Metritis: Voorkom reproduksie- en ooiverliese

Estimated reading time: 4 minutes

  • Metritis, oftewel baarmoederontsteking, verwys na infeksie van al drie lae van ’n baarmoeder: die binneste slymvlieslaag (endometrium), die middel miometrium (spierlaag), en die perimetrium (serosa) as die buitenste laag.
  • Alhoewel metritis wel in veral melkbeeste, perde en varke beskryf is, kan dit ook ’n geweldige ekonomiese impak op ’n skaapboerdery hê in die vorm van direkte ooiverliese asook verlaagde reproduksie.
  • Kort na lam sal alle ooie ’n mate van baarmoederkontaminasie ervaar. Die meeste ooie elimineer dit binne die eerste paar weke met behulp van verdedigingsmeganismes soos baarmoederkontraksies, involusie en immuunstelselwerking.
  • Om metritis en ander reproduksieverliese te verminder, is dit raadsaam om in jou ooie se voedingsbehoeftes te voorsien.
  • Metritis is ’n multifaktoriale siektetoestand van die baarmoeder wat van ekonomiese belang ten opsigte van reproduksiepotensiaal en ooiverliese is.

Metritis, ’n term afkomstig van die Griekse metra en itis, beteken letterlik baarmoeder en inflammasie. Die term verwys meestal na infeksie van die baarmoederlumen (holte) en baarmoedervoldiktewand.

Metritis, oftewel baarmoederontsteking, verwys na infeksie van al drie lae van ’n baarmoeder: die binneste slymvlieslaag (endometrium), die middel miometrium (spierlaag), en die perimetrium (serosa) as die buitenste laag. Hierdie infeksies gaan gewoonlik gepaard met wanneer die serviks oop is en bakterieë toegang tot die baarmoeder self verkry. Dit kan egter ook deur sistemiese infeksies veroorsaak word.

Alhoewel metritis wel in veral melkbeeste, perde en varke beskryf is, kan dit ook ’n geweldige ekonomiese impak op ’n skaapboerdery hê in die vorm van direkte ooiverliese asook verlaagde reproduksie.

Lees meer oor metritis.

Oorsake en risikofaktore

Kort na lam sal alle ooie ’n mate van baarmoederkontaminasie ervaar. Die meeste ooie elimineer dit binne die eerste paar weke met behulp van verdedigingsmeganismes soos baarmoederkontraksies, involusie en immuunstelselwerking. ’n Mindere hoeveelheid ooie se baarmoeders sal egter nie reinig nie, wat tot metritis sal lei. In die meeste gevalle kom dit binne 14 dae na die ooi gelam het, voor.

Van die faktore wat tot metritis bydra, sluit in:

  • Agtergeblewe nageboortes (fetale membrane).
  • Distokie (moeilike geboortes).
  • Kontaminasie tydens hulp/verlossing van moeilike geboortes.
  • Swak higiëne in lamkampe of -hokke.
  • Doodgebore lammers.
  • Vaginale of servikale prolaps.
  • Domsiekte/ketose.
  • Vitamien- en mineraaltekorte.
  • Enige ander sistemiese siekte.

Aborsies kan tot metritis lei, met verskeie oorsake:

  • Swak voeding gedurende die eerste 30 dae na konsepsie.
  • Strestoestande tydens skeer, dip en hantering, asook omgewingsfaktore soos koue of hitte.
  • Infeksies soos ensoötiese aborsie, Campylobacter, toksoplasmose, listeriose, Salmonella, Q-koors, brusellose, leptospirose en virale oorsake.

Leer hoe om geslagssiektes in jou kudde in die kiem te smoor hier.

Identifikasie en simptome

Metritis kan deur middel van ’n vaginoskopie (wat die ondersoek van die vagina met ’n spekulum behels), sonar of ultraklank, of ’n sitologie wat ’n biopsie en smeer van die vagina behels, geïdentifiseer word.

Kliniese tekens van ooie met metritis sluit in ‘n geswelde vulva, vaginale afskeiding (meestal rooibruin of gryserig geel), agtergeblewe nageboortes, geen eetlus/anoreksie, dehidrasie, koors, toksemie en depressie.

Ooie wat vyf dae na lam steeds ’n vaginale afskeiding toon, het gewoonlik ook ’n slegte reuk. Dit sal wys wees om haar te laat ondersoek, aangesien ’n vroeë diagnose met doelgerigte behandeling haar lewe kan red.

Lees handige wenke vir die lamseisoen hier.

Voorkoming

Om metritis en ander reproduksieverliese te verminder, is dit raadsaam om in jou ooie se voedingsbehoeftes te voorsien. Gesonde diere met ’n goeie liggaamskondisietelling sal minder tekorte en probleme ervaar. Gereelde siektemonitering soos met die toets van ramme, nadoodse ondersoeke en gereelde identifikasie van siektes kan tot doelgerigte voorkoming en inentingsprogramme bydra. Dit is waar ’n veearts se insette waardevol sal wees.

Lamtyd moet as oestyd gesien word en gereelde toesig kan probleme vroegtydig identifiseer en uitskakel. Biosekuriteit en goeie higiëne is bestuurspraktyke wat meer aandag verdien as wat ons tans in die veld sien, veral by intensiewe stelsels. Daar is baie te leer by die hoender- en varkbedrywe oor siektevoorkoming en die isolasie van siek diere om siekteverspreiding te voorkom.

Behandeling

Suksesvolle behandeling hang van die korrekte diagnose af. Ons wil soms eers behandel en dan probeer uitvind wat die probleem is. Raadpleeg ’n veearts indien daar onsekerheid oor die diagnose is.

Metritis kan suksesvol behandel word indien dit spoedig gediagnoseer word. Die toestand kan matig tot lewensgevaarlik wees indien sepsis en skok sou ontwikkel. Behandeling behels die gebruik van ’n geskikte breëspektrum-antibiotika met goeie penetrasie van die geslagstelsel. Oksitetrasiklienis gewoonlik die antibiotika van keuse, maar ’n veearts sal die beste behandeling vir ’n spesifieke diagnose voorstel.

Die gebruik van hormone soos oksitosienhelp met die lediging van die baarmoeder. Die inflammasie word met anti-inflammatoriese middels behandel, mits die ooi nie gedehidreer is nie. Kortikosteroïedeom skok te beveg,kan in erge gevalle help.

Ten slotte

Metritis is ’n multifaktoriale siektetoestand van die baarmoeder wat van ekonomiese belang ten opsigte van reproduksiepotensiaal en ooiverliese is. Genoegsame voorsorg moet met korrekte voeding, goeie biosekuriteit, higiëne en siektevoorkoming getref word. Die siektetoestand is moeiliker om te diagnoseer by skape as by ander produksiediere, maar effektiewe behandeling lei tot vinnige herstel. – Dr Martino Truter, George Dierehospitaal

Vir meer inligting, kontak dr Martino Truter by 044 874 4259 of mtruter6@gmail.com.

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 4 minutes Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 35 of 2024

The weekly pork carcass prices are brought to you...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Ankole embryos sell for record price in South Africa

The South African record price for embryos sold was...