in ag te neem.

Die vergelyking tussen prys en waarde

Voornemende kopers kan dikwels kop krap om plase prysgewys met mekaar te vergelyk. ’n Veeplaas se intrinsieke waarde lê in die eiendom se vermoë om ’n bepaalde getal vee te dra en behoort dus op daardie basis vergelyk te word.

In Suid-Afrika word veegrond se dravermoë uitgedruk in die hoeveelheid hektaar benodig om vir een diere-eenheid vir ’n jaar lank kos te gee. Die standaard diere-eenheid wat gebruik word, is grootvee-eenheid (GVE).

’n Plaas met ’n dravermoë van 16ha/GVE, kan dus vir 1 GVE vir ’n jaar lank voer voorsien op elke 16ha van die plaas. Gestel die koper moet ’n keuse maak tussen ’n plaas met ’n dravermoë van 14ha/GVE, wat vir R3 500/ha in die mark is, en een van 16ha/GVE wat in die mark is vir R3 200/ha. ’n Mens vergelyk hulle op basis van wat die prys is om 1 GVE vir ’n jaar kos te gee. Die eerste plaas kos R49 000/GVE (14ha/GVE x R3 500/ha) en die tweede plaas R51 200/GVE (16ha/GVE x R3 200/ha).

As al die ander faktore van die twee plase gelyk is, sal die eerste plaas dus die beter koop wees. Maak egter seker dat die dravermoë wat vir die plaas aangegee word, betroubaar is. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak die outeur by ldupisani@gmail.com.