Estimated reading time: 1 minute
- Bertus Steenkamp en sy seun, Roux, is bekende Witdorper-telers wat jare al saam op die familieplaas, Klipbanksfontein, boer.
- Hulle het bekendheid verwerf vir hul uitstekende slaglammers wat gereeld as die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfsmaatskappy, Samic, se nasionale slaglamwenners uit die stryd tree.
- Bertus en Roux se doelwit is dat elke lam wat na die abattoir gestuur word, tussen 36 en 44kg lewendig moet weeg.
- Bertus is baie gelukkig om heelwat ondergrondse water te hê en kan 31ha lusern met vloedbesproeiing verbou.
- Hy vertel dat hy sowat 12 000 bale lusern per jaar kan produseer.
Bertus Steenkamp en sy seun, Roux, is bekende Witdorper-telers wat jare al saam op die familieplaas, Klipbanksfontein, boer. Die plaas is tussen Carnarvon en Fraserburg geleë en is al meer as 100 jaar in die familie. Bertus is die vierde geslag wat boer, met Roux en kleinseun, Rubert, wat mettertyd sal oorvat.
Wanneer jy met hulle gesels, kom jy gou agter hulle is soos die twee hande van een mens: waar die een los, vat die ander oor. Hulle het oor die jare bekendheid verwerf vir hul uitstekende slaglammers wat gereeld as die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfsmaatskappy, Samic, se nasionale slaglamwenners uit die stryd tree. In 2023/24 het hulle die nasionale enkelkarkas- sowel as die groepkategorie gewen en was die eerste teler wat daarin kon slaag om beide afdelings te verower. Vanjaar was hulle die naaswenners van die enkel-karkaskategorie, maar het weer eerste plek in die groepkategorie behaal.
Bertus sê hierdie slaglamkompetisie is vir hom baie belangrik, want dít is waar hy leer wat die verbruiker wil hê. Hiervolgens kan hy en Roux hul boerdery só aanpas en verfyn, dat hulle nie net die Samic-kompetisies baasraak nie, maar dat elke vrag slaglammers karkasse oplewer wat enige supermark of slaghuis graag op sy rak wil hê.
Bertus sê hul boerdery staan op tien pilare wat hy sy tienpuntplan noem.
1. ’n Goeie infrastruktuur
Enige boerdery of fabriek werk eenvoudig beter as daar goeie infrastruktuur is. Die Steenkamps glo dat faktore soos goeie lyndrade, hekke wat nie sleep nie, funksionele laaibanke, damme wat reg is, genoeg skadu by drinkplekke en dies meer die werk baie makliker maak.
“As daar elke kort-kort hieraan aandag gegee moet word, neem dit te veel tyd in beslag. Doen eerder alles die eerste keer reg en volgens gehalte, dan is die werk verder soveel makliker en vinniger.”
2. Goeie arbeid
Dis vir hulle belangrik dat hul arbeiders gelukkig en ingelig moet wees. Van die arbeiders werk al geslagte lank op die familieplaas. Hoewel hulle nie formele opleiding kry nie, word hulle in diens opgelei en geleer om skape se eienskappe met die blote oog te takseer.
“Met goeie ervaring kan jy maklik ‘n ooi en haar lammers saam sit of dadelik sien as ’n ooi nie gaan produseer soos sy moet nie. As die werkers persoonlike probleme het, is dit vir hulle moeilik om op hul werk te fokus. Daarom hou ons soggens ’n vergadering om die dag se werk uit te deel en probleme uit die weg te ruim, sodat elke werker kan fokus op sy dagtaak,” gesels Bertus verder.
3. Bestuur van die kudde
Dit is hoofsaaklik Roux se verantwoordelikheid om die Witdorper-kudde te bestuur. Sy lampersentasie draai telkens by 130% en het in sekere jare selfs 160% gehaal. Hulle bestuur vyf lamsiklusse per jaar waarvan drie voor en twee na die winter is.
“Die enigste manier om vir ’n premie te beding, is om ’n karkas te lewer wat aan verbruikersbehoeftes voldoen. Deur aan slaglamkompetisies deel te neem is dit makliker om te bepaal of jou lammers op pyl is. Goeie bestuur en streng rekordhouding maak dit makliker om swak ooie te identifiseer en hulle uit die stelsel te verwyder,” vertel Roux.
Hy ondersoek elke ooi ten minste elke 14 dae om haar gesondheid, produksiestadium en voedingstatus na te gaan. “Ons glo ons moet elke dag by die ooie betrokke wees. As jy daagliks deur ’n aantal ooie werk, tel jy baie dinge op wat jy andersins nie sou raaksien nie. Dit verseker beter bestuur en voortydige optrede voordat ’n krisis ontstaan,” verduidelik Roux.

4. Ongediertebeheer
Soos op die meeste skaapplase is roofdiere een van die veeprodusent se grootste vyande. Bertus vertel dat dit nie net jakkalse en rooikatte is wat hul lewe versuur nie, maar ook vernielsugtige kraaie wat die lammers se oë en tonge tydens geboorte uitpik.
Hy spandeer jaarliks duisende rande aan ongediertebeheer en gebruik verskeie metodes soos jakkalsjagters, slagysters en jag met ’n helikopter om van die jakkalse op sy plaas ontslae te raak. Danksy hierdie voorsorgmaatreëls verloor hy net sowat 2% van sy lammeroes per jaar.
5. Logistieke beheer
Hoewel die plase waarop Bertus en Roux boer teenaan mekaar lê, beslaan dit steeds ’n groot gebied. Daarom is logistieke aspekte soos bakkies en paaie belangrik. Alle voertuie word gereeld gediens en die paaie onderhou, sodat hulle maklik van een punt na ’n volgende kan beweeg. Bertus meen ’n bakkie wat stukkend skud omdat die plaaspaaie in ’n swak toestand is, is die plaaseienaar se eie skuld.
6. Doeltreffende kommunikasie
Omdat die afstande op die plase groot is, is doeltreffende kommunikasie vir Bertus, Roux en hul werkers belangrik. “Dit gebeur soms dat werkers op ‘n plek afgelaai word, maar nie met die werk kan voortgaan nie. As ons nie goed kan kommunikeer nie, beteken dit iemand moet onnodig soontoe ry net om te hoor dat die werk nie voltooi kon word nie. Danksy ‘n goeie radiostelsel tree ons maklik met mekaar in verbinding en hoef ons nie tyd te mors nie,” verduidelik Bertus.
7. Goeie beplanning
Bertus en Roux se doelwit is dat elke lam wat na die abattoir gestuur word, tussen 36 en 44kg lewendig moet weeg. Hiervoor is beplanning noodsaaklik. Hulle doen ’n dagbeplanning, ses-maande beplanning en jaarbeplanning om te sorg dat elke aspek van die boerdery dwarsdeur die jaar op geoliede wiele loop.
8. Skaaphonde
Goed-opgeleide skaaphonde is van groot nut op ’n suksesvolle skaapplaas. Bertus en Roux doen moeite om hul honde op te lei sodat die werk vergemaklik kan word.
9. Droogtebeplanning
Een van die belangrikste aspekte in hulle omgewing is om voorsiening te maak vir droogtes. “Boer met diere wat by jou omgewing, weiding, topografie en klimaat aangepas is, want ons sal nooit droogtes in die Karoo kan wegwens nie. Dit sal altyd weer kom. ‘n Mens moet gereed wees as die droogte begin kop uitsteek; dan moet jy weet wat jy gaan doen om deur die droogte te kom met die minste moontlike skade.”
Hy glo ’n ooi moet gevoer word vir produksie, nie vir onderhoud nie. Hy en Roux het hul eie masjinerie aangeskaf om voerpille te maak. Hy het kundiges se hulp ingeroep om goeie voerresepte te genereer wat by die omgewing pas en wat veral in droogtetye bruikbaar is. Tydens droogte glo hulle ook daaraan om die lam so gou as moontlik te speen ten einde die ooi te beskerm.
10. Besproeiing

Bertus is baie gelukkig om heelwat ondergrondse water te hê en kan 31ha lusern met vloedbesproeiing verbou. Sy stelsel is ook so ingerig dat hy reënwater kan opvang en dit in die plek van boorgatwater gebruik indien dit nodig is.
Hy vertel dat hy sowat 12 000 bale lusern per jaar kan produseer. Die meeste hiervan word vir sy eie diere gebruik, maar hy voorsien ook aan die plaaslike koöperasies en mede-produsente in die omgewing. Hulle is ook besig om die hele plaas se kragvoorsiening met behulp van sonkragtelsels te vervang. Dit help hulle om ekonomies meer doeltreffend te boer.
Hierdie pa-en-seun-kombinasie is ‘n gedugte span waarvan hul sukses op plaaslike sowel as nasionale vlak getuig. – Koos du Pisanie, Plaas Media
Vir meer inligting, kontak Bertus Steenkamp by 083 630 5675.

