HomeMagazinesAftrekkings van werknemers se vergoeding

Aftrekkings van werknemers se vergoeding

Estimated reading time: 4 minutes

Goeie bedoelings eindig dikwels in duur dispute wanneer aftrekkings verkeerdelik van werknemers se vergoeding gemaak word. Dit is een van die algemeenste oortredings wat inspekteurs van die Departement van Indiensneming en Arbeid tydens plaasbesoeke identifiseer, en dit kan vir werkgewers groot koste in terme van geld, tyd en verhoudings meebring.

Sektorale Vasstelling 13, soos gepubliseer in die Staatskoerant onder die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, 1997 (Wet 75 van 1997) stel duidelike reëls oor aftrekkings.

Wat sê die wet?

Aftrekkings wat op grond van statutêre bepalings gemaak word, soos inkomstebelasting (PAYE) en bydraes tot die Werkloosheidsversekeringsfonds (UIF), móét deur die werkgewer gedoen word. Hierdie aftrekkings is nie onderhandelbaar nie. Dieselfde geld vir aftrekkings op grond van ’n hofbevel of arbitrasietoekenning teen die werkgewer.

Die werkgewer mag onder sekere voorwaardes tot 10% van ’n werknemer se gewone loon aftrek vir voedsel en tot 10% vir behuising. Hierdie voorwaardes behels:

  • Die voedsel of verblyf moet konsekwent en gereeld as ’n voorwaarde van indiensneming verskaf word.
  • Geen bykomende aftrekkings vir voedsel of behuising mag van die werknemer se vergoeding gemaak word nie.
  • Die aftrekking mag nie die werklike koste van die werkgewer om voedsel of behuising te verskaf, oorskry nie.
  • In die geval van behuising mag geen ekstra aftrekking vir elektrisiteit, water of ander dienste gemaak word nie.
  • Voor ‘n aftrekking ten opsigte van behuising kan plaasvind, moet die woning aan streng standaarde voldoen: Die dak moet duursaam en waterdig wees, en daar moet glasvensters wees wat kan oopmaak. Elektrisiteit moet binne die huis beskikbaar wees indien die infrastruktuur op die plaas bestaan, en veilige water moet in of naby die huis (binne 100m) beskikbaar wees. Die woning moet minstens 30m² groot wees en behoorlike toiletgeriewe hê, soos ’n spoeltoilet of ’n putlatrine binne of naby die huis.
  • By gemeenskaplike behuising (meer as twee werknemers wat saam woon) is die maksimum toelaatbare aftrekking 25% van die minimumloon van ’n werknemer en moet die werkgewer die aftrekkings gelykop verdeel.
  • Geen aftrekkings vir kinders onder 18 jaar mag vir behuising gemaak word nie.

’n Werkgewer mag ’n aftrekking doen vir die terugbetaling van enige bedrag wat aan ’n werknemer geleen of voorgeskiet is, mits dit nie meer as een tiende van die werknemer se loon wat op die betrokke betaaldag verskuldig is, oorskry nie.

Aftrekkings vir betalings aan derdepartye mag slegs op die skriftelike versoek van die werknemer geskied, byvoorbeeld vir mediese fonds, pensioenfonds of vakbondsubskripsies.

Skade of verlies aan eiendom mag slegs verhaal word indien die skade in die bestek van die werknemer se diens plaasgevind het en die werknemer skuldig bevind is. In so ’n geval moet die werkgewer ’n billike proses volg en die werknemer die geleentheid bied om te motiveer waarom die aftrekking nie gemaak moet word nie. Die werknemer moet skriftelik instem en die totale maandelikse aftrekking mag nie meer as 25% van die maand se vergoeding beloop nie.

Aftrekkings van ’n werknemer se loon vir gereedskap, werksklere, opleiding, weiding vir die werknemer se vee, of boetes vir wangedrag of oortreding van die dissiplinêre kode, is streng verbode. Dit geld ook vir enige aftrekkings wat sonder die nodige skriftelike ooreenkoms of wetlike grondslag gemaak word, sowel as aftrekkings wat buite die perke van die wetgewing val.

Klik hier om meer te lees oor publieke vakansiedae en vergoeding.

Praktiese raad aan werkgewers

Maak seker dat elke aftrekking duidelik op die betaalstrokie aangedui word, tesame met die naam, bedrag en rede daarvoor. Hou akkurate rekords van alle aftrekkings in die personeellêer, en kry altyd skriftelike toestemming waar dit vereis word, aangesien ’n mondelinge ‘ja’ nie altyd in die hof aanvaarbaar is nie.

Wetgewing op hierdie gebied is streng, en werkgewers word aangeraai om spesialisadvies in te win om te verseker dat hulle aan die relevante wetgewing voldoen wanneer aftrekkings gemaak word. – Tiaan Botes, regsadviseur, LWO Werkgewersorganisasie

Must Read

Savanna-bokke se pryse skiet deur die dak

Estimated reading time: 3 minutes Verlede jaar het almal regop gesit toe die Suid-Afrikaanse rekordprys vir ’n Savanna-ooi op R240 000 toegeslaan is. Hierdie hoë...