Noordwes nie meer bek-en-klouseer vry nie

Estimated reading time: 3 minutes

Die Rooivleisprodusente-organisasie in Noordwes (RPO Noordwes) waarsku produsente om dringend veiligheids- en biosekuriteitsmaatreëls op plase op te skerp. Dit volg na wydverspreide gerugte van twee nuwe bek-en-klouseer (BEK)-uitbrekings in die provinsie.

Nico Kilian, voorsitter van die RPO Noordwes, sê dat hoewel paniek vermy moet word, alle rolspelers in die bedryf nou baie waaksaam moet wees en biosekuriteitmaatreëls ernstig moet opneem.

Dit volg nadat ’n positiewe geval van BEK na bewering in Ventersdorp en ook hierdie week by ’n abattoir in Brits uitgebreek het. Die betrokke area is glo reeds Donderdag onder kwarantyn geplaas. Blykbaar is dr Langa Madyibi, direkteur van veeartsenydienste by die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in Noordwes, en sy span, nou betrokke. Dr Madyibi was egter nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Die uitbrekings is egter nog nie deur die regering of Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) bevestig nie. Verdere inligting sal beskikbaar gestel word sodra dit bevestig is.

Intussen sê Kilian dat produsente streng beheer oor toegang tot hul persele moet toepas. Beeste en kalwers wat van buite aangekoop word, moet vir minstens 28 dae in afsondering gehou word, apart van bestaande kuddes op plase en in voerkrale. Veilingshuise word ook aangeraai om kennis te neem van die voorval in Ventersdorp, waar verdere toetse tans plaasvind.

Status verlore

Hierdie jongste beweerde uitbrekings volg nadat Noordwes sedert Maart 2024 as ’n BEK-vrye gebied verklaar was. Dit was te danke aan die konstruktiewe en leidinggewende betrokkenheid van die RPO Noordwes, tesame met die provinsiale dieregesondheidsforum – bestuur vanuit die RPO Noordwes-hoofkantoor in Lichtenburg – en in samewerking met die Nasionale RPO en die voormalige Nasionale Dieregesondheidsforum (NAHF). Die NAHF het in April vanjaar ontbind.

Voordat die provinsie as BEK-vry verklaar is, is gevalle tussen 2022 en Februarie 2024 op 18 verskillende persele aangemeld. Hierdie gevalle is stelselmatig uitgefaseer volgens riglyne van die WOAH. Twee plase en een voerkraal se vee is deur middel van gekontroleerde slagting verwyder, en die uitbrekings is op 11 April 2023 by die WOAH as afgehandel aangemeld.

Die oorblywende 16 plase, bestaande uit kommersiële en stoetteelkuddes is eers 12 maande ná die laaste kliniese simptome weer getoets om die afwesigheid van sirkulerende virusse te bevestig. Hierdie plase is tussen 10 Oktober 2022 en 27 Februarie 2024 amptelik deur die WOAH afgesluit.

Kilian het tydens die RPO Noordwes se jaarkongres verlede maand in Lichtenburg gewaarsku teen die verslapping van veiligheidsmaatreëls op plase, veral ná nuwe BEK-uitbrekings vroeër vanjaar in Gauteng en Limpopo. Hy beklemtoon dat streng biosekuriteit, effektiewe toegangsbeheer, en goeie kommunikasie tussen bure steeds van kardinale belang bly. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

Must read

RSG Landbou: 6 April 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor die 2026 LRF Veeskool, AFSTA se kongres en ons skop af met ons nuwe...

LandbouRadio: 6 April 2026

In Maandag, 6 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met onkruidkenner, prof Charlie Reinhardt, en hy gesels oor die...

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met die titel van Landbounavorsingsraad (LNR) Nasionale Vleisbeesverbeteringskudde van die Jaar...

LandbouRadio: 3 April 2026

In Vrydag, 3 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met 'n plaasvars landbounuusbulletin. ⁠Tydens die Afrika Saadverhandelingsvereniging se kongres in...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on the other hand, is the misfortune, accident, or disaster that...