Estimated reading time: 7 minutes
Williston se landbouskou is vanjaar van 26 tot 28 Februarie aangebied. Die skou word tans as die grootste plattelandse landbouskou in die Noord-Kaap beskou. Diere is reeds Donderdag vir die jaarlikse interdorp slaglamkompetisie ingeskryf.
Die gewilde perdeskou het ook reeds Donderdag begin. Vyf en tagtig perde het in verskeie klasse aan die skou deelgeneem. Melkbokke, Boerbokke, Dohne Merino’s en Dorpers is beoordeel en tussendeur is ’n vol program vir skougangers aangebied. Te midde van die bek-en-klouseer (BEK)-krisis is streng biosekuriteitsmaatreëls gehandhaaf.
Slaglamkompetisie
Die organiseerder, Dewitt Hodgson, verduidelik dat daar vanjaar ’n totaal van honderd en twintig lammers in die kommersiële afdeling beoordeel is. Die kompetisie was baie streng, en die Steenkamps van Carnarvon het weereens as wenners weggestap. Die enkelkarkaswenner is deur Roux Steenkamp vertoon, met ’n algehele punt van 99,33%. Bertus Steenkamp het beide tweede en derde plekke behaal. Hy het ook die groepwenners vertoon met ’n punt van 95,72%. Roux het die tweede plek in die groepkarkasse vertoon en Bertus die derde.
Lees meer oor Bertus en Roux Steenkamp se suksesse.
In die afdeling vir opkomende boere is daar twee en dertig slaglammers ingeskryf. Die wenner van die enkelkarkas was S. Masalika met ’n punt van 93,10% terwyl E. Willemse die tweede en derde plekke ingeneem het. In die groepafdeling vir opkomende boere het S. Masalika weereens die wenners vertoon met ’n punt van 89,37% en E. Willemse het hier ook die tweede en derde plekke behaal.
Melkbokke
Na ’n strawwe kompetisie by die Melkbokke is ’n ooi van Philip en Jan-Frederik van Schalkwyk van Williston as die grootkampioen aangewys, met Ockert Vermeulen, ook van Williston, as reserwe-kampioen.
Na wat verneem word, is hierdie waarskynlik die enigste Melkbokskou in die land. Melkbokprodusente meen dat die Williston-distrik nog altyd die Mekka van Melkbokke in Suid-Afrika was. Hier was al tot honderd en twintig bokke op ’n slag geskou. Die belangstelling in Melkbokke het egter afgeneem, en uiteindelik het daar op elke plaas net ’n paar Melkbokke oorgebly. In die proses het goeie genetika ook in die slag gebly.
’n Paar jaar gelede het Williston se Melkboktelers besluit om die standaard van Melkbokke in die gebied te verbeter. Een van die maniere was om weer kompetisies op skouvlak aan te bied, aangesien boere hulself dan met mekaar kan vergelyk. Hierdie inisiatief het meegebring dat die aantal Melkbokke op plase toegeneem het en die standaarde merkbaar verbeter het. Vandag word daar elke jaar in Augustus, tydens die Williston Kleinveeveiling, ’n ekstra dag vir bokke ingerig, waarvan Melkbokke ’n groot komponent is. Kopers kom van heinde en verre om hier Melkbokke aan te skaf.
Dohne Merino’s
Volgens skoupresident en organiseerder van die Dohne Merino-skou, Keith Coetzee, het drie telers altesaam 29 stuks vee vertoon. Hy verduidelik dat heelwat vertoners op die nippertjie uit vrees vir BEK onttrek het. Dit het egter nie die organiseerders ontmoedig nie en ’n puik vertoning is aangebied.
Die beoordelaars in hierdie afdeling was Hannes van der Westhuizen van OVK Calvinia en Thinus van Schalkwyk van BKB Calvinia, met Jan Esau as ringbeampte.
Twee van die klasse in die skou was ooi met die beste bouvorm en ooi met die beste wol. Die Dohne Merino met die beste bouvorm is ’n ooi van Euvrard van Schalkwyk van Fraserburg, terwyl die Dohne Merino-ooi met die beste wol die eiendom van Jan-Frederik van Schalkwyk van Williston is.
Boerbokke
Honderd agt en veertig Boerbokke het aan die Noord-Kaap Boerbokkampioenskap by die Williston-skou deelgeneem. Agt vertoners is teenwoordig. Die beoordelaars was Jacques Pretorius en Abraham Burger van die Suid-Afrikaanse Boerboktelersvereniging.
Casper Byleveld van die Nico Botha Boerbokstoet het, soos verlede jaar, weereens skoonskip gemaak. Hy het beide die grootkampioen Boerbokram en -ooi vertoon. Die reserwe-kampioenram en -ooi kom ook uit sy kudde.
Dorper
Die Dorper-skou was ’n kommersiële kuddeskou waaraan agt plaaslike telers deelgeneem het. Vyf en negentig Dorpers en Witdorpers is hier vertoon en gesamentlik beoordeel. Die beoordelaar was Willemse Visser. Salco Boerdery het die grootkampioen Dorper vertoon en Dewitt Hodgson het die reserwe-kampioen vertoon.
Jeugskou
Die jeugskou was vanjaar weer een van die hoogtepunte van Williston-skou. Honderd en dertien kinders van so ver as Carnarvon, Fraserburg, Calvinia, Ceres, die Kaap en natuurlik Williston het in verskeie klasse deelgeneem. In sommige klasse was daar soveel inskrywings dat daar tot vier uitdunne gehou moes word. Die beoordelaars was Thinus van Schalkwyk, Mariné van der Colff, Lani de Klerk en Juleze van der Colff. Volgens organiseerder Sonja Barton leer kinders hier nie net ’n liefde vir diere aan nie, maar ontwikkel hulle ook belangrike lewensvaardighede wat hulle vir die toekoms toerus. Planne om volgende jaar ’n pluimvee-afdeling vir blinde kinders by die jeugskou in te sluit, is reeds in werking.
Pluimvee
Vanjaar is sowat een en tagtig stuks pluimvee vertoon, wat verskillende rasse hoenders, eende en duiwe insluit. Volgens die organiseerder, Francois Jooste, was daar vanjaar minder pluimvee as verlede jaar weens ’n koksidiose-uitbreking in die Boland en Beaufort-Wes. Ten spyte hiervan was die kompetisie steeds uiters sterk. Die pluimvee is na afloop van die skou privaat te koop aangebied.
Die skoukomitee is besonder tevrede met die opkoms van besoekers, en volgens talle besoekers was dit een van die beste skoue wat hulle in ’n lang tyd bygewoon het. – Koos du Pisanie, Plaas Media