BEK-hofuitspraak: ’n Mengbak van goeie nuus en baie vrae

Estimated reading time: 6 minutes

Landboukringe is aan die gons ná die uitspraak van die Pretoria Hooggeregshof op 25 Mei, waarin die regsposisie rondom inenting teen bek-en-klouseer (BEK) uiteengesit is. Volgens die uitspraak deur regter CJ van der Westhuizen, bestaan daar geen wetlike verbod ingevolge die Wet op Dieresiektes, wat veeprodusente verhoed om self entstof aan te koop en toe te dien nie.

Die saak, wat vroeër vanjaar deur Sakeliga, die Suider-Afrikaanse Agri-Inisiatief (SAAI) en Vrystaat Landbou aanhanging gemaak is, het grootliks gefokus op die omvang van staatsbeheer oor die BEK-inentingsproses. Volgens die hof kon die staat nie ’n geldige regsgrondslag aandui om privaatdeelname te beperk nie.

Wat die uitspraak verander

“Die belangrikste bevinding van die Hof is dat boere op plaasvlak self kan inent en daar is niks in die wet is wat boere verhoed om self op plaasvlak te kan inent nie,” sê dr Danie Odendaal, direkteur van Veearts Netwerk. Die uitspraak is ook voordelig ten opsigte van die vinnige uitrol van entstowwe wat wel via die staat beskikbaar is, verduidelik hy.

Die uitspraak as sulks verteenwoordig ook nie nuwe of gewysigde wetgewing nie, maar verduidelik eerder hoe bestaande wetgewing anders toegepas moet word. Boere kan ingevolge die hofuitspraak entstof wettig verkry en hul diere self inent, mits dit binne die huidige regulasies geskied.

Dit beteken onder meer dat entstof deur wettige kanale verkry moet word, dat die staat vooraf ingelig moet word, en dat volledige rekords gehou en ingedien moet word. Die bestaande beheermaatreëls oor dierebeweging en die rapportering van siektes bly onveranderd. Die hof het ook bepaal dat daar nie met wettige kommersiële verhoudings rondom entstofinvoer ingemeng mag word nie.

Hierdie ontwikkeling skep ruimte vir breër deelname, maar binne ’n raamwerk wat steeds sterk gereguleer bly.

Verskillende perspektiewe

Die minister van landbou, John Steenhuisen, het in sy reaksie op die hofuitspraak aangedui dat die bestaande Artikel 10-inentingskema wat onlangs afgekondig is en waarvan die handleiding steeds afgewag word, steeds die basis van die nasionale reaksie op BEK vorm.

Volgens Steenhuisen bly die doel om ’n groot deel van die nasionale kudde te ent, en dat miljoene dosisse entstof reeds ingevoer is as deel van hierdie strategie. Die benadering aldus die staat, bly dus een van gekoördineerde implementering, met die staat as sentrale rolspeler.

Vanuit die bedryf word die uitspraak beskou as ’n belangrike uitbreiding van kapasiteit. Dr Theo de Jager, voorsitter van SAAI, sê die uitspraak bevestig dat boere self kan optree, mits hulle aan die vereistes rondom kennisgewing, rekordhouding en naspeurbaarheid voldoen. Hierdie vereistes bly noodsaaklik om die verspreiding van die siekte te monitor en data betroubaar te hou. Die fokus verskuif dus na hoe hierdie prosesse konsekwent op grondvlak toegepas word.

Praktiese realiteite

Hoewel die regsposisie poog om duidelikheid te bied, bly die praktiese implementering daarvan kompleks. Dr Odendaal sê dit is eerstens belangrik om te verstaan dat die uitspraak nie die logistieke uitdaging van entstofbeskikbaarheid oplos nie. Hierdie werklikheid, tesame met ander regsrealiteite, word ook deur rolspelers in die biotegnologie- en verspreidingsruimte beklemtoon. Dr David Gerber, uitvoerende hoof van Dunevax Biotech, die invoerder van die Turkse Dollvet-entstof, wys daarop dat die hofuitspraak nié die onderliggende regulatoriese vereistes ophef nie.

Hy verduidelik dat entstof steeds onder bestaande wetgewing ingevoer en versprei moet word, insluitend die vereistes van artikel 21 van die Wet op Beheer van Medisyne en Verwante Stowwe, 1965 (Wet 101 van 1965, soos gewysig). Entstof word boonop ingevolge dieselfde wet as ‘n skedule 4-produk geklassifiseer, wat beteken entstof kan nie vrylik verkoop word nie en dat veeartsenykundige voorskrifte en regulatoriese goedkeuring steeds vereis word. Dit wil voorkom asof Wet 101 nie in die uitspraak in ag geneem is nie.

Selfs waar die hofuitspraak nou ruimte geskep het vir breër deelname, is dit steeds onderhewig aan amptelike goedkeurings en prosesse. Hy voeg by dat die huidige stelsel steeds grootliks gesentreer is rondom die verspreiding van entstof deur die Direktoraat van Dieregesondheid.

Dr Odendaal sê die feit is dat privaat-ingevoerde entstof teen BEK nog nie bestaan nie. Gegewe die vraag oor waar die entstof dan vandaan gaan kom, is daar net twee rigtings wat ingeslaan kan word: Eerstens, om met die staat saam te werk, met inagneming van die hofuitspraak, en bestaande entstof gestruktureer en vinniger uit te rol sodat ‘n groter deel van die nasionale kudde ingeënt kan word, met boere wat op plaasvlak self onder leiding van ’n veearts kan inent en rekords indien.

Die ander rigting is dat entstof op ’n privaatbasis ingevoer word met kapitaal wat deur boere verskaf word en dat daardie entstof dan op grond van die voorwaardes wat in die hofbevel vervat is, versprei en toegedien word. Die staat sal dus steeds ingelig moet word en rekords sal steeds ingedien moet word. “Die tweede opsie is ’n lang pad wat geloop moet word en iemand sal daarvoor moet betaal. Die eerste opsie is die bekostigbare antwoord en vereis nouer samewerking en beter koördinering. Hierdie is vir nou die logiese opsie sodat die grootste hoeveelheid diere in die kortste tyd ingeënt kan word.”

Kommentaar uit georganiseerde veeartskringe

Die Suid-Afrikaanse Veterinêre Vereniging (SAVA), die Herkouer Veterinêre Vereniging (RuVASA) en die SAVA Wildlife Group, het intussen in ’n gesamentlike verklaring aangedui dat hulle die implikasies van die uitspraak tans ondersoek en mettertyd verdere leiding sal verskaf. Hulle wys ook op die feit dat dit ’n langsame proses is om entstofproduksie en voorsieningskettings te wysig, selfs al word toegang vergemaklik.

Hulle wys ook daarop dat, hoewel miljoene dosisse entstof die land die afgelope maand of twee binnegekom het, heelwat van hierdie entstof reeds toegewys op grond van bestaande bestellings. Terselfdertyd word regulatoriese leiding afgewag, veral rondom die hantering van ongeregistreerde artikel 21-produkte. SAHPRA, die plaaslike reguleerder van gesondheidsprodukte, sal moet aandui hoe die direkte verkoop en verspreiding van sulke produkte gereguleer sal word. Kortom – niks gaan vinnig gebeur nie en alles bly onderhewig aan goedkeuring.

Wat nou?

Volgens al die partye met wie Agriorbit gesels het, behoort die fokus vir nou op praktiese uitvoering te wees. Die kernvraag bly egter hoe vinnig die stelsel kan aanpas om die nuwe ruimte wat geskep is, doeltreffend en reg te benut. Die wedloop teen tyd is en bly die grootste probleem, en dit word vererger deur die feit dat heelwat water in die regulatoriese see moet loop voordat enige daadwerklike optrede moontlik sal wees.

Die produsenteliggaam, FMD Response SA, sê in sy verklaring hy verwelkom die uitspraak, maar dat hy bekommerd bly oor die stadige pas van inenting. Die organisasie bevestig ook dat die uitspraak nie aan boere die outomatiese reg verleen om self entstowwe in te voer of toe te dien nie. Dit bevestig bloot die meetbare en gereguleerde omstandighede waaronder inenting deur produsente mag geskied.

Francois Wilken van Vrystaat Landbou het hierdie sentiment in ’n stemboodskap bevestig, en produsente daarop gewys dat die uitspraak nié beteken dat almal entstof kan verkry en begin inent nie. ’n Groter plan is nodig en die bestaande regulasies geld steeds. Vrystaat Landbou het reeds ’n afspraak met die provinsiale regering gemaak om die saak te bespreek en die wiele aan die rol te kry. Gesprekke sal ook met entstofverskaffers gevoer word. Produsente word versoek om geduldig te wees, aangesien hierdie prosesse nie oornag sal geskied nie.

Uiteindelik wil dit voorkom asof die sleutelvraag nie soseer is of boere self kan inent nie, maar eerder hoe wettige vervaardigers, invoerders en agente entstowwe die land sal kan inbring sonder enige verdere vertragings, met die nodige toestemming, en hoe boere entstof sal kan aanskaf wat tans, ingevolge Wet 101, nie mag gebeur nie. – Nikilene Steenkamp, Plaas Media

Must read

RSG Landbou: 31 Augustus 2026

In vandag se aflewering van RSG Landbou vind ons meer uit oor die wêreldwolbedryf, die 2026 LRF Veeskool, AG Bonsmara se produksieveiling en ons...

LandbouRadio: 31 Augustus 2026

In Maandag, 31 Augustus se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende:Ons spring weg met dr WA Lombard en hy vertel wat lesers van...

Four agricultural labour law myths

Estimated reading time: 4 minutesWhen employers rely on incorrect assumptions rather than the law itself, they unintentionally expose their businesses to unnecessary legal and...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 34 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you by the South African Pork Producer's Organisation (SAPPO).Click here for this week's report.How are these...

SA Canegrowers welcomes DBRP adjustment, but says more is needed to close import gap 

Estimated reading time: 3 minutesSA Canegrowers welcomes the decision by the government to adjust the dollar-based reference price (DBRP) for sugar imports. The upward adjustment is critical...