Witdorpers in die Karoo moet produseer of padgee

Share This Post

Estimated reading time: 7 minutes

Hannes glo ’n suksesvolle boerdery is geskoei op goeie seleksie. Sy uitgangspunt is om met elke lammeroes minstens 10% van die diere met prulfoute uit te haal.

Sommige produsente is gesteld op die administrasie en boekhouding van hul boerdery, terwyl ander teëskop wanneer dit by die papierwerk kom en eerder ander planne maak. Hannes Esterhuyse, ’n Witdorper-produsent van Williston, val in laasgenoemde kategorie.

“Pleks daarvan om alles op papier neer te skryf, merk ek eerder my skape behoorlik. So kan ek die produktiwiteit van elke ooi op die plaas sommer so in die veld bepaal en my boerdery daarvolgens bestuur,” sê hy.

Beheer jou boerdery

Talle produsente lê groot klem op skape se bouvorm, omdat dit met produktiwiteit en uiteindelik ’n goeie karkas by die abattoir verband hou. Hannes sou dan egter van sy beste ooie moes slag omdat hulle nie aan die korrekte bouvorm voldoen nie, al lewer hulle klokslag ’n bemarkbare lam.

“My uiteindelike doelwit is om doeltreffende en produktiewe ooie op die plaas aan te hou. Daarom haal ek onmiddellik die onproduktiewe ooie uit en behou dié wat gemaklik kan lam, hul lammers teen ongediertes kan beskerm, en hul kondisie behou terwyl hulle daardie lammers grootmaak. In ons omgewing is roofdiere ’n groot probleem; dit gebeur dikwels dat ’n ooi haar kant bring, maar die lam word deur ’n jakkals of rooikat opgevreet. Daarom kan ek die ooi nie sommer goedsmoeds laat slag nie; dit bly ’n fyn balans wat gehandhaaf moet word.”

Dit is vir Hannes belangrik om beheer oor sy skape te hê. Daarom het hy verskillende merke wat hy op die ooi se oor aanbring. So is die waarde van elke ooi dadelik in die veld sigbaar en hoef hy nie eers die ‘papiere’ te raadpleeg nie. “Die groot geheim is om jou diere te ken en die enigste manier om dit te doen is om genoeg tyd tussen hulle te spandeer. Om werklik te weet wat op die plaas aangaan, moet jou velskoene se spore in die grond lê.”

Sukses begin by seleksie

Hannes glo ’n suksesvolle boerdery is geskoei op goeie seleksie. Sy uitgangspunt is om met elke lammeroes minstens 10% van die diere met prulfoute uit te haal. Net so word die ooie wat nie hul kant bring nie ook uitgeskot. Sy seleksiereël is dat ooie wat nie binne 30 dae ná twee siklusse dragtig raak nie, nie ’n plek op die plaas verdien nie. Diere wat sukkel om te lam of wat nie ’n lam kan speen nie, is ook op pad abattoir toe.

Hannes skot sy ou ooie saam met die lammers uit, sodat hulle nie verder passasiers op die plaas kan wees nie. Dit stel hom in staat om goeie ramlammers te produseer wat hy weer later in sy kudde kan gebruik. “Ek het al geleer dat hierdie lammers afkomstig is van ooie met goeie vrugbaarheid, lamvermoë, moedereienskappe en groei. Hierdie lammers toon gewoonlik bogemiddelde groei en ek het in my boerdery gesien dat ooie wat op ’n jong ouderdom goed produseer, altyd goed sal produseer. Dit is die tipe ooie wat ek op my plaas nodig het.”

Hoewel Hannes baie van sy ramme self produseer, koop hy af en toe nuwe ramme ter wille van goeie genetika aan, sodat hy weer sy kudde kan bou. Sy raad is om altyd ramme van goeie telers te koop, veral dié wat jy ken, om te verseker dat jy nie ’n kat in die sak koop nie. “Ek het al baie foute in my lewe gemaak en een daarvan was om swak ramme te koop. Jy kom gewoonlik eers later agter die ram is nie sy prys werd nie. Hou dus maar by die bekende, sodat jy seker kan maak jy verloor nie op die lang duur geld nie,” waarsku hy.

Werk saam met die natuur

Om in die Karoo te boer is g’n grap nie. Hannes sê die natuur voorsien die wysie en jy as produsent moet maar daarvolgens dans. “Williston is bekend vir sy droogtes en daarom moet jy jaarliks jou bestuursbesluite neem volgens die kaarte wat die natuur vir jou deel.”

Die ideaal is om ’n goeie weidingstelsel te hê waarin jou veld kan rus en herstel. Indien daar egter droogte is, moet jy ander planne maak, aangesien jy baie veld benodig om kop bo water te hou. Hannes poog dan gewoonlik om addisionele grond te huur sodat sy weiding kan herstel wanneer die natuur weer draai.

Indien dit ’n goeie jaar is, glo hy daaraan om die maksimum uit sy plaas te haal sonder om die veld te vernietig. In droë en moeilike jare is sy eerste aksie om vee betyds te verminder, terwyl pryse nog gunstig is. Hy het al geleer dat indien jy te lank aan jou diere vasklou, die pryse al hoe meer verswak en jy die diere later in ’n tyd van ooraanbod moet slag, wanneer pryse drasties daal.

Hannes se beleid in sulke tye is om alle onproduktiewe diere uit die stelsel te verwyder, sodat dié wat onder moeilike omstandighede ’n lam kan grootmaak, ’n beter kans op oorlewing kan hê. Aangesien die area deur droogtes gekenmerk word, het Hannes ’n paar beleidsbeginsels wat hy streng toepas: “Eerstens, moet nooit te veel diere aanhou nie en gebruik eerder die drakrag wat jou veld bied.” Tweedens is dit noodsaaklik om waterbronne te beskerm en ’n werkbare weidingstelsel te gebruik wat die veld kan hanteer na gelang van die droogtes.

“Ek het alle wild op my plaas verwyder. Indien ek ’n springbok wil skiet doen ek dit op ’n ander man se plaas, want my veld kan nie wild én skape hanteer nie. Die skape is vir my ’n groter prioriteit as die lekkerte van jag,” sê hy.

Oorleef die droogte

In die Karoo spot die produsente dat hulle nie voorsiening kan maak vir droogtes nie, omdat dit feitlik jaarliks voorkom. Dit laat hulle egter nie terugdeins nie en vorm eerder deel van hul leefwyse. Hannes sê tong in die kies dat ’n produsent in die Karoo so laag soos ’n afgevrete Karoobossie moet leef, onnodige uitgawes tot op die been moet sny en sorg dat hy met aangepaste skape boer.

Buiten die droogtetoestande jaag hy steeds produksie eerder as oorlewing na. “Afgesien van die bykomende voeding wat die diere moet ontvang, en veral kruipvoeding wat myns insiens een van die beste uitvindsels is, is die bewaring van waterbronne ewe belangrik.

“Ek sorg dat my diere altyd genoeg water het en volg ’n paar reëls wanneer dit by waterbestuur kom. Die waterpypleiding moet heel wees, die pompe se remme moet doeltreffend werk, gronddamme moet funksioneel wees en, sou ’n prosopis op die plaas verskyn, moet dit wortel en tak uitgeroei word. Indien jy genoeg water vir ’n klein stukkie besproeiing het, moet dit nie oordoen nie, want ons ondergrondse water is van ons beste bates,” sê Hannes.

Hy voeg by dat, hoewel dit nie altyd so maklik is om in hierdie omgewing te boer nie, die sukses van ’n skaapboerdery in hierdie geweste afhang van die jokkie wat die perd ry. “Indien jy lus het vir boer en bereid is om swaarkrydae te trotseer, dan is boerdery ’n fees te midde van die omstandighede.” – Koos du Pisanie, Veeplaas

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 29 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a wholly...

Ontwikkel ’n skerp oog vir rasstandaarde en die metodiek van kleinveebeoordeling

Estimated reading time: 7 minutes Die vertoning en beoordeling van...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not as...