Saturday, December 14, 2024

Vleisskaaprasse: Kies fyn en kies reg

Estimated reading time: 5 minutes

  • As jy die skaapvleisbedryf betree, moet jy uiteraard kies met watter ras jy jou boerdery gaan aanpak.
  • Daar is verskillende opinies oor verskillende rasse, maar as jy nie boer met die ras waarvoor jy lief is nie, gaan dit nooit die beste keuse vir jou word nie.
  • Die omgewing, grond en reënvalpatrone is alles belangrike faktore. Maak ‘n studie van die siektes wat in die omgewing voorkom en hoe dit jou boerdery gaan affekteer.
  • Die meeste skaaprasse is baie aanpasbaar, maar daar is faktore wat help dat die skaap maklik in jou omgewing sal aanpas.
  • Volhoubare en winsgewende boerdery stop nie by die plaashek nie. Uiteindelik is dit die verbruiker wat die produk moet koop en daarom moet produsente hulle aan verbruikerstendense en behoeftes steur.

As jy die skaapvleisbedryf betree moet jy uiteraard kies met watter ras jy jou boerdery gaan aanpak. Veeplaas het met Su-Maré Groenewald van Veekos gesels oor die keuse van ‘n vleisskaapras en watter faktore hierdie keuse beïnvloed.

“Daar is verskillende opinies oor verskillende rasse, maar as jy nie boer met die ras waarvoor jy lief is nie, gaan dit nooit die beste keuse vir jou word nie. In verskillende landelike gebiede en klimaatstoestande gaan die keuse van produsent tot produsent verskil. Jy moet kies watter ras die beste by jou omgewing gaan aanpas en tot sy volle potensiaal sal presteer. Uiteindelik lê boerderysukses in die produsent se hande.”

Leer hoe om metritis onder jou skaapkudde te bekamp hier.

Doen ‘n bietjie navorsing

Die omgewing, grond en reënvalpatrone is alles belangrike faktore. Bepaal ook of daar weiding is, of moet aanplantings gedoen en onderhou word? Hoe lyk die voedingswaarde van die weiding en is byvoeding nodig? Maak ‘n studie van die siektes wat in die omgewing voorkom en hoe dit jou boerdery gaan affekteer. “As jy onseker is, gebruik eers die rasse waarmee ander produsente in jou omgewing boer.”

Tweedens moet die nuwe produsent kies of hy/sy eksklusief met vleis wil boer of ’n dubbeldoelras wil aanskaf. Die omgewing het ’n groot invloed op hierdie besluit.

’n Dubbeldoelras sal vleis en wol oplewer. Produsente wat met dubbeldoelrasse boer is van mening dat die woltjek vir baie uitgawes betaal. Ekstra wol beteken egter ekstra werk, ekstra arbeiders, salarisse en dies meer.

Vleisrasse het ook die voordeel dat die vel verkoop kan word. Hoewel die mark vir velle nie so sterk is nie, is dit steeds ’n ekstra inkomste.

Lees meer oor hoe om siektes te voorkom in ‘n intensiewe skaapstelsel.

Wie pas waar in?

Daar is baie vleisrasse waaruit ’n produsent ’n goeie bestaan kan maak. Daar is onder meer die Meatmaster, Dormer, Dorper, Damara, Ile de France, Persie, Van Rooy en Suffolk. Die duddeldoelrasse is die Dohne-Merino, Merino, SAVM en Merino Landskaap.

Die meeste skaaprasse is baie aanpasbaar, maar daar is faktore wat help dat die skaap maklik in jou omgewing sal aanpas. “Die meer geharde rasse pas goed aan in streke wat minder reën kry en meer beboste veld het, terwyl die minder geharde rasse meer aanpasbaar is in gebiede met hoër reënval en baie grasveld of aangeplante weiding. Dan is daar rasse wat in beide omstandighede goed aanpas,” verduidelik Su-Maré.

“Elke ras se eienskappe verskil. Groter-raam skape het byvoorbeeld meer kos nodig as ‘n ligter-raam ras. Geharde rasse is minder vatbaar vir siektes en parasiete. Jy moet ook bepaal of jou plaas die drakrag van die betrokke ras kan hanteer, en of jy aangeplante weiding, bossieveld of graslande het. Kyk waarmee word in jou omgewing geboer en leer daaruit.”

Lees meer oor verbruikers se behoeftes rakende skaap- en lamvleis.

Wins in jou sak

Elke produsent se einddoel is om wins te maak. Daarom wil baie weet uit watter ras die beste wins gemaak kan word. Su-Maré glo egter dit gaan nie oor die ras nie, maar eerder oor seleksie binne die kudde. “Koop die beste skaap wat jy kan bekostig en wat aan die rasstandaarde voldoen.”

Hier is die bal in die produsent se hande. Dit is onwinsgewend om ‘n vleisskaap te teel wat soveel vleis dra, dat die dier sukkel om te beweeg en nie goeie reproduksie-eienskappe het nie. Daar is ’n fyn lyn as dit kom by seleksie vir maksimum wins.

Daar is baie eienskappe waarvoor jy kan selekteer, soos goeie moedereienskappe, twee- en drielinge vir meer wins per ooi, of lammers met lae geboortegewig wat vinnig groei en ‘n goeie slaggewig het, of wol as jy ’n dubbeldoelras verkies.

“Elke omgewing het sy eie uitdagings en jou seleksieproses moet in pas wees met daardie uitdagings. In sekere dele van die land selekteer produsente tans vir enkelinge omdat die ooie swaarkry in die veld. In droër dele moet die ooie verder loop om kos te kry. Hulle kan nie meer as een lam grootmaak nie, omdat hulle te veel kondisie verloor,” vertel sy.

Nog ‘n eienskap is vroegrypheid. Hierdie rasse kan vroeër gedek word en meer lammers lewer. Dis egter makliker gesê as gedaan. ’n Vroegryp-ooi moet reeds ten minste 80% van haar volwasse liggaamsmassa bereik voordat sy gedek kan word, anders gaan sy nie die lam kan grootmaak nie.

Leer meer oor hoe om peestersiekte te behandel hier.

Luister na die verbruiker

Volhoubare en winsgewende boerdery stop nie by die plaashek nie. Uiteindelik is dit die verbruiker wat die produk moet koop en daarom moet produsente hulle aan verbruikerstendense en behoeftes steur. Hierdie behoeftes is egter nie op die ras van die skaap gemik nie. Die verbruiker wat ‘n skaaptjoppie koop vra nie van watter skaapras dit afkomstig is nie. Verbruikers stel eerder belang in ouderdom – is dit lams- of skaapvleis?

Vind uit hoe om jou slaglammers reg te kry vir die kompetisie.

Kortom: Alle skaaprasse het ‘n plek in die veld en mark, en die produsent moet self besluit wat gaan in sy/haar omstandighede werk. Sukses hang dikwels eerder af van bestuur as van die ras self. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir navrae, kontak Su-Maré Groenewald by 071 388 2249.

Popular stories