HomeMagazinesSkaap se kind laat die goudtand blink

Skaap se kind laat die goudtand blink

Estimated reading time: 7 minutes

Hoewel die Merino ’n wolskaap by uitstek is, is dit vandag ook ’n voortreflike dubbeldoelskaap wat ’n groot deel van ons land se skaapvleis produseer.

Die alombekende skaap is deel van ons alledaagse lewe, maar min mense weet waar dit vandaan kom en hoe sy ontstaan lyk. Mense in Sentraal-Asië het reeds 10 000 jaar gelede die waarde van ‘n mak skaap, soos ons dit vandag ken, besef.

Lees meer oor wol se boom-tydperk hier.

Die mens het vinnig agtergekom dat die skaap se huid vir kleding gebruik kan word, terwyl sy vleis vullend en smaaklik is. Die wollerige, viervoetige herkouer het mettertyd deel van die menslike omgewing geword en sy plek in kampe en krale gevind. Sy oorsprong lê waarskynlik by die wilde moeflon, of bergskaap, van Suid-Sentraal- en Suidwes-Asië.

Die wilde moeflon of bergskaap, voorganger van die moderne gedomestifiseerde wolkskaap. (Foto: Freepik.com)

Skaapgeskiedenis

Van die eerste skaapprodusente was glad nie bekend met woltruie en ander luukshede nie, aangesien die skaapvel – wol en al – as kleding gebruik is. Die mens het eers teen ongeveer 3 500 v.C. geleer om wol te spin. Stukke gebreide materiaal wat dateer uit sowat 500 v.C. is selfs in Egiptiese grafkelders gevind.

Tussen die vyfde en 15de eeu n.C. het skaapprodusente ontdek dat skape die mees produktiewe dier is om mee te boer. Benewens die gebruik van hul vleis, wol en velle (laasgenoemde vir perkament) is skape ook gemelk – skaapmelk was baie gesog en gesond. Ou beskawings het selfs van die vroegste tye af skaapmelk gebruik om botter en kaas te maak. Só het die ooie van die groot Oos-Fries bekendheid verwerf, aangesien hulle baie melk lewer wat gebruik word om ’n besonderse kaas te maak.

Afrika het ook eeue vantevore kennis gemaak met die skaap. Trouens, toe Jan van Riebeeck in 1652 in die Kaap aan wal stap, het die inheemse volke reeds skape van die vetsterttipe gehad waarmee hulle geboer het. Die tipe skape wat hier aangetref is, is later deur teling verbeter en het tot die ontstaan van onder meer die bekende Ronderib-, Namakwa- en Steekhaar Afrikaners gelei.

Die Suid-Afrikaanse skaap- en wolbedryf het eers sy ontstaan in 1789 gehad, toe vier egte Spaanse Merino-ooie en twee ramme deur die Nederlandse regering aan kolonel RJ Gordon geskenk is. Van die eerste produsente wat uitsluitlik met wolskape geboer het, was die Van Reenen-broers naby Darling in die Boland, en JF Reitz en Michiel van Breda naby Bredasdorp.

‘n Skets van die destydse Spaanse Merino, ‘n ras waarvan ‘n klein hoeveelheid ooie en ramme in 1789 in Suid-Afrika aangeland het, waarna die plaaslike wolskaapbedryf gebore is. (Foto: Florida Center for Instructional Technology)

Wêreldgehalte wol wys oë

Hoewel die Merino ’n wolskaap by uitstek is, is dit vandag ook ’n voortreflike dubbeldoelskaap wat ’n groot deel van ons land se skaapvleis produseer. Die meeste skape wat vandag in Suid-Afrika geslag word is Merino’s of Merino-kruisings.

As wolproduserende land staan Suid-Afrika sowat tiende op die wêreldranglys. Hoewel ons, wat volume betref, nie in dieselfde liga as mega-produseerders soos Australië en selfs China val nie, staan ons wolskeersel tog vandag bekend vir sy uitstekende gehalte en die hoë standaarde wat gehandhaaf word. Sodoende geniet Suid-Afrikaanse wol sy regmatige plek onder die wêreld se hoë-gehalte wol.

Wanneer ons oor die wolbedryf en sy skape praat, kan ons nie anders as om te begin by die sogenaamde wol-boom-tyd nie. Hierdie merkwaardige tydperk in ons wolbedryf het in die 1950’s plaasgevind, toe pryse oornag ongekende hoogtes bereik het.

Die Tweede Wêreldoorlog was reeds verby, maar die vrede was van korte duur toe die onweerswolke rondom Korea begin saampak. Aan die een kant het die Weste en veral Amerika (die VSA) gestaan, en aan die ander kant Noord-Korea, Rusland en China – en so het die bekende Koreaanse Oorlog op 25 Junie 1950 uitgebreek. In die hartjie van die winter was warm uniforms onontbeerlik en wol was nodig om dit te vervaardig. Die hele Suid-Afrikaanse wolskeersel is deur die Weste opgekoop, wat die wolprys oornag laat styg het.

Wolkoors in die Karoo

Terwyl Australiese skape deur bloutong, domsiekte en longontsteking geteister is en baie vrektes veroorsaak het, het die vraag na Suid-Afrikaanse wol meteens dramaties toegeneem. Die pryse was só goed dat ’n produsent van Richmond in die Karoo een slag ’n woltjek van 200 000 Britse pond ontvang het. Volgens die uwe se outydse sakrekenaar kan dit vandag, teen die heersende wisselkoers, tussen R4 en R5 miljoen rand werd wees!

‘n Boer in die omgewing van Strydenburg in die Karoo het vir hom ’n plaashuis opgerig, ’n onderneming wat hom 12 000 pond uit die sak gejaag het. In ’n poging om, hopelik vir altyd, in sy vrou se goeie boeke te bly, het hy ’n tuinontwerper uit Italië laat kom om hul tuin hier uit te lê.

Jack Nicolson het vir hom ’n splinternuwe Dodge-motor uit die VSA vir 200 pond aangeskaf. Dié aankoop is befonds uit die opbrengs van afvalwol wat die plaaskinders van die plaas se kampdrade en bosse afgehaal het.

Strandhuise is gekoop en brullende Amerikaanse monsters met V8-enjins en skitterende chroomversierings en vlerke het kruis en dwars oor die grondpaaie van die Karoo gejaag. Die skreiende teenstelling met die depressiejare se wolpryse, toe wol teen ’n sikspens en later teen ’n trippens per pond (gewigsmaat) verhandel is, was enorm.

Suid-Afrika se woluitvoere was teen 1953 sowat 90 miljoen pond werd, maar met die aanbreek van die sestigerjare was die wolkoors verby en het die rooiligte vir die wolbedryf begin flikker.

’n Skaap met goue tande

Stories oor die ou Vaalskaap se uniekheid is legio. In Tarkastad se kontrei boer ’n sekere mnr Pio, en op sy plaas staan twee prominente berge, Martha en Maria. Op ’n dag klim mnr Pio die steil kranse van een van die berge en ontdek daar ses gediertes, wat hy in sy aanvanklike skok as Merino-ooie herken.

Hoe die diere daar beland en byna vier jaar oorleef het, bly ’n raaisel. Hoewel hy geen foto’s geneem het nie, het hy sorgvuldig in sy sakboekie geskryf dat die wollengte tussen tien en 12 duim (25 tot 30cm) lank was en dat hy 12,4kg wol van elke ooi afgeskeer het.

Uit Vosburg se kontrei kom ’n ander storie. Die plaaslike dominee kuier by een van die produsente in die area en vir middagete word heerlike gebakte skaapkop met stampmielies voorgesit. Terwyl die ou dominee nog die skaapkop sit en bekyk, merk hy iets eienaardig – die skaap het goue tande! Die storie versprei gou en kry sommer ’n stertjie: Die skaap se tande was bedek met spoelgoud uit die waterstrome waaruit hy gedrink het.

Kort voor lank stroom aspirant-goudsoekers van oral na die kontrei, grondpryse skiet die hoogte in en die goudkoors vat Vosburg vas. Nugterheid seëvier egter, en die kosbare kakebeen met die goue tande word na Onderstepoort gestuur om die saak self te ondersoek. Teleurstelling het gou gevolg: ’n Merino met goue tande is glad nie ongewoon nie; dit is bloot tandsteen of verharde speeksel wat soms so op die tande vorm.

Skaapboerdery is ’n plesier

Die 21ste eeu het skaapboerdery ingrypend verander. Wildboerdery en ander bedrywe is saam met skaapboerdery nou algemeen, diversifisering het plaasgevind en die gesig van die boerdery-omgewing het verander. As jy egter in jou bakkie klim en na die agterkampe ry, staan die koning en koninginne van die Karoo-plase met hul sagte oë steeds daar.

Teen skemeraand staan jy by die krip met die malende trop om jou en dink aan die opwindende skeertyd wat voorlê: Die boontjie-lootjies en die gesellige geklik van die skêre, die blink aan jou bene van rits in die wolhokke. Dan besef jy dat iemand wat hierdie biesmelk gedrink het met oortuiging kan verklaar: “Ek kon nie vir beter gevra het nie!” –Pierré Vlok, BKB

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na pierre.vlok@bkb.co.za

Must Read

Sosiale media en die reg: Wees baie versigtig

Estimated reading time: 4 minutesOmdat die akkuraatheid of waarheid van inligting selde gekontroleer of getoets word, hou die onoordeelkundige maak of deel van sosiale...