Estimated reading time: 6 minutes
Behoorlike bestuur en voeding van bulle is noodsaaklik om te verseker dat die koei-kalfprodusent maksimum reproduksie en genetiese effektiwiteit van sy kudde kan verseker.
Verskeie faktore beïnvloed vrugbaarheid. Eerstens moet ’n bul goed ontwikkel wees en reeds puberteit bereik het. Tweedens speel fisieke eienskappe soos skrotum-omvang, dekbehendigheid, en semengehalte’n belangrike rol in ’n bul se vrugbaarheid. Derdens beïnvloed libido en sosiale dominansie, waar meer as een bul by ’n groep koeie gebruik word, ook die bul se vermoë om koeie te dek.
Na-speense groei: 7 tot 12 maande-ouderdom
Wanneer bulkalwers op ongeveer 200 dae-ouderdom gespeen word, moet hul tussen 26 en 34% van hul volwasse gewig reeds bereik het (Tabel 1). Onder normale somer-weidingstoestande behoort die kalf die gewig met die koei se melk, die weidingsinname, en ’n fosfaatlek-aanvulling te bereik.
Gebruik Molatek Foslek (V 16059; N-FF 1407) of Fosblock (V 22502; N-FF 2471) met ’n inname van ongeveer 180g/bees/dag. Gespeende bulkalwers moet ontwurm en teen lewerslak behandel word indien dit in die gebied voorkom. Bulle moet ook jaarliks getoets word vir brusellose, beesvirus-diaree (BVD), besmetlike beesrinotrageïtis (IBR), en trigomonose. Behandel ook wanneer nodig teen uitwendige parasiete.
Vanaf speen tot 12 maande-ouderdom behoort bulle teen sodanige tempo te groei dat hul 52 tot 62% van hul volwasse massa bereik het sodat hulle op 24 maande-ouderdom reeds 85 tot 94% van hul volwasse gewig weeg. Die groeitempo sal wissel afhangende van die ras en volwasse massa van bulle.
Tabel 1: Teikengewigte en daaglikse massatoename van jong bulle
| Teikengewigte (kg) | Minimum daaglikse massatoename (kg) | ||||
| Volwasse bulgewigte, matige kondisie | Speen op 200 dae | 12 maande-ouderdom | 24 maande-ouderdom | Speen tot 12 maande-ouderdom* | 12 tot 24 maande-ouderdom |
| 700 | 210 | 400 | 616 | 1.15 | 0.59 |
| 800 | 240 | 456 | 704 | 1.3 | 0.68 |
| 900 | 270 | 513 | 792 | 1.47 | 0.76 |
| 1000 | 300 | 570 | 880 | 1.63 | 0.85 |
Naspeense groeiaanbeveling vanaf ongeveer 230kg tot en met volwassenheid is soos volg:
- Droë materiaal (DM)-inname – 2,7% van liggaamsmassa op 230kg en 2,5% op volwasse ouderdom.
- Proteïen – 13,5 tot 15% op DM-basis.
- Energie maksimum – 10,2 megajoules (MJ) metaboliseerbare energie (68% totale verteerbare voedingstowwe) op DM-basis.
- Kalsium- tot fosforverhouding – 1:1,5 tot 1:2; kalsium – 0,8% en fosfaat – 0,4%.
- Voldoende spoorminerale, asook vitamiene A, D, en E moet aangevul word.
’n Potensiële bul vir verkope moet vanaf speen tot en met verkope op 2 jarige-ouderdom gemiddeld 800g tot 1kg per dag groei. Om dit te kan behaal, moet ’n aanvulling met ’n hoë natuurlike proteïeninhoud, maar nie te hoë energie-inhoud nie, verskaf word. Dit is omdat ons goeie spiergroei wil verseker sonder dat die diere oorvet word.
Verskaf aan bulkalwers vanaf speen ’n kragvoermengsel teen 1,5% van liggaamsmassa op winterveldweiding en teen 0,75% van liggaamsmassa op die groen somerweiding. Indien die styselinname vanaf die graankomponent meer as 0,5 tot 0,75% van liggaamsmassa is, word weidingsinname en vertering onderdruk. Die kragvoer-mengsel of produksielek moet minstens ’n 14 to 15% proteïen- en ’n energiewaarde van 10,8 MJ/kg op ’n droë materiaal-basis bevat. Indien ’n volledige rantsoen gebruik word, moet minstens 15 tot 20% grofgemaalde hooi by die rantsoen ingesluit word. Wanneer ’n kafeteriastelsel gebruik word, moet die bulle minstens 0,5% van hul liggaamsmassa as ruvoer ontvang (Tabel 2).
Voeding het ’n belangrike invloed op skrotum-omtrekontwikkeling en kan afhangende van die rasstandaarde wissel met tussen 30cm op 15 maande- en 34cm op 24 maande-ouderdom. Die skrotum-omvang korreleer positief met semengehalte – soos die persentasie normale sperms en mortaliteit, semenvolume, en -konsentrasie – wat vrugbaarheid verhoog. Bulle met ’n groter skrotum-omvang binne die rasstandaarde, se verse bereik ook reeds op ’n jonger ouderdom puberteit. Die skrotum-omvang korreleer ook positief met vrugbaarheid in die nageslag.
Tabel 2: Volledige en kafeteria afrondingsdiëte vir veilings*
| Menginstruksie | Volvoer-mengsel 1 | Volvoer-mengsel 2 | Kafeteria-mengsel 1 | |
| Beesvet 33+ | kg | 160 | 160 | 160 |
| Mieliemeel/hominy chop | kg | 650 | 640 | 790 |
| Molatek Bypass | kg | 50 | 50 | 50 |
| Mieliekuilvoer | kg | **** | 350 | **** |
| Ruvoer | kg | 150 | 75 | Ad lib |
| Totaal | kg | 1 010 | 1 275 | 1 000 |
*Innames moet gekontroleer en aangepas word na gelang van die vereiste kondisie en groeitempo benodig.
Fase D: groeitoetse van jong bulle
Kalwers op ’n fase D-toets moet aan die begin van die toets nie ouer as 365 dae wees nie en die groep moet nie meer as 120 dae in ouderdom verskil nie. Fase D-toetse is ’n minimum van 84 dae en ’n maksimum van 270 dae na die aanpassingsperiode. Elke ras het ook ’n minimum-GDT en massatoename wat oor hierdie periode behaal moet word soos in Tabel 3 aangedui.
Tabel 3: Minimum GDT en massatoename van bulle op ’n Fase D-toets
| Ras | Minimum toename (kg) | Minimum GDT (g) |
| Afrikaner, Brahman, Dexter, Nguni, Sanganer, Tuli. | 90 | 400 |
| Bonsmara, Drakensberger, Galloway, Limousin, Noord Devon, Rooi Poenskop, Shorthorn, Sussex. | 110 | 500 |
| Beefmaster, Brangus, Hereford, Huguenot, Pinzgauer, SA Angus, Santa Gertrudis, Simbra. | 120 | 550 |
| Braunvieh, Charolais, Gelbvieh, Simmentaler, South Devon. | 130 | 600 |
Groeifase vanaf 12 tot 24 maande-ouderdom
Indien jong bulle reeds voor 15 tot 18 maande-ouderdom vir die eerste keer vir ’n dekseisoen gebruik word, sal hul stadiger groei as gevolg van die verhoogde aktiwiteit. ’n Goeie 2 jaar-ouderdom gewig is dan 75% van volwasse liggaamsmassa.
Vanuit ’n genetiese en ekonomiese verbeteringsoogpunt van die kudde is dit ’n goeie beginsel, omdat die generasie-interval dan aansienlik verkort word. Bulle onder twee jaar moet ook net 12 tot 15 koeie per bul gedurende die dekperiode ontvang, waar ouer bulle 25 tot 30 koeie met gemak in ’n 75-dae dekseisoen kan dek.
Jong bulle van 15 tot 18 maande-ouderdom moet ’n kondisietelling van 5.5 tot 6.5 (skaal 1 tot 9) hê wanneer die dekseisoen begin. Die bulle moet reeds minstens 60 dae voor die aanvang van die dekseisoen in die korrekte kondisie wees, aangesien dit is hoe lank dit sperms neem om volwassenheid te bereik.
Na afloop van die dekseisoen moet hierdie jong bulle steeds teen 0,75 tot 1kg per dag in massa toeneem. Voordat aangekoopte jong bulle by die koeie geplaas word, moet daar seker gemaak word dat hul rumens by veldweiding aangepas is, veral as hul ’n volvoer-rantsoen ontvang het. Verskaf ’n produksielek teen 2,5kg/bul/dag.
Die dekseisoen
Verskaf aan bulle dieselfde somer-fosfaatlek op groen somerveld weiding as wat die koeie ontvang. Fosfaatinname gedurende die somer is minimum 6g/bul/dag tot 15g/bul/dag, afhangende van weidingsgehalte en bulle se liggaamsmassa.
Na afloop van die dekseisoen
Volwasse bulle verloor tussen 50 en 100kg gewig gedurende die dekseisoen en moet ’n produksielek na onttrekking van die koeie ontvang. Verskaf op goeie-gehalte somerveld 1 tot 1,5kg produksielek en verhoog die produksielek na 1,5 tot 3kg/bul/dag op droë winter weiding.
Voorbeelde van produksielekmengsels op veldweiding word in Tabel 4 aangedui. Die hoeveelheid wissel afhangende van die bulle se vereiste groeitempo en kondisie.
Tabel 4: Produksielekke
| Menginstruksies | Produksie- lek 1* | Produksie- lek 2* | Produksie- lek 3** | Produksie- lek 4** | |
| Meester 20 | kg | 280 | 280 | **** | **** |
| ProteÏŠenlek 40 | kg | **** | **** | 100 | **** |
| Lick Mix *87 | kg | **** | **** | **** | 240 |
| Melassemeel/graan/hominy chop | kg | **** | 280 | 80 | 500 |
| Sout | kg | 50 | 100 | **** | 200 |
| P12 | kg | **** | **** | **** | 50 |
| Totaal | kg | 330 | 660 | 180 | 990 |
| Aanbevole inname/bees/dag | kg/dag | 1–2 | 2–4 | 1–1,5 | 1–1,5 |
**Winterproduksielek.
Om ’n produksielek aan ’n gekoopte bul te verskaf is ook van baie groot waarde. Die produksielek help nie net die diere om hul kondisie te handhaaf nie, maar verseker ook dat die bul meer geleidelik by sy nuwe omgewing aanpas. – Dr Vlok Ferreira, nasionale tegniese bestuurder: Herkouers, Molatek
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na Dr Vlok Ferreira by e-pos: vlok.ferreira@rclfoods.com

