Estimated reading time: 9 minutes
Williston het van 22 tot 24 Februarie 2024 die platteland aan die gons gehad met ‘n verskeidenheid aktiwiteite en uitstallings wat tydens die jaarlikse landbouskou plaasgevind het. Hierdie Noord-Kaapse skou brei jaarliks uit en neem toe in gewildheid. Die hoogtepunte was die slaglamkompetisie, jeugskou en perdeskou.
Slaglamkompetisie
Slagvee is reeds op Donderdag, 22 Februarie, vir die beoordeling op die hoef ingeskryf. Die volgende dag is die lammers by Williston-abattoir geslag en aan die haak beoordeel.

Volgens Hernus le Roux, een van die skou se organiseerders, het vanjaar se kompetisie ’n rekordgetal skaap- en boklaminskrywings ontvang. ’n Totaal van 252 lammers is beoordeel en die kompetisie was straf. Die verskil tussen die eerste en derde plek was uiteindelik ‘n skamele 0,75%.
Le Roux voorspel dat die nasionale kampioene dalk alreeds by hierdie skou gekroon is. Bertus Steenkamp van Carnarvon en sy seun, Roux, het die eerste en tweede plekke in die enkelkarkasafdeling ingepalm. Hulle het ook die groepkarkasafdeling oorheers. Bertus is as die wenner aangewys en Roux as die naaswenner. Atka Trading van Williston het in albei kategorieë derde geëindig.
Samic se beoordelaars was uiters tevrede met Williston se slaglammers. Le Roux vertel dat die Williston-skou vanjaar die hoogste algehele punt nóg van Samic in die slaglamkompetisie ontvang het.
Nasionale Afrikanerskaap-kampioenskap
Die nasionale Afrikanerskaap-kampioenskap is tydens die skou aangebied en is, sover bekend, die enigste Afrikanerskaap-skou in die land. Gys van Wyk van Carnarvon het die kampioen-ooi vertoon en Le Roux het die reserwekampioen ooi opgelewer. Die kampioenram is deur JF van Wyk van Williston vertoon en die reserwekampioen is deur Le Roux vertoon.

Johan van der Colff, ’n ervare landbouer en vooraanstaande rolspeler in georganiseerde landbou en in die gemeenskap, sê die Afrikanerskaap is nie ’n algemene ras in Suid-Afrika nie. Alhoewel hierdie nog nie ’n groot kompetisie vir die ras is nie, bied dit aan telers in die omgewing ’n goeie geleentheid om hul kuddes se rasstandaarde te verhoog.
“Om die Afrikanerskaap in een van die raskompetisies te betrek, is ’n goeie bousteen vir die sukses van die Williston-skou. Op dié manier word die gehalte van kuddes elke jaar verbeter,” sê Van der Colff. ’n Bekende Afrikanerskaapteler, Dries Wiese, het as beoordelaar opgetree.
Melkbokke
Meer as 70 melkbokke is vanjaar by die Williston-skou vertoon. Na ’n strawwe kompetisie is ’n ooi van Philip van Schalkwyk van die plaas Waalkraal in die Fraserburg-distrik, as die grootkampioen aangewys. Ockert Vermeulen, ook van Fraserburg, het die reserwekampioen vertoon.

Melkbokprodusente meen dat die Williston-distrik die hartland van melkbokke in Suid-Afrika is. Tot 120 bokke is al op een slag geskou. Die melkbokbedryf het egter onlangs agteruitgegaan en baie plase het net ’n handjievol bokke oor. Goeie genetika het ook in die proses in die slag gebly.
Williston se melkboktelers het egter ’n paar jaar gelede besluit om die standaard van melkbokke in die gebied te verhoog. Om kompetisies op skouvlak aan te bied, was een van die metodes om hierdie doel te bereik. Sodoende kan produsente hulself met mekaar vergelyk.
In die proses het die aantal melkbokke op plase vermeerder en het die standaarde tot so ’n mate verbeter, dat daar nou elke jaar in Augustus tydens die Williston-kleinveeveiling ’n ekstra dag vir bokke aangebied word, waarvan melkbokke ‘n groot deel uitmaak. Kopers kom van regoor die land om melkbokke by hierdie veiling aan te skaf.
Dohne Merino’s
Dohne Merino-wolskape is tydens die Williston-skou op grond van bouvorm en wol beoordeel. Hannes van der Westhuizen van OVK en Thinus van Schalkwyk van BKB was die beoordelaars, en Jan Esau het as ringmeester opgetree.
Die wenners in die klas vir ongeskeerde lammers was Euvrard en Mariëtte van Schalkwyk van Fraserburg. Hulle het ook die reserwekampioen in hierdie klas vertoon. ’n Teler van die Moorreesburg-omgewing, Jannie Kitshoff van HL Kitshoff en Seuns, het die beste groep geskeerde lammers vertoon.

Die grootkampioen met die beste bouvorm is ook deur Van Schalkwyk vertoon en die grootkampioen met die beste wol, deur Keith Coetzee van Skipperskloof Boerdery naby Williston. Coetzee, die skoupresident, was die organiseerder van hierdie kompetisie. Hy vertel dat vyf telers saam 65 stuks vee geskou het en dat die skeerseisoen ’n invloed op getalle gehad het.
Boerbokke
Sowat 133 Boerbokke het aan die Williston-skou deelgeneem, maar sowat 100 moes ongelukkig onttrek.

Die grootkampioen ooi sowel as die reserwekampioen ooi is deur Connie Coetzee van CNC Boerdery van Prieska vertoon. Martin Compion het die pryse namens die boerdery ontvang.
Die grootkampioen ram is deur Corrie Avenant van Atka-stoet in Williston vertoon en die reserwekampioen is deur Bertus van der Merwe van Clanwilliam vertoon.

Charles Willemse van die Suid-Afrikaanse Boerboktelersvereniging het die Boerbokke beoordeel en was beïndruk met die standaard van die diere. Die vertoners het van Williston, Prieska, Calvinia, Clanwilliam en Ceres gekom.
Dorperskape
Sewe plaaslike telers het gesamentlik 100 Dorpers in ’n kommersiële kuddeskou geskou. Frans Louw van Williston het die eerste drie plekke in die klas vir ooilammers onder 40kg ingepalm. Hy het ook eerste plek in die klas vir ooilammers bo 40kg gewen, met Hannes Esterhuysen in die tweede plek. Coleen van der Merwe, van die Dorper-skaaptelersvereniging, het die Dorpers beoordeel.

Jeugskou
Die jeugskou was weereens ‘n hoogtepunt by vanjaar se Williston-skou. Altesaam 120 leerders van Williston, Kakamas, Upington, Clanwilliam, Carnarvon, Loxton, Fraserburg, Riversdal, Klaarstroom en ander nabygeleë dorpe het hulle talente in verskillende klasse gedemonstreer.
Perde en pluimvee
Die perdeskou het heelwat besoekers gelok. Philip van Schalkwyk, ’n skoukomiteelid, vertel dat 95 perde in 90 klasse geskou is. Saalperde, trekperde soos Fries- en Vlaamperde, en ryperde het almal aan die kompetisie deelgeneem. Deelnemers het Bredasdorp, Graafwater, Fraserburg, Calvinia, Sutherland, Clanwilliam, Loxton, Stellenbosch en Williston verteenwoordig.

Van Schalkwyk sê hierdie skou was goeie voorbereiding vir Bloemskou wat oor twee maande plaasvind. Ernest Langer, ’n bekende naam in Karoo-perdeskoukringe, was die organiseerder. Perdry is gewild onder Karookinders en die Calvinia Perdryskool het ook deelgeneem.
Die kinders was veral bekoor deur die pluimveeskou. Honderd en vyftig stuks pluimvee het aan die kompetisie deelgeneem, meestal van Gys van Wyk van Goraas in die Carnarvon-omgewing. Pluimvee was ook na afloop van die skou te koop.
Williston se skoukomitee was ingenome met die hoeveelheid skougangers en die besoekers was dit eens dat die Williston-skou een van die beste skoue is wat hulle al bygewoon het. – Koos du Pisanie, Plaas Media