Estimated reading time: 2 minutes
Prof Andries Raath, streekbestuurder van TLU SA Vrystaat, is onlangs as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Vrystaat Veediefstalforum aangewys.
Dié forum se doel is om strategiese samewerking tussen die SAPD, georganiseerde landbou, en ander rolspelers te bevorder in die stryd teen veediefstal.
“Ons visie is duidelik: Meer effektiwiteit, beter uitkomste, en ’n geïntegreerde strategie wat werk. Maar dit vra kollektiewe betrokkenheid – niemand kan alleen hierdie uitdaging oorwin nie,” sê prof Raath, wat die aanstelling as “’n roeping” beskryf.
“Ons is nie by TLU SA betrokke om ons tyd te verwyl nie, maar om ons lede op hulle plase te hou – veilig, winsgewend, en volhoubaar – terwyl ons ook die breër gemeenskap dien,” sê hy.
TLU SA het prof Raath in ’n persverklaring geluk gewens en gesê dat dié organisasie sy leierskap in hierdie rol ten volle sal ondersteun.
Veediefstal in die Vrystaat
Veediefstal het ’n verwoestende impak op die volhoubaarheid van kommersiële boerdery, veral in provinsies soos die Vrystaat waar die rooivleisbedryf ’n hoofrol in voedselvoorsiening en werkskepping speel. Maandelikse verliese weens veediefstal in die provinsie wissel soms tussen R5 miljoen en R10 miljoen. “Ons kan eenvoudig nie bekostig dat hierdie misdaadpatroon voortduur nie,” sê prof Raath.
Een van die grootste struikelblokke in die bekamping van veediefstal is die onderrapportering van voorvalle. “Wanneer boere misdaad nie konsekwent aanmeld nie, lyk die amptelike statistiek beter as wat dit is, en dit beïnvloed die toekenning van hulpbronne. Ons pleit dus dringend by produsente om alles aan te meld sodat die volle impak van veediefstal op die sektor sigbaar is.”
Prof Raath sê die stryd teen veediefstal is nie net ’n landbou- of veiligheidsaangeleentheid nie, dit gaan ook oor geregtigheid, verantwoordelikheid, en diens aan die gemeenskap. “Ek is dankbaar vir die geleentheid om op hierdie manier diensbaar te wees.”
TLU SA spreek sy volle vertroue in prof Raath se leiding uit en sien uit na die strategiese waarde wat hy in hierdie belangrike rol tot georganiseerde landbou en die veiligheid van boere sal toevoeg. – Persverklaring verwerk deur Plaas Media