Estimated reading time: 7 minutes
- Die artikel is die eerste van drie oor die jongste navorsing oor peestersiekte in die Suid-Afrikaanse kleinherkouerbedryf.
- Ulseratiewe balanopostitis (UB) is meer algemeen bekend as peestersiekte, pizzle disease, pizzle rot of knob rot. UB is ’n geslagsoordraagbare siekte wat vir die eerste keer in 1979 in Suid-Afrikaanse skaapkuddes aangeteken is.
- UB word beskou as ’n ekonomies belangrike siekte in die Suid-Afrikaanse kleinherkouerbedryf, aangesien dit die dekvermoë van ramme en die vermoë van die ooie om gedek te word, aansienlik negatief beïnvloed.
- Na meer as 40 jaar van die aantekening van die siekte, was studies om die oorsaak van peestersiekte te bepaal onsuksesvol om ’n primêre veroorsakende organisme(-s) te identifiseer.
- Navorsing tot op hede het weereens bevestig dat UB ’n ingewikkelde siekte is wat deur biologiese-, omgewings- en bestuursfaktore beïnvloed kan word.
Die artikel is die eerste van drie oor die jongste navorsing oor peestersiekte in die Suid-Afrikaanse kleinherkouerbedryf. Hierdie artikel bied ’n oorsig oor die geskiedkundige navorsing wat reeds gedoen is en berig ook oor die nasionale voorkoms van die siekte in die tydperk Mei 2012 tot Januarie 2022.
Wat is peestersiekte?
Ulseratiewe balanopostitis (UB) is meer algemeen bekend as peestersiekte, pizzle disease, pizzle rot of knob rot. UB is ’n geslagsoordraagbare siekte wat vir die eerste keer in 1979 in Suid-Afrikaanse skaapkuddes aangeteken is. Die siekte is hoofsaaklik by haarrasse aangeteken en beide ramme sowel as ooie kan besmet word. Dit word gekenmerk deur verskillende stadiums van seertjies wat veral op die glanspenis voorkom en met inflammasie en swelling van die penis gepaardgaan. Wanneer ooie besmet word, en afhangend van die voorkoms en ligging van die seertjies, is die toestand bekend as of vulvitis of vulvovaginitis.
UB word beskou as ’n ekonomies belangrike siekte in die Suid-Afrikaanse kleinherkouerbedryf, aangesien dit die dekvermoë van ramme en die vermoë van die ooie om gedek te word, aansienlik negatief beïnvloed. Die gepaardgaande swelling en inflammasie maak paring ongemaklik en seer vir beide die ram en ooi. Lampersentasies kan met soveel as 50% verlaag word in troppe waar ramme en/of ooie deur UB aangetas is. Alhoewel geen amptelike rekords verkry kon word nie, is daar gerugte dat UB ook in Merino’s en boerbokke opgemerk is.
Die opstel van bestuursprotokolle om die verspreiding van UB te beperk of te voorkom, verg ’n multi-faktoriale benadering. Die identifisering van ’n veroorsakende organisme(-s) sal voorsiening maak vir die formulering van onderskeidelik behandelings- en bestuursprotokolle wat die bedryf in staat sal stel om die verspreiding van die siekte tussen en binne troppe te verminder of te voorkom.
Wat weet ons van UB?
UB is vir die eerste keer in 1976 in Suid-Afrika in Dorperkuddes in die Calvinia-distrik van die Noord-Kaap aangeteken. Sedertdien het die siekte versprei met gevalle wat in die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Oos-Kaap en Wes-Kaap aangemeld is, heel waarskynlik as gevolg van die verspreiding van teeldiere uit die Noord-Kaap. Die hoogste voorkoms van die siekte, volgens Trichard et al. (1993) en Gummow en Staley (2000), is in Dorperkuddes in die Vrystaat aangemeld.
Na meer as 40 jaar van die aantekening van die siekte, was studies om die oorsaak van peestersiekte te bepaal onsuksesvol om ’n primêre veroorsakende organisme(-s) te identifiseer. Die mees algemene bakteriële patogene wat in die studies van onderskeidelik Kidanemariam (2006) en Ali (2012) in monsters verkry van die skede-omgewing van die geslagskanaal van ramme geïsoleer is, sluit in Mycoplasma mycoides mycoides LC (MMLC), Trueperella pyogenes en in ’n mindere mate Escherichia coli, Ureaplasma-spesies, Corynebacterium renale, M. arginini, M. bovigenitalium, Acholeplasma laidlawii, M. agalactiae, M. mycoides capri, M. Capricolum, Staphylococcus aurens, S. epidermidis, Enterococcus faecalis, Histophilus ovis, Erysipelothrix-spesies en Rhodococcus-spesies. Geen virusse of swamme is nog in UB-gevalle in Suid-Afrika geïsoleer nie.
Die 2017-navorsingsprojek
In 2017, in ’n navorsingsprojek deur die Noord-Kaapse Departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling befonds, is die bakteriese mikrobioom van die penis se skede-omgewing van beide gesonde Dorper-ramme en UB-besmette ramme gekarakteriseer en vergelyk deur die gebruik van 16S amplikon-volgorde-bepaling, ’n hoë-deurset, volgende-generasie volgordebepalingsmetode.
Altesaam 789 operasionele taksonomiese eenhede (OTU’s) van 9 964 842 hoë-gehalte reekse is verkry van die gesonde en UB-geaffekteerde ramme. Dit dui op ’n hoë bakteriese diversiteit in die penisomgewing, hoër as wat voorheen geïsoleer is deur gebruik te maak van kultuurgebaseerde bakteriese identifikasiemetodes.
Die genus Corynebacterium was die mees dominante genus wat geïdentifiseer is (20,9%), ongeag die gesondheidstatus van ’n ram. ’n Hoë mate van variasie in die mikrobiota van gesonde en siek ramme het daartoe bygedra dat geen betekenisvolle verskille aangeteken is in terme van die bakteriële spesies nie. Ramme wat met UB besmet was, het wel ’n groter voorkoms van die genera Fusobacterium en Porphyromonas, tesame met verskeie ongekarakteriseerde genera binne die Aerococaceae- en Bacteroidales-groepe, in die skede-omgewing gehad.
’n Bevinding van die 2017-studie, wat weereens bevestig het dat hierdie siekte ingewikkeld is om te bestudeer, was dat M. mycoides mycoides LC en Trueperella pyogenes nie geassosieer was met UB-gevalle in die 2017-studie nie, wat teenstrydig was met vorige verslae. ’n Mikoplasma-spesie, Mycoplasma hyopharyngis, wat nie voorheen in skape en in UB-gevalle geïsoleer is nie, is geïdentifiseer en het ’n hoër voorkoms in die besmette ramme in die 2017-studie gehad.
Die voorkoms en oorheersing van Corynebacterium in die monsters wat in die 2017-studie ingesamel is, dui aan dat dié genus deel vorm van die kernmikrobioom van die skede-omgewing in ramme. Die mate van variasie in die mikrobiota van die skede-omgewing is aanduidend van biologiese verskille wat moontlik deur ’n ram se produksieomgewing beïnvloed kan word.
Gegrond op hierdie gevolgtrekkings en die feit dat sekere OTU’s wat in ramme besmet met UB verryk was, het dus genoodsaak dat die nasionale voorkoms van UB bepaal moes word om die moontlike invloed van die produksie-omgewing op die uitbreek en verspreiding van UB te bepaal. Die identifisering van brandpunte (hot spots) wat beskou kan word as areas van konsentrasie van UB-gevalle, sal help met die bepaling van die invloed van produksie-omgewing op die mikrobiota in die skede-omgewing van ramme en tot hoe ’n mate dit die voorkoms van UB bepaal.
Die uitken van brandpunte
Verskeie benaderings tot die insameling van inligting om brandpunte te identifiseer, is gevolg. Die volgende databronne is identifiseer:
- Elektroniese vraelyste, onderskeidelik versprei deur die Noord-Kaap Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) (2013) asook ’n aanlynvraelys (2021). ’n Totaal van 93 voltooide vraelyste is ontvang.
- Maandelikse Herkouer Veterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA)-siekteverslae (Mei 2012 tot Januarie 2022), met ’n totaal 117 verslae waaruit inligting verkry is.
- Ramtoetsdata aangeteken deur die provinsiale en/of streeksveeartsenykantore of laboratoriums (hier was UB-gevalle aangeteken wanneer ramme vir die voorkoms van Brucella ovis ondersoek was). Ramtoetsdata was van net een staatsveeartskantoor verkry en daar word beplan om aansoek vir toegang tot bestaande ramtoetsinligting te verkry vir die uitsluitlike doel van die oorhoofse projek.
- Epidemiologiese rekords van die Departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD). Aangesien UB nie as ’n aanmeldbare siekte beskou word nie, word geen langtermyn epidemiologiese rekords daaroor gehou nie.
Die beskikbare inligting is verwerk en is beskou teen die agtergrond van die nasionale voorkoms van UB en die moontlike identifisering van brandpunte, asook die voorkoms van skaapherpesvirus 2 (OVH-2)-gevalle en bosluisgevalle saam met UB. Laasgenoemde spruit uit die identifisering van Mycoplasma hyopharyngis (in die 2017-studie) en die bewering van sommige skaapprodusente dat bosluise moontlik ook ’n rol mag speel.
Wat die voorkoms van UB-gevalle saam met OVH-2 en bosluisgevalle betref, was daar geen gevalle wat saam met UB-gevalle (i.e. op dieselfde plaas, in dieselfde kudde of in dieselfde diere) aangemeld nie.
Wat die nasionale voorkoms van UB in die verslagtydperk (Mei 2012 tot Januarie 2022) betref, is UB in bykans al die provinsies aangeteken. Verwerking van die data het die provinsies geïdentifiseer waar dit die meeste aangeteken was, naamlik die Vrystaat, Noord-Kaap en Wes-Kaap (Figuur 1). Verwerking van die data het aangedui dat daar ’n sikliese aard in die voorkoms van UB is. Dit is belangrik om in ag te neem wanneer besluit word waar en wanneer monsters versamel kan word.
Ter opsomming
Navorsing tot op hede het weereens bevestig dat UB ’n ingewikkelde siekte is wat deur biologiese-, omgewings- en bestuursfaktore beïnvloed kan word. In die volgende artikel sal berig word oor die moontlike rol van skaapherpesvirus as ’n biomerker vir die vroeë identifisering van UB in skape. – dr Helet Lambrechts, Lize-Mari Fernhout, en dr Brink van Zyl, Departement Veekundige Wetenskappe, Universiteit Stellenbosch
Erkenning word gegee aan die Noord-Kaapse Departement van Grondhervoming en Landelike Ontwikkeling, Rooivleisnavorsing en Ontwikkeling Suid-Afrika (RMRDSA) en die Nasionale Navorsingstigting (NNS) vir finansiële bydraes tot die studie. Vir meer inligting, kontak dr Helet Lambrechts by helet@sun.ac.za.