Monday, December 15, 2025

Die sleutels tot vrugbaarheid is aanpasbaarheid en kondisietelling

Share This Post

Estimated reading time: 7 minutes

  • Llewellyn Angus is ’n gerespekteerde Simmentaler en Simbra-stoetteler.
  • Hy het ’n ras-tipe te ontwikkel wat hy Wisp-Will Reds genoem het.
  • Vir hom was een van die belangrikste eienskappe dat die bulle die poena-geen moes dra.
  • As jy reeds die regte tipe koei in jou kudde het, sê hy, is seleksie vir volgehoue vrugbaarheid relatief maklik.
  • So sterk voel Llewellyn oor sy teelprojek, dat hy op 19 Augustus by Daniëlsrus van sy bulletjies en dragtige verse op ’n veiling gaan aanbied.

Oor die jare het hy as geswore stoetboer die direkte verband tussen aanpasbaarheid en vrugbaarheid in beeste waargeneem. ’n Dier wat in sy omgewing aangepas is, is doodgewoon meer vrugbaar as ’n dier wat minder aangepas is. Dít, sê Llewellyn Angus van die plaas Whispering Willows in die Arlington-omgewing naby Bethlehem, het hom gemotiveer om sedert 2020 ’n ras-tipe te ontwikkel wat hy Wisp-Will Reds noem.

Llewellyn is ’n gerespekteerde Simmentaler en Simbra-stoetteler en sy Wisp-Will Simmentaler- en Simbrabeeste is landswyd bekend. Hy is twee keer as stoetteler van die jaar bekroon, een keer deur die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) en toe deur die Landbounavorsingsraad. Hy is ook ’n geregistreerde veekundige, internasionale beoordelaar en was al president van die Simmentaler/Simbra-telersgenootskap. Tans boer hy in vennootskap met sy seun, Gareth.

Aanpasbaarheid oor rasse heen

“Hoewel ek steeds ’n Simmentaler-stoetboer is, het ek besef dat die eienskappe wat aanpasbaarheid bepaal in baie rasse lê en dat daar ’n groot geleentheid bestaan om daardie eienskappe op verskillende plekke te gaan haal en in een kudde vas te lê. Op grond hiervan het ek bulle uit Beefmaster-, Droughtmaster-, Santa Gertrudis- en Bovelder-geledere geselekteer wat na my mening daardie primêre eienskap van aanpasbaarheid besit.”

Vir hom was een van die belangrikste eienskappe dat die bulle die poena-geen moes dra, want hy glo die eienskap gaan toenemend belangrik raak.

“Hierdie bulle het ek toe op my gederegistreerde Simbrakoeie gebruik. Oor die jare het ek reeds ’n baie goeie, aangepaste Simbrakoei geteel wat vir my die regte tipe was. Hulle eienskappe is medium-raam (rondom 500 tot 550kg), kalwingsgemak, goeie groei en bogemiddelde speengewigte met goeie temperament. My mikpunt was verder dat ’n koei haar kalf teen ’n gewig van baie naby aan 50% van haar eie liggaamsgewig moet speen. Dan het jy die regte dier vir jou omgewing.”

In die bulle het hy gesoek na ’n vroegryp-tipe, baie manlike bul met goeie bespiering, goeie skrotumomtrek en verdonkering wat goeie hormoonbalans aandui. “Hormoonbalans is uiters belangrik. Johan Zietsman het gesê vrugbaarheid is die funksie van liggaamskondisie en hormoonbalans. Dit som presies my teeldoelwit in hierdie projek op – ’n dier wat goeie kondisie handhaaf met goeie vetbedekking, terwyl die vroulike diere uiters vroulik vertoon en die manlike diere uiters manlik.”

Rooi beeste

Dis hierdie eienskappe wat hy in ’n rooi bees wou vaslê om sodoende die groter mark in Suid-Afrika te bereik. “Ek het dus bulle van die regte ras-tipe geselekteer om op my Simbra-tipe koeie te gebruik.”

Wat interessant is van sy bulseleksie, is dat almal uit sintetiese rasse was. “As jy kruisteling wil toepas om heterose te bewerkstellig, gebruik jy suiwer rasse wat geneties ver van mekaar verwyder is. As jy egter ’n spesifieke tipe wil vaslê, kyk jy na tipes wat nie so ver van mekaar verwyder is nie, en selekteer die spesifieke eienskappe waarna jy soek. Ná vyf jaar begin ek klaar goeie eenvormigheid sien.”

Hierdie twee-jaar-oue WW Red-bulletjie verteenwoordig die tipe waarna Llewellyn streef – ’n medium-raam dier wat maklik vleis aansit, nie te grof of te fyn van been is nie, met genoeg bespiering en duidelike manlikheid.

Waarteen hy egter streng gewaak het was uitermatige, droë bespiering. Liggaamskondisietelling, insluitend genoeg onderhuidse vet, is ’n belangrike eienskap, nie net vir aanpasbaarheid en vrugbaarheid nie, maar ook vir doeltreffende afronding in die voerkraal.

“In hierdie konteks is die dubbelbespieringsgeen (miostatien) natuurlik ter sprake, en ek het streng daarteen gediskrimineer. Ek het al die bulle wat ek gebruik het getoets en gelukkig het geen bul tot dusver positief getoets hiervoor nie. Ek dink die tipe waarna ek soek diskrimineer van nature teen dubbelbespiering.

“Daar is twee redes vir my teenkanting: Die eerste is dat droë bespiering ongewens is, maar tweedens is die bestuur van die dubbelbespieringsgeen in ’n kudde baie moeilik en dit kan potensieel gevaarlik wees, hoofsaaklik ten opsigte van kalwingsprobleme.”

Volgehoue vrugbaarheid

As jy reeds die regte tipe koei in jou kudde het, sê hy, is seleksie vir volgehoue vrugbaarheid relatief maklik. “Die meting van jou bulletjies se skrotumomvang op tussen 12 en 14 maande is baie belangrik. Jy merk daardie bulletjies met ’n noemenswaardig groter skrotumomvang as die gemiddeld in daardie groep op ’n vroeë ouderdom.

“ ’n Mens vind dikwels dat die ander bulle teen die einde van die veldtoets ingehaal het. Dit beteken dat hulle later seksueel volwasse word. Hulle is minder gewens as die bulletjies wat reeds op ’n vroeë ouderdom ’n groot skrotumomvang het. Jy sal ook vind dat hierdie bulle sommer vroeg al baie goeie manlikheid vertoon, maar natuurlik diskrimineer jy teen die ponie-tipes wat ook in hierdie groep kan wees.”

Wat vroulike diere betref, sê hy, laat jy hulle deur die veearts ondersoek vir goed-ontwikkelde inwendige en uitwendige geslagsorgane (tract score), en haal daardie verse wat laag punt summier uit. By bulle én verse selekteer hy dus vír vrugbaarheid en nie téén onvrugbaarheid nie.

 ’n Groepie WW Red-verse van 17 maande, gereed om bul toe te gaan.

Veldbultoetse se waarde

Omdat hy nie in hierdie projek deel is van ’n ras-organisasie nie, kan hy nie teelwaardes vir sy diere genereer nie. Dit, gee hy toe, sou die ideaal gewees het. Wat hy wel doen, is om sy bulletjies aan ’n veldbultoets te onderwerp.

Veldbul SA se veldbultoets is ongelooflik belangrik in my projek. Al die eienskappe wat ek as noodsaaklik beskou, word in die toets gemeet. Dit sluit liggaamskondisietelling, skrotumomtrek, haarkleed en korrekte bespiering in. Hoewel groei ook getoets word en belangrik is, weeg dit nie die swaarste nie. Die toets is aanpasbaarheids- en dus vrugbaarheidsgeoriënteerd. Vanuit ’n ekonomiese oogpunt is vrugbaarheid vyf keer belangriker as groei, en tien keer belangriker as karkaseienskappe.”

Merkbare verbetering

In die vyf jaar van ontwikkeling van die Wisp-Will Red-rastipe, sê Llewellyn, kan hy reeds ’n verbetering in vrugbaarheid waarneem.

“Waar ek voorheen dragtigheidspersentasies van tussen 85 en 90% gekry het, vind ek dat die tweede generasie WW Red-verse gemaklik in die 90% draai. Ek kry hulle makliker dragtig, met ’n groter persentasie verse en koeie wat vroeër in die dekseisoen beset raak. Dit stel my in staat om die diere wat later dragtig geraak het te verkoop, indien nodig, en dus groter druk op my seleksie vír vrugbaarheid te plaas as seleksie téén onvrugbaarheid.”

Dis natuurlik moontlik, gee hy toe, dat hierdie resultate toegeskryf kan word aan basterkrag in sy F1-verse, maar hy vind presies dieselfde met die F2’s, wat vir hom ’n aanduiding is dat sy seleksieprogram wel suksesvol is.

Wat speengewigte betref sien hy nie ’n noemenswaardige verskil tussen sy WW Red-kalwers en die Simbra-tipes in sy kommersiële kudde nie. Die verskil is dat sy WW Red-koeie kleiner is (tussen 450 en 500kg), maar steeds 50% van hul liggaamsgewig speen. Dit beteken dat hy meer koeie/ha kan aanhou en dus meer kilogramme vleis/ha kan produseer.

“Uiteindelik wil elke produsent met ’n maklike bees boer – maklik om mee te werk, met min kalwingsprobleme, wat nie baie parasietbeheer verg nie. Dit is wat ek aan my medeprodusente wil bied: My bulle se nageslag, ongeag op watter tipe koeie hulle gebruik word, moet waarde toevoeg. In die geval van bulletjies moet hulle genoegsaam groei om winsgewend aan die voerkraal verkoop te word. In die geval van vervangingsverse moet hulle uiters vroulike, vrugbare koeie word wat liggaamskondisie behou sonder ekstra voer.”

So sterk voel Llewellyn oor sy teelprojek, dat hy op 19 Augustus by Daniëlsrus van sy bulletjies en dragtige verse op ’n veiling gaan aanbied. Hy gaan die veiling in samewerking met sy vrou, Jenet, self ’n gerekende Simbrateler, aanbied. Sy bedryf die Zarissa Simbrastoet by Ficksburg. – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Vir meer inligting, skakel Llewellyn Angus by 082 805 5101, of besoek www.wisp-will.co.za.

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 49 of 2025

The weekly pork carcass prices are brought to you...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a wholly...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not as...

Bloednier: Die stille moordenaar onder kleinvee

Estimated reading time: 4 minutes Om vroeg in die oggend...